Hotel van die dood

Read the review in English here.
Die afgelope week het ek slegs een boek sommer vir die lekker gelees, en om hier oor te skryf. Die res het ek gelees omdat resensies aangevra is en vir 'n paneel waar ek een van die beoordelaars is en waarvoor 'n mens 'n berg boeke moet lees om 'n kortlys saam te stel. Wat kan lekkerder wees? En die res van die tyd is in beslag geneem deur inpak.
My lessenaar was nog nooit so skoon nie. Slegs die laptop en die muis pryk daarop, geen stapels boeke nie. Alles is weggepak. Daar is veel te sê vir minimalisme, besef ek: Ons leef lekker met leë mure en net die nodigste boeke. Ons trek eers middel-Augustus!
Room 706 deur Ellie Levenson
Die roman speel in Londen af. Dis 'n riller wat oor een dag uitspeel, behalwe vir die inspeling van die verlede.
Kate is 'n karakter waarin 'n mens jou tande kan slaan, by wyse van spreke. Sy was die produk van 'n one-night stand en het nooit haar pa geken nie. Sy en haar ma was baie geheg aan mekaar. Haar ma is in 'n motorongeluk dood toe sy op universiteit was. Sy het geen familie oorgehad nie, net 'n goeie vriendin van kindsbeen af, Eve. In Italië het sy vir Vic ontmoet: half-Italiaans en self beskadig, Hulle trou en woon in Londen. Hy is die perfekte man en later die ideale pa vir hulle twee kinders. Hy aanbid die grond waarop sy loop. Dis goed en wel om so 'n engel vir 'n partner te hê, maar die keersy is dat dit van jou die minder volmaakte partner maak, vra my. Tog, daarmee kan 'n mens saamleef.
Kate ontmoet deur haar werk 'n direkteur van 'n maatskappy met wie sy 'n onderhoud voer. Daar is die een of ander elektrisiteit tussen hulle en hy nooi haar vir middagete om verder te gesels. Dan nooi hy haar na sy hotel. As uitgeputte en uitgerafelde ma van klein kindertjies smag Kate reeds lank daarna om in 'n hotel in te boek en eenvoudig deur die nag te slaap. Sy en Vic is nog gelukkig getroud en hy help met die babas, maar met woelige kleintjies in die bed is daar nie juis ruimte vir 'n sekslewe nie.
Dan het sy seks met James, die direkteur, in sy hotelkamer. Hy is ook getroud en hulle lê die reëls neer: niemand mag verlief raak nie, hulle wil nie veel weet oor die ander se lewe nie, hulle wil net soos skepe in die nag ontmoet en seks hê, helder oordag.
Ná die tyd voel sy vervul met nuwe energie en sien sy weer kans vir haar lewe as werkende ma. Hulle ontmoet elke paar maande in 'n hotelkamer êrens. Tussendeur het hulle geen kontak nie. James is aantreklik, geheimsinnig en posher as sy, reken sy. Hulle ontmoetings is elegant en passievol. Sy sien dit as tyd vir haarself, as 'n pamperlangsessie soos 'n spa-dag of skoonheidskuur.
Tot die dag dat hulle in die kamer vasgekeer is toe 'n terroristebende die hotel oorneem. Hulle kan alles op die nuus volg tot die elektrisiteit afgeskakel word. Buite hoor hulle sirenes en helikopters. Hulle het nog Wi-Fi-sein. Kate whatsapp Vic deurentyd en verduidelik vir haar niksvermoedende man sy het gou by die hotel ingestap om badkamer toe te gaan. Daarna het sy in 'n kamer gaan skuil. Hy bemoedig haar.
Nou is sy in 'n donker kamer vasgekeer met 'n man wat sy glad nie ken nie. Sy besluit dat sy nie eens van hom hou nie. Die terroriste is op die onderste twee verdiepings en hulle weet nie hoeveel mense daar in die hotel is nie. James en Kate moet tjoepstil bly en geen aandag trek nie. James wonder of hulle weer seks moet hê en sy vertel hom dis verby.
Tussen die tonele in die hotelkamer is daar terugflitse, na haar en Vic se ontmoeting, na die dood van haar beste en enigste vriendin, Eve, aan kanker — iets wat die trauma van haar ma se dood laat herleef en haar reddeloos gelaat het. Vic was altyd daar vir haar. Na haar kinders: veeleisend en onweerstaanbaar oulik.
Later, in die nag, weet hulle glad nie meer wat aangaan en hoe ver die onderhandelings is en of hulle bevry gaan word nie. So op die mespunt kry 'n mens perspektief op jou lewe en die soort mens wat jy geword het. Daar is heelwat berou en spyt, hunkering en woede. En naakte vrees.
Die einde is redelik oop en dit is goed. Dit is my soort boek: Behalwe vir die verhoog van die protagonis se verbeelding en herinnering speel al die gebeure in een vertrek af, in die bestek van een dag. Ek reken dit sal uitstekend verfilm.
Agterin verduidelik Levenson hoe die idee vir die roman ontstaan het:
The idea for Room 706 came about when my children were very young. I was so tired that all I wanted to do was to go to a hotel, shut the door, and be by myself for a short time, with no one making demands on me or wanting to touch me. When I told people this fantasy, they thought perhaps I was saying that I wanted to go to a hotel with a lover. They didn’t seem able to get their head around a mother’s need for some time alone. In fact it became apparent that for many people the idea of a woman taking a lover was far more socially acceptable than the idea of her being alone.
Room 706 deur Ellie Levenson is deur Headline Publishing Group uitgegee en kos R405 by Exclusive Books.


He did love
He did love three things in this world:
Choir chants at vespers, albino peacocks,
And worn, weathered maps of America.
And he did not love children crying,
Or tea served with raspberries,
Or woman's hysteria.
... And I was his wife.
Anna Akhmatova