Die groot vergeet

Die groot vergeet
Foto deur Daniel Salcius / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Vandag kom ons trek aan op hierdie slaperige kusdorpie. Die stilte suis en dis lieflik. Ons is nie na genoeg aan die see om branders te hoor breek nie, maar kan see toe stap.

Ek kon nie help om te dink hoeveel makliker die trek terug Kaap toe was as die omgekeerde nie: my voorsate se trek Noorde toe. 'n Vet swart kat wat huisvas is en nie van motorry hou nie, was die enigste kleinvee om na om te sien. Die wa is deur die drif. Geen wiel het gebreek of wakis weggespoel nie. Die weë is gebaan. Selfs die vragmotors op die hoofweg was min of meer beleefd.

Ek dink dikwels daaraan: hoeveel herinneringe ons in ons selle, in ons DNS saamdra. Van veldslae, reise en oorlewingstryde wat ons nooit beleef het nie. Ek dink altyd aan die volgende meme:

Ek het die woord raakgelees in 'n misdaadroman: epigenetika.

Jou gedrag en omgewing verander die manier waarop jou liggaam jou genetiese kode lees. Jou DNS is vasgelê, dis soos die klawers op 'n klavier of die note op bladmusiek. Hoe jou liggaam die kodes lees, is soos 'n pianis wat besluit watter note om sag of hard te speel en watter om oor te slaan. Klein epigenetiese etikette (soos daardie krapperige goed in klere) heg hulle aan jou DNS of die proteïene rondom dit. Die etikette skakel party gene aan of af sonder om die genetiese kode te verander. Wanneer hulle styf om die DNS gedraai is, kan die sel nie die geen lees nie, dis afgeskakel.

Daar was 'n eksperiment: Rotte is gek oor kersies. Wanneer hulle dit ruik, kom hulle aangehardloop. Wrede wetenskaplikes het hulle 'n elektriese skok toegedien sodra hulle kersies ruik. Kersies het sinoniem geword met pyn en die rotte het dit vermy. 'n Volgende geslag rotte is nooit blootgestel aan kersies nie. Toe die derde geslag rotte kersies ruik, het hulle gevries. Drie generasies later het die assosiasie steeds bestaan. Die trauma van die eerste geslag is fisiologies oorgedra.

Ja, jou voorsate se trauma, herinneringe, ervarings en emosies kan op jou oorgedra word, en dit nie net deur oorvertelling nie.

Toe ek as kind vir die eerste keer die see sien, het 'n groot kalmte oor my gespoel. Herkenning. Tuiskoms. Die wêreld lyk weer soos dit moet. Alles maak nou sin. En soos 'n spermsel het ek my weg gevind, teruggeswem na die moederskoot.

Om te verhuis en tussen stasies te vertoef maak stokou herinneringe, ook jou eie, in jou wakker. Laasnag droom ek van 'n neef vir wie ek lief was. Hy was so oud soos ek en is reeds oorlede. In die droom was hy weer jonger, met al sy hare. Daar was 'n aantrekking tussen ons wat jy met 'n mes kon sny. Dit was nie seksueel nie, dit was veel sterker, asof elke sel hunker na elke sel in die ander. Ons het geweet ons kan nooit weer skei nie en moet vir ewig saam wees. Ek het vervaard gedink dat ek van vroue hou en dat ek in 'n gelukkige verhouding is, maar die ervaring was oorweldigend. Ons het net styf teen mekaar gesit. In die oggend wonder 'n mens: Waarvandaan die dwingende gevoel dat jy jou by 'n oorledene moet aansluit?

Aag, ek droom ook gereeld van my pa en broers. Soms, dink ek, wanneer 'n mens pootuit en weerloos is, is die membraan tussen wêrelde dunner.

Ek het gelees van 'n neuropsigoloog genaamd Brenda Milner. Sy is 108 en werk nog steeds. Sy het in die 1950's 'n tergende raaisel opgelos. 'n Pasiënt, Henry Molaison, is geteister deur hewige epileptiese aanvalle. In 'n poging om dit te verlig het 'n chirurg dele van sy brein verwyder, ook die hippocampus. Die aanvalle was minder, maar die man kon geen nuwe herinneringe vorm nie. Hy kon sy kinderjare onthou, maar die hede het deur sy vingers geglip. Hy kon nie langer as 'n oomblik aan 'n gedagte vashou nie. Elke dag was soos sy eerste.

Wetenskaplikes het destyds geglo geheue is een spesifieke ding wat deur die brein beheer word. As die brein beskadig is, val geheue weg. Brenda het gewonder of dit so eenvoudig was. Sy het die man toetse laat doen, soos om in die spieël te kyk en voorwerpe na te teken, waar alles omgedraai is. Hy het gesukkel en elke dag gesê dat hy dit nog nooit gedoen het nie, maar elke dag het hy verbeter. Uiteindelik kon hy dit perfek doen, sonder om te onthou dat hy dit nog ooit gedoen het.

Siedaar! Geheue word nie net in die brein gestoor nie, maar ook in die spiere. Spiere kan nuwe herinneringe bou wanneer die brein beskadig is. En vashou aan oues. Marta Cinta González Saldaña was 'n Spaanse gewese ballerina wat met Alzheimers saamleef in 'n versorgingsoord. Toe sy in haar rolstoel na Swanemeer luister, het sy haar arms en hande grasieus beweeg in presiese, dekades-oue choreografie. Die mag van musiek en die hardnekkigheid van spiergeheue.

Ek dra my dooies saam en ek dra al die letsels en oorwinnings van my vasberade voorgeslagte. Jammer, oergrootjie Debora en die Trekkers, dat ek julle reis ongedaan gemaak het. Die weer is mooi in die Noorde en julle het die wêreld getem, maar my gestel benodig 'n ander ritme, roekelose wind en ruisende gety. Ek is terug.

Liefde
Deborah

Ek het 'n huisie by die see

Ek het 'n huisie by die see, dis nag
Ek hoor aaneen, aaneen, die golwe slaan
Teenaan die rots waarop my huisie staan
Met al die oseaan se woeste krag

Ek hoor die winde huil, 'n kreun, 'n klag
Soos van verlore siele in hul nood
Al dwalend, klagend, wat in graf en dood
Geen rus kon vind nie maar nog soek en smag

My vuurtjie brand my kersie gee sy lig
Ek hoor dan maar die storm daarbuite
Ek hoor hoe ruk die winde aan my ruite
Hier binne is dit veilig, warm en dig.
Kom nag, kom weer en wind, kom oseaan
Dit is 'n rots waarop my huisie staan.

F.A. Fagan


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe