Die mooiste woorde

Liewe vriende
Die mooiste woorde is nie verby nie en die mooiste woorde is nie myne nie. In 'n week waar ek te moeg was om te lees, kom ek op die internet af op woorde so lieflik dat dit my laat wonder of ek nie maar moet ophou skryf nie. Ek is 'n talentsoeker; een van my lekkerste werke was as redakteur vir 'n uitgewer, waar ek immer op soek was na misgekykte juwele om te publiseer. Elders afgekeurde manuskripte. Ek lees op Facebook 'n inskrywing deur ene Johan Strydom, iemand wat ek glad nie ken nie. Ek stuur sommer vir hom 'n vriendskapsversoek omdat dit so treffend is. Hy skryf:
Vanaand het ek die blues. Ek verlang na my kinderdae, skooldae, studentedae, weermagdae, onderwysdae op Kakamas, Santam-dae op George en na die kinders se skolesport era. Ek verlang na die live bands van die seventies en eighties en na die ongelooflike musiek. Ek dink aan die ongekunstelde sexy girls van ons tyd. Vrougoed self het soos 'n blas wilgerlat met bergpoeloë en rondings gelyk toe ek haar ontmoet het. Toe was ons jonk, impulsief, roekeloos, effens stout en onverantwoordelik. Ons het die lewe voluit geniet. Ons het geleef en deur genade oorleef.
Nou is ek stokoud, maar ek wil steeds nie grootword nie, al sê 'n spul malletjies al vir my oom. Ek weet dan steeds nie wat ek netnou gaan doen nie. Ek weet nie eers wat ek gaan skryf nie, maar wat ek wel weet is dat ek oor die seventies en eighties nie te veel moet skryf nie, want die kinders kan dit dalk onder oë kry. Toe David Gresham middernag 30 Desember 1977 sy Top Twenty afsluit met: "Cape Town has it! McCully Workshop and the Buccaneer," toe lê ek op 'n matras agter in in 'n Chevy stasiewa want die strandhuis was vol. Ek het haar net vasgehou, want haar ma het daardie Kersaand al gevra dat ek moet mooi kyk na haar dogter. Ek het dit probeer doen, want dit was 'n volmaan Kersdag en haar ma het mooi gevra. My ma het niks gesê nie.

Hoe lieflik is dit? Na aanleiding van sy woorde dat hy nie veel oor die seventies en eighties moet skryf nie omdat die kinders dit onder oë mag kry: Ek kyk 'n video clip van Dolly Parton, Linda Ronstadt en Emmylou Harris wat "After the Gold Rush" van Neil Young sing en dit tref my dat ons in hierdie eeu so heel gesaniteer en ordentlik is, so woke en kouewater-Omo-skoon. Waar Young gesing het: "There was a band playing in my head and I felt like getting high," sing hulle: "... and I felt like I could cry."
Die sleutelhouer wat ons saam met die nuwe huis gekry het, is gifgroen met die Narcotics Anonymous-simbool en agterop: Sixty days clean and serene. Dit sit my kop aan die wonder. Ek wonder altyd oor huise se emosionele geskiedenis, wat ek voel-voel in die bakstene en pleister uitpluis. In die krake en sugte van die dak.
Ek lees op Netwerk 24 hoe Lynthia Julius skryf oor Dolly Parton se Jolene. Gaan soek dit as jy 'n intekenaar is. Sy spreek die man-afrokkelaar byvoorbaat aan in geval sy haar streke in hierdie geweste wou kom uithaal. Ek wys net een skermgreep:


Ja, ons is droef oor Dolly. Dis asof 'n sonstraal die aarde verlaat het. Dis asof te veel mense deesdae sterf, maar so was dit van die grondlegging van die aarde af. Vloede, rampe, pestilensies, oorloë en gerugte van oorloë. Net die vaak poeper in die opgeblingde Wit Huis strompel voort. Dan wonder 'n mens wanneer Spreuke se woorde gaan waar word: "Want hulle eie afkerigheid maak die eenvoudiges dood, en hulle eie sorgeloosheid rig die dwase te gronde."
Die Papier het my betaal! Ek voel skatryk. Mag hulle van krag tot krag gaan.
Liewe vriende, dit dan my en veral ander se woorde vandag. Ek sluit af met een van Virginia Woolf se dagboekinskrywings:
May 1931. I intend to walk; to read; to be mistress of my soul.
Liefde
Deborah
