Skryf op jou hand

Skryf op jou hand
Foto deur Fujiphilm / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Begin is makliker as eindig. Goed begin is heeltemal gewin.

Ons het soveel beginne in ons; skoon bladsye wat ons bekrap met simbole – letters, woorde, prentjies. En dan opfrommel. Dit word nooit 'n gerf genommerde bladsye nie, dit word nie 'n manuskrip nie. Op my desktop lê daar 'n klomp klein lêers rond wat nie die migrasie na 'n nuwe rekenaar gaan oorleef nie. Paragrawe op stokkies wat wegraak. Woorde soos in sand geskryf. Ek skram weg van die Wolk.

Ek het dit nog altyd as vingeroefeninge vir 'n groot roman gesien, al die kartondose vol woorde wat êrens weggewaai of op 'n solder gemuf het of deur muise opgeknaag is. Wat ek agtergelaat het soos ou onderklere.

Maar nou, noudat Anne Carson die Nobelprys vir Letterkunde ontvang het, wonder ek of die hele lewe nie 'n vingeroefening is nie. Struktuur, samehang, 'n begin, middel en einde is miskien oorskat. Los gedagtes op 'n sigaretboksie of op jou hand geskryf – moenie dit weggooi of afwas nie.

Ek wonder of die hele lewe nie 'n vingeroefening is nie, noudat die legendariese Petrovna Metelerkamp – ek wens haar beterskap toe ná 'n ernstige ongeluk – die een boek na die ander uitgee uit Jeanne Goosen se bokse vol nagelate papiere. Jeanne het nie op 'n rekenaar geskryf nie, maar op 'n eksamenblok, daardie A4-bladsye met gaatjies reeds ingepons. Dié het sy aan 'n plank vasgeklamp en op die naat van haar rug gelê en skryf; met 'n viltpuntpen, want balpuntpenne se ink kan nie opdraende loop nie. In 'n klein, netjiese lopende skrif. Sy het altyd gesê daar is 'n direkte verbinding tussen haar brein en hand. Sy was ook 'n dromerige pianis. Haar hande was klein en het soos seesterre gelyk: lang vingers en min palm. Sy het geskryf wat in haar kop kom en dit weggebêre.

Op universiteit en by skryfskole leer 'n mens struktuur en beplanning, narratiewe ontwikkeling, storielyn, spanning en samehang. Dan kom rebelle soos Carson en Goosen en lag vir die professors se voorskrifte. Een van die uitklopreëls in Jeanne se postume bundel Los gedagtes is: "Ware oorspronklikheid ignoreer reëls." As hulle lus is om te vertel, steur hulle hulle min aan "wys". Raak vertelling wýs in elk geval. Rym is onbelangrik. Iets waarin Jeanne geglo het, was ritme. Volgens haar was dit die grondslag van alles.

"Wat sag is vergaan."'n Tekening van Jeanne Goosen se hand deur Henk Serfontein.

Anne Carson het gesê: "Sometimes language should cover its own eyes when it speaks." Oor skoonheid het sy gesê:

Beauty makes me hopeless. I don't care why anymore. I just want to get away. When I look at the city of Paris, I long to wrap my legs around it. When I watch you dancing there is a heartless immensity like a sailor in a dead-calm sea. Desires as round as peaches bloom in me all night, I no longer gather what falls.

Hoe leef beeldbestormers soos hulle, met koppe vol inspirasie en verspreide miswolke? Moeilik. Toe Anne Carson dosent was, was dit in haar kontrak ingeskryf dat haar man haar na elke klas moes vergesel. So nie het sy in uithangborde en ligte vasgeloop. Kop in die wolke. Jeanne het geskryf: "Om so ruim te word dat 'n ander orde ingelaat kan word sodat daar begrip, intieme begrip en heilige meelewing kan wees."

En Jeanne. Sy kon vele dae nie uit die bed opstaan nie. Sy het met staties-elektriese hare bly lê. Met 'n groen trui vol hondehare onderstebo aan het sy een sigaret met die vorige aangesteek en 10 jaar ouer gelyk, soos 'n uitgewringde lap. Die volgende dag het sy weer kleur gehad en geblink en geskitter, vol idees en drome. Sy het gesê sy ken al die antwoorde, maar verstaan nie die vrae nie. Sy het beweer daar is net een geldige vraag op aarde: Wat de fok gaan aan?

Nie een van dié twee het kinders gehad nie. Kinders, glo ek, anker 'n mens aan die alledaagse. Hulle hou jou aandag by belangrike beuselagtighede, laat jou uit die bed opstaan om te gaan werk. Wanneer so 'n besielde, wêreldvreemde genie wel kinders kry, vaar die bloedjies maar sleg, soos Doris Lessing se kinders wat in 'n ander land agtergelaat is. Soos Simone Jonker wat lewenslank soos 'n hanslam en 'n weesbokkie gelyk het. Onvoldoende bemoederd.

Ek was 'n ma wat te dikwels na 'n kamer in my kop ontsnap het. My kinders is nou groot en vlieg met hul eie vlerke. Ek het tyd. Al het ek my bokse – ek hou nie van die woord "dose" nie – vol skryfsels in verskillende provinsies en windrigtings verloor, het ek 'n kop vol woorde. Nou deel ek hulle, sonder bekommernis oor genrevoorskrifte. Wat ek hier skryf, is nòg brief nòg rubriek, nòg essay nòg kortverhaal. Ek het nie sigaretboksies nie, maar ek tik soms in die donker nag met een oog toegeknyp want ek kan nie my leesbril raakvat nie, op my selfoon kriptiese notas wat in daglig moeilik ontsyferbaar is. Ek loop nie meer in ligte en pale vas nie, ek het geleer koershou.

Iemand wat los indrukke kan laat vastrap en rieldans is my vriend Gielie. Sy Facebook-inskrywings is nie kortverhale of gedigte nie, dit vertel nie 'n storie of fokus op een onderwerp of argument nie, dit laat gedagtes opbou soos stapelwolke, wieg soos grassade in die wind. Dit skep 'n bepaalde ambience, ontlok 'n oomblik van herkenning: Ja, so is dit!

Ek deel met jou 'n woord wat op my van toepassing is:

Moenie jou brûe en jou los papiere verbrand nie. Hulle het waarde.

Liefde
Deborah

Vroegdag sien ek die uil op die nok. Pretoria is vuurwarm. Geen reën word voorspel. Ek slaap die week se kopverkoue af langs die waaier. In die nanag voel ek die bries wat reën bring. Nie lank daarna kraak die sinkdak soos die dag se hitte stoom word onder drie druppels. Vanaand sal die uil in die boom gaan sit. Dit was die 10de Oktober.

Gielie Hoffmann


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe