Die gypsy in jou oë

Liewe vriende
Gisternag lees ek op sosiale media van 'n Afrikaanse aktrise/komediant wat in onguns verval het. Mense het by haar laaste optrede hulle geld teruggevra oor vuige taal en kruheid. Hulle het ook gekla dat haar pruik en rok maar goedkoop gelyk het en sy gesukkel het om haar woorde te onthou. Opeens trek my hart saam. Mense, hierdie kunstenaar het vir dekades alles gegee en wil dit graag aanhou doen.
Iemand anders, 'n 70-jarige nagtegaal wat ek bewonder, het geval. Ons loop die pad al lank, my lam. As een val, val ons almal. Ons glo ons het nog 'n paar opstane in ons. That the show will go on. Dat jy weer sal dans soos 'n vlam oor die vloer.
Alle skeppende mense is in murg en been sigeuners. Dit gaan nie oor geld nie. Ja, ons moet lewe. Maar ons beloning is die gehoor, die liggies, die langpad. Blinkertjies en adrenalien. Toe ek 'n student was, het my dramaprofessor by geleentheid steeds opgetree. Voor 'n show het hy swetend en bewend van plankevrees in die koulisse gestaan en prewel: "Us singing fóóls."
Ja, ons is gekke. As 'n mens sing en skep, loop jy altyd die gevaar om uit die mode te raak. Gister se smaak, verlede jaar se treffer. Yesterday's hero. Soos WB Yeats geskryf het:
I loved long and long,
And grew to be out of fashion
Like an old song.
Komediante kom en gaan. Wat tien jaar gelede snaaks was, is nou onvanpas en polities inkorrek. Toondoof. Reisigers en entertainers moet hulle vinger op die pols hou. Hulle moet die tydgees opweeg en tendense analiseer. Smake bepaal. Jy moet bo-op die golf bly balanseer.
Soms word jy bloot te oud om jou truuks uit te voer. Jou wielsporing is uit en een heup pla. Jy is 'n afgeleefde sigeuner. Jou pruik word yl soos 'n aasvoël se nek en die blinkers skif van jou rok af. Verhooggrimering bloei in jou plooie in. Jy's 'n gypsy verby jou rakleeftyd.
Dit is oneindig hartseer, daardie gevoel van "now the carnival is over". Stalletjies wat afgeslaan word, tente wat ineenstort. Spookasem wat verslaan. Ou hansworse hoef nie meer 'n rooineus op te plak nie, hulle neus lyk reeds so. Hulle struikel oor hulle groot skoene en drink hulle brannas met trane. Skink vir die harlekyn nog wyn.
Sommige mense is waarlik tydloos, wil dit voorkom. Ek dink aan Leonard Cohen wat om den brode moes aanhou sing en optree. Ons het hom in Manchester gesien, in sy tagtigs, en hy het vir ure gesing en dans soos 'n jong man; viets en elegant in driestukpak en das. I'll wait for you in Vienna, I'll be wearing a river's disguise. The hyacinth wild on my shoulder, my mouth on the dew of your thighs. Ten spyte van: Well my friends are gone and my hair is grey. I ache in the places where I used to play.
En: Soos Breyten Breytenbach, wat ook uiteindelik in Parys geval het:
Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos 'n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos 'n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van die vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie
Hulle woorde en musiek droog nie op nie, hulle vertrek net na die skouburg in die lug en laat rooi sandale op 'n eenvoudige kis agter.

Soms, soos laasnag, lê ek lank wakker oor almal wat afgelê is, in onbruik verval het, oorbodig geraak het en nie meer in aanvraag is nie. Die onaanstelbares. Die grapjasse sonder gehoor. Voormalige musieksterre wat in meubelwinkels sing. Die blitsverkoper-outeur wie se boeke nou op die rak bly staan. Dié wie se drome hulle oorleef het. Sulke gedagtes is veels te droef om op te los in slaap.
Die ideaal, die haas onmoontlike droom, is om in die tuig te sterf. Om te vermaak en te begogel tot die einde. Soos Maggie Smith. Dis vir min beskore. Ou akteurs is aangewese op die Teaterbystandfonds en die barmhartigheid van vriende. Die kollig het verdoof en al wat oorbly, is saagsels.
Die kunstenaar en sigeuner se lot is elke mens s'n, dit speel net meer dramaties uit. Om jou plek in die wêreld te verloor, die holte vir jou voet op te gee, terug te keer na 'n grys koshuis met reëls en ondergemiddelde kos. Miskien is dit selfs erger wanneer jy gewoond was aan vliegtuie, hotelle, ouditoriums en aanbiddende gehore. Nou is jy net Gogo.
Jammer vir die gemoedsbekakking, vriende, maar ondersteun ouerwordende sigeuners, asseblief. My kuns is nie uitvoerend nie, so ek sal aanhou skryf en hoop om gelees te word solank my oë en vingers hou. My gehoor is onsigbaar en bestaan waarskynlik net in my kop.
Maar: I recall a gypsy woman ... fancy shoes that dance in time. Of, soos ons dit altyd verkeerd gehoor het: Fancy shoes, the dancin' type.
Liefde
Deborah

Watter danige lieflikheid was ons?
Stil soos 'n begrafnislys word alles nou
'n Voël voor die deur bly roep na jou
Vertalings vertolkings steeds bevestig jou
in drome bly alles tussen prente vol berou
Beter goed gejat dan slecht bedacht
die hase met miximatosis is verdag
Ek speel voyeur en selfs luistervink
opgegfoes verfrommel verniel vermink
Die meeste sterre het lankal ingeplof
ja iewers iewers skryf ons na in stof
Joan Hambidge
Uit: In memoriam Johann de Lange
.