Goeie heiden

Liewe vriende
Ek lees Maggie O'Farrel se nuwe roman, Land. Aan die hart van die verhaal is 'n fontein, nee, 'n oog, 'n oorsprong, 'n klein ronde, onpeilbaar diep en misterieuse put tussen digte bome. Tobar is die woord in Gaelies. Die leser beleef hierdie magiese nawel in die landskap deur millennia heen. Daar is 'n sekere teenwoordigheid; iets onheilspellend, iets verleidelik. Mense het deur die eeue kosbare besittings daarin gegooi met allerlei pleitbedes om genees te word van droefenis en krankheid.

Ek het al sulke plekke geken, waar die landskap 'n natuurlike katedraal maak, waar jy jou skoene wil uittrek en stilbly, met wye oë. Waar wildheid en kalmte tegelyk van jou besit neem.
Toe ek klein was, lank voor Sondagskoolklasse oor die bloedige offerandes van die Israeliete, het ek 'n ritueel gehad: Wanneer my ma eiers gebak het, het ek die doppe na 'n klein bamboesbos agter die huis geneem. Dit was skemerig, selfs in die dag, en het na paddastoele en grond geruik. Ek kon voel dat dit heilig was. Dan het ek, aanbiddend, die slymerige eierwit wat nog oor was in die doppe aan 'n groot groen bamboesstam gesmeer tot dit blink. Ek het daarna die doppe fyngemaak en met die grond gemeng. Niemand het my nog vertel van kompos nie. Of dat eiers vrugbaarheid, nuwe lewe en wedergeboorte simboliseer nie. Dit was 'n offer, heidens en natuuraanbiddend. Dit het van êrens binne my gekom. Dit was 'n geheim.
Later is ek netjies gekersten en van my aanbiddende verwondering genees, maar daar het iets paganisties in my oorgebly. Toe ek jonk was, het ek eenkeer aan 'n vriendin geskryf ek is lus om my bose natuur te omhels en een groot en genoeglike sonde te pleeg. Die brief was nog in my skryfblok toe lees my vroom en nuuskierige predikantsvrou-tante by wie ek geloseer het dit en deel haar kommer oor my met die familie.
Voor ek skool toe is, nadat ek gemolesteer is, was daar dwanggedagtes wat oor en oor deur my kop gemaal het. Ek het myself daarvan genees deur iets op te gee: 'n soet pienk blommetjie wat ek graag gesuig het. Waar die lelieblom kan wees wat haar hart van pyn genees. My oudste dogter het, voordat sy kon praat, vir ure in die tuin met die blomme gestaan en brabbel en beduie. Later het sy my vertel sy was 'n rolprentmaker wat die plante geregisseer het.
In moeilike tye in my lewe het ek die natuur opgesoek. Toe ek in Melkbosstrand gewoon het en werks- en finansiële druk ervaar het, het ek een keer vier dae verlof geneem en elke dag in die yskoue Atlantiese oseaan in poele gestaan en perlemoenskulpe, ronde klippe en seepampoentjies bymekaarmaak. Dit het my gekalmeer en gefokus.
Ná my egskeiding het ek soms vir 'n dag lank in 'n skemer woud op dennenaalde gaan lê. 'n Liewe vriendin het my afgelaai en teen laatmiddag (dit was voor selfone) weer kom oplaai. Daar was engele in die woud, want ek is nooit aangeval of vermoor nie.
Ek het 'n magdom skatte agtergelaat in my jare van omswerwing, soveel klippe, skulpe, dryfhout en flambojante vere.
Op die N4 tussen Pretoria en Cullinan by Donkerhoek is daar langs die pad, agter bome, 'n ent met die skuinste op, 'n fontein wat mense soos 'n magneet aantrek. Daar is altyd 'n paar motors geparkeer en mense wat te voet daarheen aansuiker, met flesse en bekers. Die fontein het glo helende water. Ek het dit gegoogle:
Dis heilige water vir die Zion Christian Church. Water uit 'n fontein of waterval word genoem metsi a leshata (raaswater). Daar word oor die water gebid en dit word gebruik om mense te was of die omgewing te besprinkel. Dit genees en raak ontslae van demone en bose geeste.
As jy sinies kopskud, onthou die Bybelse Bad van Betesda. Hier het 'n groot menigte siekes gelê en wag dat 'n engel die water roer. Die eerste persoon wat daarna inspring, sou genees word.

Ons trek see toe. Uiteindelik gaan ek terug na die plek wat ek as kind onmiddellik herken het. Ek het die lug ingeasem en gewonder waarom enigiemand in die binneland sou wou woon. Ek hou van tierende wind en donderende branders. Die elemente geval my geweldig. Ook vuur en grond.
Ek gaan minder bereikbaar wees. 'n Mens moet jou selfoon by die huis los as jy met die natuur wil kommunikeer. Nou-nou kom daar 'n rits groep-WhatsApps deur terwyl 'n engel die water roer. Of die son in die see verdwyn.
Ek hou dit kort, soos die oomblik voor sonsopkoms.
Wilde liefde
Deborah

Oor God is kwalik iets te sê wat wind
nie al in dennebome kon bely.
My harsreuk hou ek eers terug, intiem,
versigtig om nie aan die dweep te gaan
nie, psst, kom hier, psithuries praat ek
sodra die wind begin te stu, betuig
ek kapillêr gesuig my godsbesef.
Die boom is reg vir sing. Kom skepperwind
wat waai waarheen hy wil, raak elke naald
sorgvuldig aan – waar hars van vol is loop
die huidmond weldra oor – en juigend ruis
van tak tot tak fugaal ʼn lofgesang.
Wat denneboom en wind nie kan verwoord
oor God bly polifonies ongesê.
Johan Myburg
Uit: Steierwerk