Skakerings van spanning

Ek is 'n onbeskaamde leser van genrefiksie. Dit beteken romans wat nie letterkundig is nie. Sulke romans het dikwels uitstekende karakteriserings en 'n gatskop-storielyn. Ek het twee spanningsverhale gelees en veral die eerste het met my slaap ingemeng.
Bloed van 'n vlinder deur Marieta Carrick
Ek het onlangs eers Marieta Carrick se debuutroman, wat vanjaar weer uitgegee is, gelees: Waar bloed kruip. 'n Lekker grillerige mediese riller. Bloed van 'n vlinder speel, soos haar eerste, in Noordeberg-hospitaal af. Daar is weer 'n jong vrou wat by die hospitaal kom werk en sy woon weer in die Strauman-huis. 'n Victoriaanse woning; lieflik maar onheilspellend.
Libbery (Libby) Lucas is 'n suster. Sy het voorheen vir Dokters sonder Grense in die DRK gewerk en ly aan PTSS. Daar was 'n bomontploffing in die hospitaal en haar geliefde is in haar arms dood. Daarna was sy in 'n senu-kliniek en soos Lola in Waar bloed kruip is sy op medikasie en sukkel om te onderskei tussen die werklikheid en drogbeelde. Sy sien oral blou vlinders.
Libby is 'n besonder knap suster en, te oordeel aan die dokters, tegnici en paramedici se reaksie op haar, aanvallig. Sy weet nie dat die vorige inwoner van haar kamer vermis en vermoedelik vermoor is nie – verdere eggo's van Carrick se debuutroman. Hoekom torring aan 'n resep wat werk?
En dit werk. Carrick slaag daarin om jou bang te maak en jou te laat naels kou. Libby ontvang dreigbriewe van iemand wat weet van haar ervarings in die DRK - wat meer behels as wat die leser onmiddellik uitvind.
Libby begin spoke sien, helder oordag. Dan word die enigste mens wat sy by die hospitaal bevriend het, die sonnige Mia, wreed vermoor. Libby kom op haar lyk in 'n boom af. Haar lippe is afgesny en netjies toegewerk deur iemand wat chirurgie ken. Ook Libby se hasie, Stet, word bedreig. Sy is later 'n senuweewrak.
'n Engelssprekende speurder, Sean Allen, verskyn op die toneel met sy strikdassie en formele koddigheid. Daar wil-wil iets tussen hulle ontwikkel, maar Libby se gedurige inmenging in sy ondersoek versuur sake.
Daar is ook die eksentrieke professor Thompson, 'n chirurg wat daarop aandring dat Libby hom in elke operasie bystaan. En die sjarmante, aantreklike dokter Killian Williams. Onder andere.
Dis 'n snaarstywe riller met welkome spatsels humor, geskryf deur 'n wewer wat haar storie ken. Daar is eenmaal iets grieselrig en vreesaanjaend aan hospitale en traumasale en iets fassinerend aan die dinamika tussen karakters wat op kaffeïen en adrenalien oorleef. Ek sien uit na haar volgende riller.
Bloed van 'n vlinder deur Marieta Carrick is deur Queillerie uitgegee en kos R320 by Graffiti.

Never Look Back deur Susan Lewis
Romy en Ron Kaplan is afgetree en belaglik gelukkig getroud. Hulle het onlangs baie geld verloor in een of ander ondeurdagte belegging en woon nie meer in die herehuis waar hulle so gelukkig was nie, maar in 'n kleiner huis langs 'n meer. Daar is duidelik iets wat hulle bedreig: Hulle praat nie in die huis nie, omdat daar afluisterapparate is, maar op 'n bankie langs die water. Hulle beplan 'n uitweg uit die situasie waarin hulle hul bevind. Hulle voel hulle vriende word bedreig as gevolg van hulle. Romy blameer haarself. Hulle was vroeër diplomate in Rusland en die leser wonder of dit iets daarmee te doen kan hê.
Hulle besluit om Cristy Ward te kontak. Vir haar het lesers in twee vorige romans leer ken: Nothing to See Here en Don't Believe a Word. Sy is 'n vreeslose podcaster wat op dié manier misdade oplos. Die podcast heet Hindsight.
Maar dan gaan Ron dood en Romy verdwyn. Nou is Cristy en haar sidekick Connor aan boord. Hulle werk saam met Romy se peetkind, Layla. Dit wil begin lyk asof Ron se dood nie 'n ongeluk was nie. Romy maak sosiale media-plasings van haarself in verre streke, maar iets is nie pluis nie.
Sonder om te veel weg te gee; dit handel oor gesofistikeerde identiteitsroof. Wat het die portretskilder Lisa met die saak te make?
Die verhaal word deels in die vorm van transkripsies uit podcasts vertel, wat nogal dramaties is. Ook onderhoude met belanghebbendes. Dis heel spannend, maar begin vir my ook soos 'n resep voel.
Daar is darem humor en die problematiese verhoudings tussen karakters, soos Cristy se eksman wat haar vir 'n jonger kollega gelos het by wie hy 'n kind het. Hy is intussen sielsongelukkig met die nuwe vrou en wil Cristy met mag en mening terugwen. Sy verduur hom ter wille van hulle seun en omdat sy jammer is vir hom. Hy is redelik infantiel en jaloers op haar nuwe kêrel, die dodelik aantreklike en skatryk David. Cristy en haar span het David in 'n vorige podcast en roman gered van 'n lewenslange vonnis vir reeksmoord. Hy was onskuldig, uit die aard van die saak.
'n Noemenswaardige karakter is Romy Kaplan se boesemvriendin Beth, Layla se ma. Sy is sterwend aan kanker. Die roman, soos sy twee voorgangers, is deels misdaad, deels liefdesverhaal en deels knussie. Ek weet nie of ek op 'n volgende podcast gaan inskakel nie – daar word soveel detail verskaf en die aard van die ondersoek herinner my te veel aan polisieprosedure, waarvoor ek ook al moeg is. Ek verkies menslike drama en sielkundige rillers sonder witborde met bullet points en pyltjies.
Maar natuurlik lees ek alles wat voor my neergesit word.
Never Look Back deur Susan Lewis is deur HarperCollins uitgegee en kos R295 by Graffiti.


A Sad Child
You're sad because you're sad.
It's psychic. It's the age. It's chemical.
Go see a shrink or take a pill,
or hug your sadness like an eyeless doll
you need to sleep.
Well, all children are sad
but some get over it.
Count your blessings. Better than that,
buy a hat. Buy a coat or pet.
Take up dancing to forget.
Forget what?
Your sadness, your shadow,
whatever it was that was done to you
the day of the lawn party
when you came inside flushed with the sun,
your mouth sulky with sugar,
in your new dress with the ribbon
and the ice-cream smear,
and said to yourself in the bathroom,
I am not the favorite child.
My darling, when it comes
right down to it
and the light fails and the fog rolls in
and you're trapped in your overturned body
under a blanket or burning car,
and the red flame is seeping out of you
and igniting the tarmac beside your head
or else the floor, or else the pillow,
none of us is;
or else we all are.
Margaret Atwood