Skaamte wat verjaar

Skaamte wat verjaar
Foto deur ק. פ. / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Nadat ek oor verplaasde skaamte geskryf het, val nog iets my by: Skaamte wat verjaar het. Stokou skaamte sonder vervaldatum. Daardie herinnering wat jou blosend en met kloppende hart laat wakker word en ineenkrimp, deur die jare. Ek het so iets raakgelees in amberKAMER, 'n bundel met 'n keur uit Joan Hambidge se verse:

As alles bloot illusie, leuen of maaksel
blyk te wees, waarom passer
elke fout en belemmering
klokslag voor sonsopkoms
in voortslepende vermindering
en helder herinnering?

Ek skaam vandag nog my oë uit my kop, klokslag voor sonsopkoms, oor 'n tafereel waarvan ek deel was toe ek baie jonk was. As soekende student het ek my Heiland ontmoet, in teatrale tentkerke. Ek was besiel met 'n evangelisasiedrang en wou opsluit van die wêreld 'n beter plek maak.

Wat ek nou gaan vertel, was nie my idee nie, maar ek het meegedoen. 'n Vriendin van ons, beeldskoon, was in 'n verhouding met 'n breker wat aan albei kante van die heining gewei het. Ons het haar probeer waarsku, maar verniet. Toe trek ons een aand soos 'n kruisvaardersbende op na haar ouerhuis, vergesel van 'n jong man wat soos 'n engel lyk. Hy was die kroegman in die hotel wat aan een van ons vriende se ouers behoort het.

Ons klein intervensie het in haar ouers se sitkamer gebeur, laterig in die aand. Daardie soort sitkamer eenkant van die huis wat meestal toe staan in onbruik. Daar vertel die kroegman haar op ons aandrang dat haar kêrel die eerste man was wat hom genader het vir seks toe hy in die dorp aangeland het. Sy begin gil soos 'n vasgekeerde dier. Dramaties en bloedstsollend. Kort voor lank staan haar professer-pa, gekamerjas, in die sitkamer. Met radelose kommer wil hy weet: "Wat máák julle met haar?"

Ons het nie geantwoord nie, want ons het gevoel sy moet die volle ontsetting ervaar sonder om vertroos te word, sodat die oomblik van waarheid kan insink. Ons het net in 'n halfmaan rondom haar gestaan en in tale gebid. Sy het luid begin weeklaag soos 'n Ierse seeweduwee. Gou was haar pa weer daar, smekend: "Asseblief tog ..." Hy het nie ingegryp nie, net handewringend weer gegaan.

Oor daardie toneeltjie, en dat ek deel daarvan was en nie getroos of ingegryp het nie, dat ek niks aan haar ontredderde pa verduidelik het nie, dat ek brandend geglo het ons doen die regte ding, skaam ek my morsdood in die klein ure van die oggend.

Toe ek jonk en fanaties was, het fundamentalistiese Christene ons gewaarsku teen humanisme, wat glo gevaarlik was en jou geloof lou maak, sodat God jou uit sy mond sal spuug. Ek is jammer, ek kan nie meer daardie mens wees wat immer die evangelie vooropstel en mense se skanse plattrap nie. Ek het verval in humanisme en jammerte. Ek skaam my tweedehands vir Christene se veroordelende aanlyn kommentaar wanneer iemand skeeftrap.

Genoeg van skaamte. Ek lees laasweek 'n boek en kom af op 'n sin wat my dronkslaan: Gerhard is die aalwyn. Hoesê? Wie is Gerhard en hoekom het hy tot dusver nog nie in die roman opgeduik nie, voordat hy sy lyf kom aalwyn hou? Natuurlik was die sin: "Gehard is die aalwyn." Ek lees te vinnig, daarom sukkel ek met proeflees: Ek kan nie letter vir letter lees nie. My oog herken blitsig 'n woord en laat dit sin maak.

Op laerskool het ons in Omgewingsleer oor boerdery en uitvoerprodukte geleer. In die handboek het ek telkens gelees: Aartappels word in hierdie streek verbrou en koring word in daardie streek verbrou. Soveel flops? Hoekom probeer hulle nie 'n ander gewas nie, het ek gewonder. Op 'n Sarie se voorblad lees ek as kind: Elsabe Steenberg het skelrose en stel my 'n helderpienk roos voor. En die opskrif van 'n koerantartikel toe ek 'n kind was, oor Hans Strydom en Sybel Coetzee: Hans het net oë vir Sybel lees ek as: "Hans het net oë vir sy Bybel."

Ek het waarskynlik met vele wanpersepsies rondgestap omdat ek verkeerd gelees en tot die verkeerde gevolgtrekkings gekom het. Om van uitspraak nie te praat nie. Ek en my boeties was versot op die strokiesprent oor Blits Gordon, wie se van ons uitgespreek het om te rym met "kordon". En in die leesboekie Peter and Penelope het ons haar naam uitgespreek as rymend met "antelope". Hoe dan anders? My dogtertjie het die video van Bambi oor en oor gekyk. Die hasie Thumper het sy, uit die aard van die saak "Stamper" genoem op die Afrikaans. Dit maak steeds sin.

Verder, vriende, begin ek aan 'n identiteitskrisis ly omdat my selfoon gereeld vir my sê: Face does not match. Ek het probeer om die foon met my vingerpunt ook oop te sluit, maar word meegedeel: No fingerprint detected. Met gladde vingers en onmerkwaardige gesig beur ek voort en tik die kode in.

Miskien moet ek berading kry vir die intervensie-herinnering. Daar is glo terapeute wat 'n mens se herinneringe kan redigeer en heruitgee. Of uitvee. O, was my witter as sneeu.

Vriende, mag ons sag slaap en vergeet wat pynlik was, maar nie so deeglik dat ons ooit weer daardie ongenaakbare, selfingenome mens vol oortuiging en sonder jammerte sal wees nie.

Liefde
Deborah

My ma doen blokkiesraaisels

sonder 'n woordeboek
met 'n potlood en uitveër
doen sy soggens 'n blokkiesraaisel:
sy pas woorde in hul blokke
soos 'n treinrangeerder wuiwend
na die drywer (rooi, groen, rooi, groen)
die roepman en kondukteur op pos
elke oggend om ses na ses sjoekepakke sjoekepakke
hoor daar hoe stoom hy stoom hy stoom hy verby
stasiename Ongeduld en Onvervuld tot by my:
die een met vele woordeboeke, potlode, geen uitveërs,
die een wat sy nie kan kleinkry of inpas in haar oggendspel.

Joan Hambidge


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe