Vreemdeliefde

Vreemdeliefde
Foto deur Ravi Sharma / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Die wêreld het onthutsend klein geword. 'n Gehuggie. Ons kan amper in een oogopslag die hele aardbol se weervoorspelling sien. Ek kan in die oggend in die bed, selfoon in die hand, betraand vir Joni Mitchell op 82 sien sing: "I could drink a case of you and I would still be on my feet."

0:00
/0:42

Ek is só bly sy is nog op haar voete. Aaa, Joni. Ek het na haar geluister in my twintigs, in die ou, versaakte klooster waar ek gewoon het. Destyds was ek verlief op edel armoede, op krakende houtvloere, geroeste wasbakke, hoë staalplafonne en stof oral. In 'n verkrummelende ou hotel langs die brandweerstasie in Berea wat 'n hawe vir haweloses geword het, het ek na haar geluister op 'n donker trap soos 'n katedraal vol eggo's. Ek het armoedig gelewe en geluister na "I miss my clean white linen and my fancy French Cologne." Oh, Carey, it's really not my home.

Waar is huis? Dis nie altyd maklik om te weet waar die hart is nie. Ons weet almal die verlede is 'n ander land. Ons onthou vaagweg uit 1 Kronieke dat ons vreemdelinge en bywoners op aarde is. Maar soms vergeet ons.

Die tien gebooie verwys na die vreemdeling in jou poorte wat ook nie op die sabbat enige werk mag doen nie. Die vreemdeling word wel laaste genoem, ná jou vrou, seun of dogter, slaaf of slavin, os of esel.

Aan die voet van die Statue of Liberty is 'n bronsplaak met 'n gedig deur Emma Lazarus, "The New Collossus". Dit eindig so:

“Give me your tired, your poor,
Your huddled masses yearning to breathe free,
The wretched refuse of your teeming shore.
Send these, the homeless, tempest-tost to me,
I lift my lamp beside the golden door!”

Dory Previn het daaroor gesing in "The Hollywood Sign":

0:00
/0:31

Maar toe kom MAGA en ICE. Ek haal aan uit Max du Preez se Aanstap Boere:

Die toppunt van absurditeit was toe die eerste Afrikaner-"vlugtelinge" in Mei 2025 in Amerika aangekom het. Geen legitieme vlugtelinge uit konfliklande is meer toegelaat nie, net Afrikaners die meeste van hulle uit die bevoorregte klasse in Suid-Afrika met sy liberale demokrasie, oop gemeenskap en beskerming van menseregte.

Gasvryheid is 'n lieflike konsep. Só kan 'n mens glo onwetend engele huisves. Dis die ideaal wat ons harte laat swel: Om die poorte oop te gooi en die honger massas binne te nooi. En ek wens ons kon.

Want grense is 'n mensgemaakte ding. En lande, volke, kulture. Die hart erken geen grense nie en reis sonder paspoort. Maar jou naaste moet jy ook liefhê en beskerm. Dis 'n bitter turksvy.

Die oorgrote meerderheid van ons landgenote is vir baie lank soos vreemdelinge in hulle eie land behandel. Vryheid het nie gelei tot ekonomiese onafhanklikheid nie. Daar is nie genoeg werk, huise, water of elektrisiteit vir almal nie. Die lelike gesig van xenofobie is ongelukkig verstaanbaar. Sekere vreemdelinge hier is boonop smokkelaars, rampokkers en moordenaars wat onder die radar vlieg.

Dit bly die uitdaging: Hoe behou jy ruimheid van gees in die aangesig van wreedheid en onverskilligheid?

Max, wat ek bewonder, het gesê jy kan nie 'n rassis word omdat jy ontgogel is deur die regering en die massas nie. Jy was dit nog altyd en voel nou geregverdig om dit onbeskaamd uit te blaker.

Rassisme en haat is 'n cop-out. 'n Knee-jerk. Dis die laagste gemene deler, vuige hartstog wat in die likkewaanbrein ontspring. Veel meer ingewikkeld is dit om in ander se skoene te klim; uitgetrapte vellies met gate in die sole, sonder veters, dof van stof en stompgeskop aan klippe.

Kyk hoe gooi ek hier 'n deel van die gebed van Sint Franciskus van Assisi in:

Lord, make me an instrument of your peace:
where there is hatred, let me sow love;
where there is injury, pardon;
where there is doubt, faith;
where there is despair, hope;
where there is darkness, light;
where there is sadness, joy.

Herverdeling van rykdom is ook nie 'n oplossing nie. As jy die gekombineerde rykdom van biljoenêrs wêreldwyd neem en eweredig uitdeel onder die wêreldbevolking van meer as agt biljoen mense, sal elke mens maar 'n paar duisend rand kry. Dis nie 'n lewensveranderende bedrag nie en dit sal nie lank hou nie.

Wat moet ons doen?

0:00
/0:20

Liewe vriende, naastes en vreemdelinge. Ek hou my preek kort. Gaan heen en gee, gee, gee elke dag. Kos, water, erkenning, respek, jou toekoms vol gate. Kom ons probeer ons harte mooi hou.

Liefde
Deborah

Dankie, Suzanne.

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe