Onreg en spoke

In windverwaaide kusdae vol selfdoenprojekte en natuuruitstappies het ek 'n sekere boek telkens opgetel en weer laat val. Uiteindelik het ek besef dit voldoen aan al die vereistes wat ek nie in 'n boek wil hê nie: Dit handel oor mense in hul sewentigerjare; 'n groep vriende wat eens spioene was en nou smiddae martini's drink en vir die plaaslike polisie ore aansit soos wat hulle misdade oplos. Dis deel van 'n reeks.
Nou, ek sukkel met spioenasie. Ek het nie daardie soort taktiese brein nie. Regdeur sulke romans en selfs aan die einde probeer ek tevergeefs uitwerk wie was 'n dubbel- of trippelagent en hoekom? Dit klits my morele kompas en slaan my dronk. Verder hou ek nie besonder baie van boeke oor slim, aktiewe bejaardes nie. Ek weet, ek weet, dis waarna ek streef en waarheen ek (hopelik) vinnig op pad is, maar daar is iets té oulik en knus aan sulke romans. Boonop is my ontwikkeling so vertraag dat ek, volgens my oudste dogter, my tienerjare eers in my veertigs binnegegaan het. Dus lees ek in my middelsestigs steeds graag oor middeljarekrisisse.
Ek vertel jou eers van die boek wat my die minste aangestaan het, maar 'n topverkoper is en dus, as dit jou koppie tee is, aan te bevele:
The Shadow Friends deur Tess Gerritsen
Hierdie is die derde roman oor die Martini Club. Maggie Bird, haar man Declan en vriendin Ingrid is afgetrede spoke wat aan die kus woon, in 'n dorpie genaamd Purity. Ingrid se man Lloyd was nie 'n spioen nie, maar 'n CIA-analis, dus in 'n soortgelyke veld. Onvermydelik word daar 'n moord gepleeg in 'n vakansieoord, 'n moord soortgelyk aan 'n insident wat Ingrid dekades gelede as spioen meegemaak het. Natuurlik begin die vriende ondersoek instel.
Dan verdwyn Ingrid en nou moet hulle spoorsny. Die handeling verskuif na Amsterdam waar 'n gewetenlose groep huurmoordenaars woel. Die vriende moet aan die lewe bly en Ingrid bevry.
Spoke uit hul verlede steek kop uit en niemand weet wie om te vertrou nie, want van die verlede kan jy nie ontslae raak nie. Lees dit gerus as knus spioenasie jou ding is.
The Shadow Friends deur Tess Gerritsen is deur Bantam uitgegee en kos R356 by Graffiti.

Tell Me Something True deur Michael Robotham
Hierdie boek het ek verslind tussen take en uitstappies deur. Michael Robotham is 'n Australiese misdaadskrywer wat die CWA Gold Dagger Award vir beste roman twee maal verower het en twee maal op die kortlys was vir die Edgar Award. Hy weet hoe om karakters te skep en spanning te laat opbou. Die leser belê pens en pootjies in die verhaal.
Arlo Hackett is 'n duifie sonder gal, 'n lieflike karakter. Hy kry parool na twaalf jaar in die tronk — sy beste jare, van 26 tot 38. Hy is tronkstraf opgelê omdat hy na bewering 'n medepligtige ná die daad was in 'n verkragting en moord. Die hoofverdagte, sy broer Luke wat met gestremdheid saamgeleef het en 'n saggeaarde reus was, het selfdood begaan voordat hy gevonnis kon word.
Arlo het verby die polisiebegeleiding geglip om sy broer in die hospitaal te besoek, waar hy opgeneem is met ernstige beserings ná polisiebrutaliteit tydens sy ondervraging. Toe die polisieman wakker word en 'n pistool uithaal, het Luke dit afgeneem, die geregsdienaar onskadelik gestel (en byna doodgemaak) en ontsnap. Arlo is op die toneel in hegtenis geneem. Hy het glo die verdagte help ontsnap.
Toe Luke dood is, is die visier van die dorpie se woede op Arlo gerig. Die meisie wat vermoor is, was die dogter van 'n vername politikus. Daar is onheilighede wat ten alle koste toegesmeer moes bly.
Arlo het sy straf uitgedien vir iets wat hy nie gedoen het nie en keer terug na sy tuisdorp om na sy bejaarde ma om te sien. Die dorpie is Yulara, in Australië. Die inwoners laat hom egter nie toe om te vergeet van die voorval nie, teiken sy ouerhuis en jaag hom deur die strate op motorfietse. Daar is ook sy jeugliefde, Helen, wat elke week vir hom geskryf het in die tronk. Hy het nooit die briewe gelees of beantwoord nie, want hy wou hê sy moes aangaan met haar lewe en nie vir hom wag nie.
Dit word duidelik dat daar mense is wat bedreig is deur sy terugkeer en hom uit die pad wil hê. Dit laat hom vir die eerste keer wonder oor Luke se onskuld. Ja, Luke was verlief op die slagoffer (soos Arlo ook was) maar hy was geensins gewelddadig nie. Was hy bloot 'n gerieflike sondebok? Nou is Arlo vasberade om uit te vind wat presies twaalf jaar gelede gebeur het.
Daar is heelwat verdagte figure en stadigaan kom allerlei teenstrydighede aan die lig, dinge wat onder die mat ingevee is sodat die polisie 'n maklike arrestasie kon maak en sodat die ware skuldiges kon aangaan met hul lewe.
Arlo Hackett word nooit bitter nie en soos sy oorlede broer dink hy altyd aan ander mense ten koste van homself. Die roman is slim en liefdevol aanmekaargesit en beweeg om die beurt vorentoe en terug in die verlede. Dis, soos die agterplat sê, 'n epiese elegie oor liefde, familie, moraliteit en geregtigheid. Ek beveel dit hoog aan.
Tell Me Something True deur Michael Robotham is deur Sphere uitgegee en kos R526 by Exclusive Books.


Summer
The sky broods like the whole of Sydney’s
done something wrong and it can’t quite put its finger
on it. Christmas stretches into New Year and
Sydneysiders wear the vacant stare of the slightly
troubled. This is nothing, you think. Humidity
of gathering crowds. Everyone heads to the beach
and the beach too is not quite right, the way
the water stalks foreigners, the way the seaweed
crunches underfoot, the way the wind whips sand
into your fillings. This is nothing, you think.
Diving onto the sandbar, the boy breaks his neck
and the helicopter takes him away. Too much sun,
everywhere. All a helicopter ever meant
is Apocalypse Now, the way its blades shimmer
in the salt haze. The gulls go more insane than ever,
if that’s possible, and later you learn the neck boy dies.
Luke Davies