Dodelike liefde

Dodelike liefde
Foto deur Eugene Golovesov / Unsplash
ANGELA TUCK

Read the review in English here.

A Fatal Love deur Louisa Treger

Louisa Treger het 'n Suid-Afrikaanse konneksie: haar ma is hier gebore. Sy is 'n Britse skrywer van bekroonde historiese fiksie. Hierdie boek is gebaseer op die moordsaak van Ruth Ellis, 'n klubbestuurder en gasvrou wat soos Marilyn Monroe gelyk het en haar hart en kop verloor het op 'n kêrel van 'n hoër stand – dit was die laat 1940's. David Blakely was 'n aantreklike renjaer en lieplapper wat te veel gedrink en vroue gebruik het.

Die naam het vaagweg 'n klokkie gelui, maar ek wou dit nie google om te sien of Ruth uiteindelik verskoon is nie, ek wou die storie laat ontvou. En Treger is 'n meesterverteller wat wys eerder as om uit te spel.

Sy laat Ruth Ellis uit die bladsy opstaan: 'n Mooi jong vrou wat arm gebore is en van kleins af blootgestel was aan haar suiplap-pa se brutaliteit teenoor haar ma, haar susters en haarself. Dit was haar normaal. Sy wou iets van haarself maak en was eers model (in onderklere) vir "glamour shots" deur fotograwe. Toe word sy gevra om 'n hostess te word by 'n klub in Londen. Sy was aangelê vir die werk, het dit geniet om met mans te flankeer en hulle haar te laat begeer, om hulle te veel geld te laat bestee aan drank, soms selfs om een huis toe te neem, nie teen betaling nie, maar tog as onuitgesproke deel van haar werksbeskrywing.

Sy het opgang gemaak en is gevra om 'n klub te bestuur. Sy het selfs 'n gratis woonstel bo-op die klub gekry. Nou kon haar seuntjie, Andy, by haar kom bly. Andy was die resultaat – gedurende die oorlog – van 'n hartstogtelike verhouding met 'n Kanadese soldaat wat haar aanbid en op die hande gedra het, maar nagelaat het om haar te vertel dat hy 'n vrou en drie kinders by die huis het.

Daarna was sy getroud met 'n tandarts, George Ellis. Sy het geglo hy kan haar en Andy sekuriteit bied, maar George was 'n alkoholis soos haar pa, en 'n gemene dronklap. Hulle het 'n dogtertjie gehad, Georgina. Sy het by Ruth se ouers gewoon tot haar pa daarop aangedring het (as voorwaarde tot egskeiding) dat sy vir aanneming opgegee word.

By die klub wat sy bestuur slenter die aantreklike, selfversekerde David Blakely een aand in. Aanvanklik baklei hulle omdat hy buffelagtig optree, maar gou begin ander vonke tussen hulle spat. Hulle aantrekking is dodelik en vernietigend. Hy trek by haar in en begin haar finansieel uitbuit – hy kry 'n toelaag van sy ouers, maar dis nie genoeg vir sy kuiergewoontes en renjaer-drome nie. Hy het 'n lelike humeur en slaan haar dikwels pimpel en pers. En is altyd, natuurlik, later so vreeslik jammer en verklaar dat hy nie sonder haar kan leef nie. Tog stel hy haar nie aan sy ouers voor nie en laat val soms dat sy 'n kommin tert is.

Haar liefde vir hom is soos 'n verterende vlam wat alle rede verskroei. Sy vergewe hom telkens, selfs toe dit op die lappe kom dat hy 'n verloofde van sy eie sosiale stand het, glo om sy ma te plesier. Sy het haarself totaal verloor in hom. Hy word soos 'n dwelm in haar bloed: "But this existence he had drawn her into, where everything was heigthened – more intense, more exciting – had her hooked."

Sy besef dat sy hom bo haar kinders se welvaart stel, maar is hulpeloos soos 'n vlieg in 'n spinneweb: "... she couldn't stop herself. He was light and oxygen to her. There were times when it seemed she could not breathe outside his presence."

Mag die gode ons bewaar van so 'n passie. Ruth besef dat sy hom elke keer sal vergewe en terugneem, dat die kringloop van geweld en afknouery nooit sal end kry voordat hy dood is nie. Dat hy eenvoudig moet sterf. In 'n waas van drank en pille skiet sy hom op straat, vier keer. Een opslagkoeël tref 'n verbyganger in die hand. Sy erken skuld en verklaar dat sy wil sterf.

Daar was nog 'n man in haar lewe; Desmond Cussen, ook 'n renjaer. 'n Stabiele man wat die grond aanbid het waarop sy loop en haar dikwels finansieel uitgehelp het. Hy was altyd daar vir haar, maar het haar verveel. David was in haar bloed soos nagmaalwyn. Sy kon glad nie 'n kis van hom drink en op haar voete bly nie.

Daar is ook 'n vroulike prokureur wat Ruth se advokaat bystaan. Kitty is deeglik bewus daarvan dat dit 'n manswêreld is waar vroue geensins 'n gelyke kans staan nie.

Treger slaag daarin om te wys eerder as te preek; hoe vroue na die kantlyn geskuif is, nie ernstig vertolk is nie, op neergesien is deur mans. Hoedat Ruth eintlik 'n baanbreker was, 'n sterk vrou wat vir haarself en haar kinders gesorg het, tot sy haar Achilleshiel ontmoet het. Hoe die dobbelsteen nie reg geval het vir haar nie. Sy is boonop onwillig om oop te maak oor haar obsessie en is haar verdediging van min hulp.

Dit lees soos 'n moderne krimi met heelwat om die lyf. Treger romantiseer nie vir Ruth nie en maak nie van haar 'n slagoffer nie. Ook nie 'n hartelose moordenaar nie. Die leser beleef haar met haar blinde kolle en selfsug, maar is tegelyk deeglik onder die indruk van die sosiale ongelykheid tussen die geslagte wat vandag nog nie heeltemal oorbrug is nie. Die roman en die ware gebeure is 'n aanklag teen die patriargie.

Treger het 'n sonderlinge talent om die verlede te laat herleef, in volkleur. Ek beveel dit hoog aan.

A Fatal Love deur Louisa Treger is deur Bloomsbury uitgegee en kos R455 by Exclusive Books.

Modern Love

And what is love? It is a doll dress’d up
For idleness to cosset, nurse, and dandle;
A thing of soft misnomers, so divine
That silly youth doth think to make itself
Divine by loving, and so goes on
Yawning and doting a whole summer long,
Till Miss’s comb is made a pearl tiara,
And common Wellingtons turn Romeo boots;
Then Cleopatra lives at number seven,
And Antony resides in Brunswick Square.
Fools! if some passions high have warm’d the world,
If Queens and Soldiers have play’d deep for hearts,
It is no reason why such agonies
Should be more common than the growth of weeds.
Fools! make me whole again that weighty pearl
The Queen of Egypt melted, and I’ll say
That ye may love in spite of beaver hats.

John Keats


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe