Morsige menslike drama

Morsige menslike drama
Foto deur Declan Sun / Unsplash

Read the article in English here.

Ek het drie huishoudelike noirs gelees wat ook misdaadromans is. Die genre-indelings vervaag toenemend – noirs bevat misdaad en misdaadromans bevat morsige menslike drama. Wat my altyd aan die lees hou is karakters en die verhoudings tussen hulle.

Esther is now following you deur Tany Sweeney

Hierdie roman oor 'n bekruiper laat jou nekhare orent staan. Esther is Iers maar woon saam met haar man, Johnny, in Londen. Hy is 'n doodgawe ou, die soort man met wie die meeste vroue tevrede sou wees – hy aanbid haar, werk hard, drink min en sal 'n uitstekende pa wees. Maar dan verloor sy hulle baba op vier maande en haar hele lewe plof in. Die leser leer eers later die volle implikasie en besonderhede van wat gebeur het. Die tragedie laat hulle uitmekaardryf.

Esther haat haar werk as datavaslegger. Sy tik heeldag onverstaanbare kodes in 'n rekenaar, sy is nie seker waarvoor dit is of wat dit beteken nie. Skielik voel alles betekenisloos, ook haar huwelik. Sy fikseer op Ted Levy, 'n Kanadese rolprentster wat sy toevallig in 'n park in Londen raaksien: Hulle oë maak vlugtig kontak.

Sy word 'n superfan wat hom dag en nag op die internet bekruip en gebruik geld wat sy van 'n oom geërf het om Kanada toe te vlieg, sonder om haar man in te lig. Sy het reeds aanlyn begin gesels met Ted se halfsuster, Naomi, 'n terapeut wat 'n man en twee kinders in 'n ongeluk verloor het. Hulle bond oor verlies. Natuurlik probeer sy hoog en laag om 'n ontmoeting met Ted te bewimpel. Naomi weet nie dat sy gebruik word nie.

Esther kom wel van aangesig tot aangesig met die man van haar dagdrome, maar alles rafel stelselmatig uit. Sy het lankal haar vriende en man verloor en ook haar trots. Naomi skimp gedurig dat sy ander blyplek moet kry, maar sy klou soos 'n neet. Esther ontmoet Ted se supermodel-girlfriend, maar bly steeds glo dat hulle bestem is om saam te wees.

Dis soos 'n nagmerrie waaruit 'n mens nie kan wakker word nie. Jy is jammer vir Esther, wat met soveel onverwerkte rou saamleef en wie se kop so lelik uithaak. Jy voel later skuldig en skaam namens haar. Sy het geen remme nie. Dit laat jou nadink oor die gevare van sosiale media en die prys van roem.

Esther is now following you deur Tanya Sweeney is deur Transworld Publishers uitgegee en kos R405 by Exclusive Books.

Dear Debbie deur Freida McFadden

Freida is 'n masjien wat huishoudelike noirs uitdraai, 'n paar per jaar. Sy is 'n meesterstorieverteller.

Dear Debbie is sekerlik hoeka lankal nie meer haar jongste nie. Daar mag 'n resepmatigheid insluip, maar ek verslind steeds elke McFadden.

Debbie is 'n troostannie vir 'n koerant. Haar raad is op die vrou af, reguit en soms kontroversieel, gepeper met humor. Die leser leer Debbie uit haar raad en uit haar optrede teenoor haar gesin ken. Sy is hiper-intelligent, aandagafleibaar en intens. Sy is 'n fixer en sy stuit vir niks. Haar tuin is vol kleurvolle en dodelike blomme; 'n soort opiumpapawer wat sy windblomme noem.

Dan word sy afgedank oor die raad wat sy aan 'n vrou gegee het om sonder meer van haar man ontslae te raak. Nou is sy verveeld en geld begin knyp. Sy het 'n selfoon-app ontwikkel om tred te hou met haar man en dogters se doen en late.

Haar dogters is tieners en die verhouding is problematies. Die oudste het 'n nikswerd boyfriend wat dreig om naakfoto's van haar te versprei. Die jongste het 'n problematiese sekspes van 'n sokkerafrigter. Debbie maak korte mette van albei en ook sommer van haar man se moeilike baas, wat weier om hom vennoot te maak, al is hy die ruggraat van die maatskappy.

Daarna kan sy goedsmoeds aangaan met haar lewe. Dis 'n heerlike vigilante-fantasie met 'n lekker kompromislose verteller.

Dear Debbie deur Freida McFadden is deur Sourcebooks uitgegee en kos R225 by Graffiti.

The Barbecue at No. 9 deur Jennie Godfrey

Hierdie is een van daardie noirs wat in 'n "close" afspeel - 'n omheinde kompleks met identiese huise. Die leser leer 'n hele versameling karakters ken, die inwoners van die huise wat in 'n perdeskoen gerangskik is. Voorin is 'n tabel met 'n afbeelding van die huise en wie in watter nommer woon. Aan die begin moet 'n mens dit gedurig raadpleeg.

Die gesin waarop die meeste gefokus word, is die een in nr. 9, soos die titel aandui. Die Gordons. Die ouers stry gedurig en traumatiseer hulle twee kinders, 'n tienerdogter, Hanna, en haar sensitiewe jonger boetie, David. Die leser vind lank voor haar ouers en bure uit dat Hanna swanger is. Sy steek dit weg. Soos wat jy die inwoners leer ken, vermoed jy om die beurt 'n paar van hulle van vaderskap.

Die Gordons hou 'n braaivleis - wat hulle 'n braai noem, eintlik maar patties en worsies wat verkool word. Dis 1985 en die dag van die historiese Live Aid-konsert. Die hele kompleks is uitgenooi. Die roman speel eintlik in een dag af, die dag van die groot braai. Natuurlik is daar terugflitse na die gekompliseerde lewens van die inwoners van die kompleks.

Soos wat die kunstenaars op die verhoog verskyn op TV, word alles op die spits gedryf en dit is duidelik dat die waarheid gaan uitkom.

Soms raak dit vir my 'n bietjie kloustrofobies; 'n hele roman wat in een wooneenheid en in een dag afspeel. Die einde was wel nogal onvoorspelbaar en die dinamika tussen karakters hou jou aan die lees.

The Barbecue at No. 9 deur Jennie Godfrey is deur Cornerstone uitgegee en kos R405 by Exclusive Books.

Klankdig

Vir Fishagie

Hoe lyk die vingerafdruk en DNA
van die woekeraar met “die stil avontuur”,
die “glansende kiemsel”, die “woord en wonder”?
Daardie een wat 'n villanelle, rondeel, o donder,
of Luc Bat soos 'n stiervegter kan beheer?
Hoe lyk die ID of paspoort (met visums)
van hierdie geheime agent of klouterdief
wat katvoet 'n sonnet of ballade bedryf?
Wie is hierdie digter van die visums by verstek
op reis deur vele glossariums op die internet
en voorskrifte oor sonnette, distigonne en ryme?
O nalatig, oppervlakkig, 'n geweeklaag,
sal die kruppel kritikus bevind (sélf banaal),
in die soeke na nougesette vakmanskap
en gekonsentreerde poëtiese segging,
'n speelse truuk verwar met ware ding!
Leser, mon frère, mon semblable?
So kom ons klink 'n glasie op hierdie inspirasie.
Stiervegter pak die tollie aan sy horing,
007 en klouterdief het immers 'n geluksensie.

Joan Hambidge


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe