Wen en verloor

Liewe vriende en medelesendes
My eksman het destyds by sy werk ’n kursus voltooi en ’n diploma in “faultfinding” verwerf. "Dis die heel laaste ding wat jy nodig gehad het," het ek vir die hiperkritiese Oostenryker gesê.
Pippie Langkous was ’n dingsoeker, onthou ek. Maar ’n foutsoeker is ’n lelike ding.

Ek was ook 'n foutvinder. Van kleins af het ek presies geweet waarvan ek hou en nie hou nie, en waarom. En ek het ’n sterk kompulsie om my mening met ander te deel. Toe word ek ’n resensent.
Toe ek jonk was, was ek heethoofdig en verdoemend in my uitsprake. Jy hou nie terug nie. Enigiets wat volgens jou benede die verwagte standaard is, word verbrysel, uit die lug geskiet soos ’n duif. Teks wat jou kwaad maak ontlok jou pittigste tewerigheid. Jy raak van al jou frustrasie ontslae in ’n resensie.
Nie meer nie, hoor. Nou is ek versigtig, noudat ek meer van die wêreld gesien het en die skryfbedryf van alle kante dopgehou het. (I’ve looked at clouds from both sides now.) Ek was al skrywer, boekverkoper, uitgewer, teksredakteur en resensent. Ek weet hoe vol gebreke selfs die fabelagtigste roman is. Ek weet jy kan enigiets op aarde uitmekaartrek soos ’n vinkwyfie haar nes, as jy wil. Ek weet hoeveel eensame ure, hoeveel pynlike delwery, hoeveel verstandelike inspanning en verbeelding dit verg om ’n roman te skryf. Ek ken soveel skrywers en weet hoe hulle pendel tussen ekstase en wanhoop.

Vriende, ek het genadig geraak. Wanneer ek nou ’n resensie skryf, hou ek die genre en teikengehoor in die oog: Jy kan nie ’n liefdesverhaal of misdaadroman oor dieselfde kam skeer as ’n letterkundige werk nie. Ek kyk na die skrywer se oeuvre. Ek konsentreer op dit wat wérk. Ek resenseer eenvoudig nie romans wat so gaterig of pretensieus is dat hulle my kwaad maak nie.
Ek weet nie of dit van my ’n swakker resensent maak nie. Miskien begin ek roei in die vaarwater van die smaakmakers. Ek wil net so graag hê boeke moet verkoop en mense moet lees.
Dan lees ek ’n laaaang resensie soos Craig Raine s’n oor Saul Bellow se More Die of Heartbreak, ’n roman wat in ’n sekere stadium dawerend by my geresoneer het. Bellow is in 1976 bekroon met die Nobelprys vir Letterkunde.
Raine wals terug tot by Dickens, Wordsworth, Virginia Woolf, Oscar Wilde, Auden, Eliot, Hopkins, Tennessee Williams, Arthur Miller en Nabokov. Onder andere. Hy verwys na Bellow se ander, volgens hom meer suksesvolle romans. Hy wys daarop dat Bellow nie ’n verbeeldingryke wewer van storielyne en idees is nie, maar teer op jeugherinneringe, party waarvan in verskillende boeke herhaal word:
In fact, though they are quite numerous, these repetitions can usually be discounted because Bellow’s memory-hoard is so fecund. There is always plenty that is new ... Likewise the drawbacks of Bellow’s fast-talking prose, which, though generally effective, can sometimes produce redundancies worthy of a freak show: ‘Wilhelm let out a long, hard breath and raised the brows of his round and somewhat circular eyes.’ Yet, set beside Bellow’s wonderful dialogue, glittering with redundancy and anacoluthon, does the odd failure matter? ... We say, yes. And then again, we say no. The new novel, More die of heartbreak, is ruined by repetitions and echoes of earlier work, since there is scarcely any redeeming specificity to compensate, nor any form to speak of. It is a dismally thin performance. The characters are the merest tokens.
Ensovoorts. Anacoluthon, in geval jy nie die krag het om dit op te soek nie (ek het) beteken 'n sin waarvan die woordorde omgekeer of onverwags is. "Reg voor die venster het sy gestaan."

In die resensie van meer as 5380 woorde vir London Review of Books word More Die of Heartbreak genadeloos aan flarde geskeur as Bellow se nabootsing van homself.
Craig het op my radar verskyn danksy die hoog en wyd belese Joan Hambidge. Toe 'n gerespekteerde akademikus ’n verdoemende resensie oor ’n Afrikaanse outeur se jongste roman skryf, wou ek Joan se mening hoor. Sy reken ’n mens staan maar net op en gaan aan. Jy vertolk dit nie persoonlik nie. Jy probeer daaruit leer. Sy vertel Saul Bellow het ’n afspraak gehad om Craig Raine te ontmoet. Bellow het hom respekteer as digter en kritikus. Maar toe verwys Raine in ’n resensie na Bellow se skryfwerk as “winsome”. Wat beteken winsome? Dis min of meer bekoorlik op ’n soet, naïewe manier. Bellow reageer en kanselleer die afspraak met ’n nota: “You win some, you lose some.”

Om te skryf is ’n onuitspreeklik eensame reis. Jy voel soms van mens en dier en God verlate. Ek lees in Allen Grootboom se roman Die vuur huil:
Want uit sy oudsherse Namakwageweste duik ’n woord op vir hierdie soort eensaamheid: tkoe-ie. En dis nie gewone allenigheid nie; tkoe-ie is ’n verlatenheid wat seermaak. ’n Desolate troosteloosheid.
Wanneer die vrug van jou eensaamste ure later losgetorring en te lig bevind word, bevraagteken jy jou menswees. Skrywers het al ophou skryf uit desolate troosteloosheid.
Tkoe-ie.
Stof jou af en klim terug op die mallerige perd.
Liefde
Deborah

overberg-agtermiddag
daar is 'n uur in die middag
wanneer niks beweeg nie
maar alles met een asem ruis:
die wasgoed aan die draad
die witgebleikte bloekomtakke
dan voel my lyf na meer as myne
na iets aan my geleen
vir loop vir kyk vir stilstaan
vir opstaar na 'n lug vol swaels
ek kyk na skape en hawerbale
'n dam vol trae herhalings
ek hoor skape snuif
en die droë wit skuif
van wol teen doringdraad
ek wens ek kon wys
hoe loom die middag lê
ek wens daar was 'n skerper woord
vir 'n koel wand van heuwelskaduwee
vir bas wat skilfer tot silwerrooi
vir hoe ligdronk aasvoëls staan
Tom Dreyer
Uit: Brief op veertigduisend voet