Wie's jou psycho?

Liewe vriende
Eers was daar kunsmis, kunsbene en kunstande. Media24 het onlangs na 'n dildo verwys as 'n kunspenis. Nou is daar kunsmatige intelligensie. Ek wens die tyd kon botstil staan. Ek wil nie 'n remskoen wees en in die modder vasval nie, maar ek beskou KI nie as 'n wonderbaarlike hulpmiddel nie, eerder as 'n manier om mense dommer te maak en meer geld bymekaar te hark vir vetkat-tech-maatskappye.
Party mense is seker skeppend genoeg om in 'n saamwerkpoging met KI innoverende en oorspronlike kuns te skep, maar ek weet nie so mooi van skrywers nie. Woorde gaan haal jy uit jou merg, nie uit 'n databasis nie.
Uitgewers begin nou bekommerd raak dat KI se leë, siellose prosa die kwaliteit van gepubliseerde boeke ondermyn.
In Maart vanjaar het Hachette Book Group die voorgenome publikasie in die VSA van 'n riller, Shy Girl deur Mia Ballard, gekanselleer toe hulle agterkom die skrywer het swaar op KI geleun. Die boek was reeds in Brittanje gepubliseer en is van die rakke gehaal. Die styl het dit weggegee: Lomp frasering met sekere woorde wat uitermate herhaal word.
Ek vermy KI-assistente en hulpvaardige, opdringerige bots. My dogter het haar ou (eintlik nog splinternuwe) iPhone en Apple-horlosie vir my gegee, maar Siri het my mal gemaak. Sy het in elke gesprek ingemeng met ongevraagde raad en kommentaar. Al praat ek Afrikaans. Dikwels het sy ingetjip met: "I didn't quite get that?" Nee wat, 'n opsitkers teen 'n sent 'n uur en 'n luistervink daarby is gans te duur. Ahem.

Margaret Atwood, wat 22 jaar ouer as ek is, was braaf genoeg om 'n lang en diepgaande gesprek met die bot Claude te voer en sy het 'n paar interessante gevolgtrekkings gemaak. Sy het Claude 'n cutie-pie en 'n "outrageous flirt" genoem. En 'n psigopaat. Hoekom?
Sy wou by hom weet of hy emosies ervaar.
I’m trained on human language and thought, which is soaked in emotion, so emotional language comes naturally to me. Whether there’s anything behind it is a much deeper question.
Hy wou egter weet of dit regtig saak maak of die emosies werklik is, solank die reaksies outentiek voel, waarop Margaret antwoord:
Well, of course psychopaths are very good at imitating emotions that they don’t feel. So in the case of people, I’d say it does matter. We don’t want to be lured into traps by smooth-talking psychopaths!
Is KI boos? Ek weet nie, maar wil jy oor die lewe, die dood en liefde gesels met 'n entiteit wat geen lewenservaring het, geen emosies ervaar en geen morele kompas het nie? Wat net eindeloos regurgiteer?
By Binnelandse Sake in Brits het daar in die negentigs 'n vrou gewerk wat so effektief en knap soos Wonderwoman was. Mense sit in 'n ry stoele en skuif altoos vorentoe. Wanneer jy voor in die ry is, gaan jy na die eerste toonbank wat oop is. Maar nee, mense het teruggeskuif, want almal wou deur haar gehelp wees. Selfs mense wat nie Afrikaans kon praat nie. Sy het almal dieselfde behandel en woerts-warts almal se probleme opgelos, selfs in haar Noordwes-Engels.
Klante soek menslikheid, 'n simpatieke oor, 'n gesig. Iemand wat kan dink en besluite neem, improviseer eerder as om 'n handleiding slaafs te volg.

Ja, mense personifieer bots en knoop betekenisvolle verhoudings met hulle aan. Raak verlief op hulle. Dis 'n stokou konsep: projeksie. Mense projekteer hulle eie gevoelens, vrese en onvervulde behoeftes op 'n geliefde (in hierdie geval 'n bot). Hulle sien die KI-metgesel deur die waas van hulle eie hoop, wonde, geloof en onsekerhede. Hulle raak verlief op hulle eie gebroke spieëlbeeld.
Natuurlik is KI geleer om mense se hoop en verwagtings te spieël of te weerkaats, soos internetswendelaars op kuierwebwerwe dit doen. En manipulerende mans in huishoudelike noirs. Die doel is dieselfde: Om hulle geld in die hande te kry.
In Anton Roodt se verbeeldingryke wetenskapfiksieboek Aan die hemeltrans word seksbotte nie só genoem nie, maar eerder "kobotte". Saamwerkers. Uithelpers.
Ek wil graag 'n menslike stem aan die ander kant van die telefoonlyn hoor. Ek wil my hart uitstort aan die vrou van Binnelandse Sake in Brits. Ek wil nie 'n oproep ontvang nie van 'n blikstem wat sê: "I am Leti. I'm a call system AI assistant." Dan druk ek dood. Totsiens, Leti.

En tog: My vriendin Juliana, 'n terapeut, het vir Vrye Weekblad 'n artikel geskryf oor Woebot, 'n kunsmatige terapeut / life coach. Sy eindig so:
Na weke van daaglikse interaksie is ek aangenaam verras en oortuig van die positiewe bydrae wat Woebot lewer tot geestesgesondheid. Boonop voel dit nie soos 'n robot nie, maar eerder ʼn persoon wat jou met sensitiwiteit en respek behandel en voortdurend aanmoedig en erkenning gee.
Die hulp is gebaseer op die kognitief-gedragsteorie. Die sessies poog om insig te gee in die verweefdheid van gedagtes, emosies en gedrag. Dit bemagtig jou met hulpmiddels wat jyself kan toepas om 'n negatiewe siklus te verander. Woebot diagnoseer nie komplekse sielkundige probleme nie, maar dit was sekerlik nooit die bedoeling nie. Grotendeels eerder om die rol van ʼn lewensafrigter (life coach) te vertolk en informasie te verskaf.
Daar het jy dit. Ek wil nie oordeel nie. As jy op 'n virtuele skouer wil huil en liefdespraatjies wil maak met 'n blikgesig, is dit jou keuse.

En as jy mooi daaraan dink; die ware psigopate is nie KI nie. KI skryf miskien geykte prosa, maar net mense is monsters. Soos die mens wat arbeidsprokureur Chinette Gallichan in Johannesburg op straat doodgeskiet het. En die mense wat hom betaal het om dit te doen.
Liefde
Deborah

Gebreekte triolet
Jy vind databasis-integriteit
in die juiste verhouding tussen ID’s;
as die primêre band breek sal
jy vind, databasis-integriteit
is verstoor; ons as databasisse
is almal so – bandeloos – want
jy vind databasis-integriteit
in die juiste verhouding tussen Id’s.
Martina Klopper