Wegkom met moord

In die afgelope week het ek sowaar net een boek deurgelees. Inpak is een ding: Ons het oor meer as 'n maand rustig gepak en ek kon tussendeur werk. Uitpak is 'n perd van 'n ander kleur. Ek is konstitusioneel onkapabel om enigiets anders te doen voordat elke ding op sy plek is. Binne drie tot vier dae is ons nuwe huis volledig ingerig. Elke spier in my lyf is seer en ek stap stadig. Ek het bitter min gelees. Ek vertel jou van die boek wat wel my aandag behou het.
Getting Away with Murder deur Shari Lapena
Hier is 'n nuwe invalshoek: Die leser weet van die begin af wie die moordenaars is en beplan saam met hulle aan die perfekte moord. Dis nie asof hulle liefde of simpatie inboesem nie. Ted en Jill Westcott is ryk en bedorwe. Jill het beskeie grootgeword maar op universiteit reeds vir haar vriendin Lara gesê dis net so maklik om op 'n ryk man verlief te raak as op 'n arm een. Sy en Lara het al twee goed getrou, óp getrou.
Ted en Jill het Ted se aansienlike erfporsie gebruik om 'n brownstone in Brooklyn Heights, New York aan te skaf en te restoureer. Dis enorm en het al hulle geld opgevreet. Ted is 'n beleggingsadviseur, maar hy is ver van briljant en neem gereeld verkeerde besluite, soos toe hy sy broer se eks aangeraai het om te belê in 'n "sure thing" - hy het self ook 'n riskante lening aangegaan om daarin te belê. Hulle het alles verloor. Boonop het Jill, wat deeltyds by 'n galery werk, duur smaak en sy is salig onbewus van hulle benarde finansiële posisie.
Ted nader toe maar sy skatryk, suksesvolle broer, Greg, vir 'n lening. Greg het 'n kop op sy skouers en 'n talent vir geldmaak. Sy deel van die erfporsie het hy vermenigvuldig. Hy is ongelukkig ook, soos sy broer, geen lieflike mens nie. Hy is 'n arrogante narsis en kry lekker om vir sy broer "nee" te sê. Ted moet sy les leer, voel hy.
Ted en Jill kom onafhanklik van mekaar tot dieselfde besluit: Greg moet dood. Sien, hy is bitter teenoor sy eksvrou wat met 'n groot deel van sy skatte weg is en hy het nie kinders nie. Daarom het hy besluit en dit bekend gemaak dat Ted sy enigste erfgenaam is. Ted en Jill reken dit sal gaaf wees as hy lepel in die dak steek voordat hy weer trou en 'n nuwe gesin maak om te erf.
Die broers is nie juis op goeie voet nie, maar Ted en Jill reël 'n uitstappie met Greg se seiljag. Hulle oorlaai hom met sjampanje en weet hy seil altyd sonder 'n reddingsbaadjie. Toe die see stormagtig raak en Greg wil terugdraai, seil Ted verder. Hy swaai die stuurstang en toe Greg struikel, stamp hy hom oorboord. Hulle seil vinnig weg van die sterk swemmende Greg.
Eers veel later, op 'n ander plek, ontbied hulle die seereddingsinstituut. Een van die ondersoekers vind hulle storie dat Greg nooit weer bokant die water verskyn het nie, ongeloofwaardig en laat val dat hy gaan kyk of daar kameras aan boord is. Net daar verraai die moorddadige egpaar se paniekerige gesigte hulle skuld. Maar hoe bewys hy dit?
Intussen is alles nie meer maanskyn en rose tussen die twee oorlewende Westcotts nie. Hulle geliefde herehuis word 'n vyandige ruimte toe hulle afluisterapparaat ontdek. Nou word hulle afgedreig. Hulle verdink al wat leef: die inspekteur, Greg se bitter eks, Jill se beste vriendin Lara. Alle vreugde het uit hulle lewe gewyk, wat wel 'n soort korrektief is. Of hulle met moord wegkom, moet jy maar self lees.
Dis 'n interessante dilemma: As leser ooridentifiseer 'n mens dikwels met die protagonis. As dié nou moreel verrot is, is dit nogal 'n tameletjie. Jy begin hoop dat hulle skotvry daarvan gaan afkom en jou morele kompas woer-woer.
Lapena is natuurlik 'n bedrewe misdaadskrywer wat die leser tot op die laaste bladsy laat wonder en stres. Dit was goeie afleiding.
Getting Away with Murder deur Shari Lapena is deur Bantam uitgegee en kos R312 by Graffiti.
