Tweedehandse skande

Tweedehandse skande
Foto deur Clara Dickieson / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Gister breek ek 'n stokkie en skielik onthou ek vir Margaretha Vermaak. Ons het saam in die eerstespan hokkie gespeel vir Pretoria-Noord Hoër. Ons was nie juis 'n formidabele span nie, ons was maar 'n flenterbende. Maar Margaretha was ons doelwagter en kaptein en het haar rol met diepe erns vertolk. Voor elke wedstryd het sy haar span op 'n motiveringspraatjie vergas. Vol gravitas en wemelend van clichés. Sy het by meer as een geleentheid 'n stokkie gebreek en gesê: "Kyk hoe maklik is dit!" Dan het haar kneukels wit geword om 'n hele bondel stokkies en het sy met nadruk gesê: "Dit is onmoontlik om te breek." En dan, omvermydelik: "Saamstaan, span!" Dit was lank, lank gelede, toe die Nasionale Party aan bewind was en toe ons nog geleer is dat Pluto 'n planeet is. En dat daar nie 'n I in TEAM is nie.

Waar is Margaretha nou? Aan die bopunt van die beroepsleer? Motiveringspreker, skrywer van selfhelpboeke? Stokkiesdraaier?

Die herinnering aan haar opsweeppraatjies wek toe weer 'n gevoel in my op wat ek soms ervaar. Ek noem dit tweedehandse skande of verplaasde skaamte. Wanneer iemand iets sê wat voor die hand liggend of holrug gery is, of iets vals, begin sirenes in my kop loei en my oë bloei. Soms bloos ek, soms loop trane oor my wange. Dis 'n erg ongemaklike emosie en 'n mens is totaal hulpeloos in die greep daarvan. Jy skaam jou namens iemand anders, die dieprooi blos in jou nek is nie jou eie nie.

Toe ek vir 'n aanlynboekwinkel gewerk het, het ons 'n Engelssprekende bemarkingsbestuurder gehad oor wie se tong die een cliché na die ander gegly het: "Let's get our ducks in a row", "now we're cooking with gas", "eye on the bottom line" en een feestyd, die onvergeetlike uitklopreël: "This Christmas, let's go for the jugular." In 'n mini-vergadering met hom en nog een kollega het trane eendag onbeheersd oor my wange begin rol voordat ek aan die slaap geraak het. Ek is nooit bevorder nie.

Ek onthou selfs toe ek baie klein was en nog nie mooi kon praat nie, hoe ek my geskaam het wanneer grootmense babataal met my praat. Golwe van skaamwoede het oor my gerol. In my kop het ek gedink: "Jy klink belaglik. Net omdat ek nog nie in staat is of die selfvertroue het om my verstaanbaar uit te druk nie beteken nie dat jy jouself moet vergat en my in die proses skaam maak nie." Dan het ek my weer geskaam oor my reaksie en nogmaals gebloos.

Ek het dieselfde volwasse erns herken in die oë van my dogters, toe hulle babas was. En ek het my bes probeer dat hulle hul nie namens my moes skaam nie. Maar soms was ek vals, soos eendag toe ons kleuterskool toe stap. Ek laat ons die straat oorsteek om 'n doodgeryde hond te vermy. My dogtertjie het aan my hand gerem en oor haar skouer na die lyk gekyk. Toe ek, valslik, sê: "Die hond slaap 'n bietjie," het sy lakonies laat val: "Nee, hy's lankal dood."

Ek was nog nooit 'n Republikein nie en wil met Amerika min te doen hê (behalwe miskien die stad New York, waar ek graag in boekwinkels sou wou verdwaal) maar vir Donald Trump skaam ek my oë uit my kop uit, tweedehands. Ek kan glad nie meer na hom kyk of luister nie, die ongemak is te groot. Dit was dieselfde met Jacob Zuma. Ek bloos myself doof. Ek skaam my om tot dieselfde spesie as hulle te behoort, ek skaam my vir menswees. Ek glimlag meesmuilend. Dis 'n woord wat ek weer by Joan Hambidge raakgehoor het.

Jacon Zuma meesmuil.

Wanneer iemand iets oor en oor aan my verduidelik, iets wat ek reeds vóór die eerste verduideliking gesnap het, huil ek in my kop en my oë traan. Mansplaining verlam my soos 'n spinnekop 'n vlieg. Ek kan nie herwaarts of derwaarts nie en my tong knoop van die gif. Bo die oorverdowende gevloek in my kop glimlag ek bloesend, soos 'n onderdanige bruid.

My vriendin Elthea se susterskind was 'n macho seuntjie, 'n klein breker met 'n growwe stem. Wanneer iemand klavierspeel of sing, het hy eers begin huil en dan woedend geword. Hy wou nie 'n emosionele speelbal wees nie, wou nie gedwing word om gevoelens te ervaar wat hy nie gereed was om binne te laat nie. Wou nie sy fassade aan die wasgoeddraad laat hang nie. Skaamkwaad.

Ek skaam my nie meer wanneer iemand my oogknippend probeer impliseer en insluit by rassisme of seksime nie. Dan word ek net kwaad.

'n Vriendin stuur hierdie meme aan:

Een keer toe ons jonk was, word 'n meisie voorgestel aan my vriend Jasper. In plaas van: "Aangename kennis" sê hy per ongeluk: "Nee, dankie". A Freudian slip is when you say one thing and mean your mother.

Kom ons spaar die slagaar en al die little lessons and platitudes from cans en praat reguit, of ons eendjies nou in 'n ry en varkies op hok is of nie. Ek het jou die eerste keer gehoor.

Liefde
Deborah

Ek wil nie meer besoek ontvang nie

Ek wil nie meer besoek ontvang nie
nóg met koppies tee boeretroos en veral nie brandewyn nie
ek wil nie hoor hoe hul wag op gevlerkte briewe nie
ek wil nie hoor hoe hulle wakkerlê in hul oogkasse wyl
die ander slaap wyd soos die horison om sy wenkbroue
en wat wil ek weet van hul eenderse kwale
die een sonder eierstokke, die ander met leukemia
die kind sonder 'n draaiorreltjie en die ou man
wat al vergeet het dat hy doof is
die bevlieging van die dood in die robots van groen
die mense wat leef by die see soos in die Sahara
die verraaiers van die lewe met die gesig van die dood en van God

ek wil net alleen wees op reis met my eensaamheid
soos 'n wandelstok
en glo dat ek nog enig is

Ingrid Jonker


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe