Wysheid en grond

Wysheid en grond
Foto deur Pawel Czerwinski / Unsplash
ANGELA TUCK

Land deur Maggie O'Farrel

O'Farrel se roman Hamnet was 'n topverkoper. Sy is 'n Ierse skrywer wat in Skotland woon. Sy weet hoe om 'n komplekse verhaal te weef wat so ryk en geskakeerd is soos die Ierse landskap, so digterlik soos Gaelies, met karakters wat deel word van jou bewussyn.

Dit begin stadig en woordryk en jy moet skouer aan die wiel sit. Dit speel grootliks op 'n skiereiland af. Liam se pa Tomas is 'n landmeter-kartograaf en werk teen wil en dank vir die Britte, wat koning kraai in Ierland en neersien op die plaaslike bevolking. Hulle woon in kastele en verhuur die Iere se land terug aan hulle.

Tomas het grootgeword tydens die Groot Hongersnood. Daar was 'n pes wat die aartappels verwoes het en vir die Iere was daar niks om te eet nie, want ander gewasse soos rys en koring het die Britte Engeland toe gestuur. Hulle het in hordes gesterf van die honger. Langs die pad was heuwels wat uit liggame bestaan het. Weeskinders soos Tomas het gebedel en gras geëet. Boonop het 'n nare ding gebeur wat 'n letsel op sy lewe gelaat het: Sy pa was verantwoordelik om die landheer se varke te voer. Toe sy pa siek en verhongerd raak, ly die varke ook honger en skree. Toe sy pa sterf, begrawe Tomas, nog 'n seun, hom en ander familielede wat van honger omgekom het, in 'n graf in die tuin. Die grond is koud en hard en die graf was vlak. In die nag het die varke uitgebreek en deur die venster sien hy een hardloop met sy pa se arm in sy bek. Vir die res van sy lewe spook sy pa by hom. Hy verskyn skielik en vra: "Waarom het jy die graf nie dieper gegrawe nie?"

Tomas beland in 'n werkkolonie waar kinders uitgebuit word; soos slawe werk en hongerly. Hy slaag daarin om te ontsnap en 'n meisie van wie hy hou te red. Sy word sy vrou, Seraphina.

Dit alles speel nie chronologies af nie, hoofstukke beweeg vorentoe en agtertoe en die hele prent word algaande duidelik. In die hede is Tomas kaartmaker, met sy vermoë om te teken en mooi te skryf, om berekeninge te maak. Hy word maar min betaal deur die Britte, wat hulle name onder sy kaarte skryf.

Op 'n dag ervaar Tomas 'n Damaskus-oomblik. Hy kom af op 'n fontein, 'n oog, 'n klein, ronde, diep watermassa tussen bome. Dit word op geen kaart aangedui nie. Dis stokoud en heilig. Hy sien sy pa en beleef sy pa se ontevredenheid met sy werk as handlanger van die Britte. Hy strompel daar uit as 'n nuwe man; iemand wat onophoudelik praat. Hy is vasbeslote om nooit weer vir die Britte te werk nie en die oorspronklike kaarte te teken, met plekname in Gaelies.

Van daar begin dinge skeefloop vir sy gesin. 'n Priester is vasbeslote om Tomas te genees en 'n demoonuitdrywing op hom te doen. Die priester maak nie hond haaraf met die koppige man nie en besluit dan om sy seun, Liam af te rokkel. In plaas van kaartmaker soos sy pa word Liam 'n priester.

Jy moet self lees van hierdie gesin se wedervaringe, dikwels hartverskeurend. Ek gee jou 'n lusmakertjie. In hierdie toneel speel Tomas se dogter Enda op die viool:

And this tune! Its mournful, lilting strains, its minor chords that rise and fall, the drone of the next string that must lie underneath it. Eda feels the notes vibrate through her, down her veins, through her bones, and in her head blossoms a vision of the peninsula - field-boundary walls that undulate over every bluff and hollow, the water lilies that crowd into wet ditches in early summer, the surface of the lough that quilts itself in a breeze, the cows that turn their large eyes upon you, the darkness that rises up from the hills at dusk. The music she plays is the land: it summons it; it conjures it here, to this street corner.

Dis 'n lieflike roman wat die leser laat nadink oor die onderdrukking van vroue en kinders, van volkere, oor die wreedheid van die mens teenoor die mens. Oor die wreedheid van die Britte. Ek beveel dit hoog aan.

Land deur Maggie O' Farrel is deur Tinder Press uitgegee en kos R316 by Graffiti.

A Song That's Yet Unsung deur Nianell

Ek weet nie of jy hou van motiverings- of inspirerende boeke nie. Ek is geneig om die lewe self te wil uitpluis soos ek aangaan, maar almal het soms ’n handleiding nodig. Ek lees wel graag oor mense se lewens. Ek verkies memoires wat pynlik eerlik is eerder as beeldpoetsery. Nianell se A Song That’s Yet Unsung is só. Dis ’n spirituele reis wat uitwys hoe min ons kan weet en hoe bevrydend dit is om te hensop, te laat gaan.

Nianell se lewe was op die oog af na aan perfeksie met ’n suksesvolle loopbaan en ’n liefdevolle gesin. Toe rafel die borduursel uit, soos dit maar gaan. Sy verlooor haar ouers, haar huwelik eindig in 'n egskeiding, sy ervaar verwerping van die publiek en geliefde vriende en haar kinders spat uiteen. Al haar sekerhede word vernietig.

Dis asof haar vorige memoires, Knowing Who I Am, die gode jaloers gemaak en Job se beproewings op haar laat neerreën het. Want kan ’n mens ooit weet wie jy is en seker wees dat jy gearriveer het?

In hierdie boek wys sy die leser hoe om identiteite en gemaksones vaarwel te roep en jouself te verstaan as ’n werk in wording. Om te weet dat om te lewe nie beteken om kennis in pag te hê nie, maar om oop te wees vir moontlikhede, om te verander. Om jou lewe te navigeer sonder padkaart en wegwysers, om sekerheid te laat vaar en die eindelose potensiaal van die onbekende te omhels.

Ja, dis geestelik en soms soet, soos Nianell, maar dis rou en eerlik en die leeservaring word begelei deur haar musiek: Daar is QR-kodes wat jou lei na haar songs, want ons almal lees met ’n selfoon in die hand. Dis ’n musikale reis vir soekendes en diegene wat alles verloor het. Ons was al amal daar en dis gaaf om te weet ’n nuwe begin en onverkende horisonne wink as jy jou sekerhede laat gaan en nie soos in Eliot se Preludes vasklou aan “certain certainties” nie.

A Song That's Yet Unsung deur Nianell is deur Nianell uitgegee en kos R350 by Takealot.

The Lake Isle of Innisfree

I will arise and go now, and go to Innisfree,
And a small cabin build there, of clay and wattles made;
Nine bean-rows will I have there, a hive for the honey-bee,
And live alone in the bee-loud glade.
And I shall have some peace there, for peace comes dropping slow,
Dropping from the veils of the morning to where the cricket sings;
There midnight’s all a glimmer, and noon a purple glow,
And evening full of the linnet’s wings.
I will arise and go now, for always night and day
I hear lake water lapping with low sounds by the shore;
While I stand on the roadway, or on the pavements grey,
I hear it in the deep heart’s core.

William Butler Yeats


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe