Filmiese moord

Filmiese moord
Foto deur Jeremy Hynes / Unsplash
ANGELA TUCK

Een van die dinge wat my bly maak, is wanneer dit naweek is en ek sit met 'n splinternuwe, lywige roman van een van my gunstelingskrywers. Verlede Vrydag was dit Jo Nesbo se jongste. Een van my gunsteling denkbeeldige speelmaats is Harry Hole, uitgerafel en vol littekens soos 'n straatkat, altyd hunkerend na 'n stywe dop, suigend aan 'n sigaret, pittig en wakker, met 'n sesde sintuig as superpower.

Kill Shot deur Jo Nesbo

Hierdie roman begin waar Harry op die balkonmuurtjie van sy woonstel op die sestiende verdieping staan. Hy wil spring. Sy geliefde Rakel is vermoor, die vrou wat hy liewer gehad het as wat hy homself haat. Sy is nou twee jaar dood en hy kan nie daaroor kom nie. In die woonstel speel 'n CD van Elvis Costello, Shipbuilding. Net toe Harry wil spring, begin Chet Baker se trompetsolo. Daarna móét hy eers luister. Dit het Rakel eens laat huil. Harry weet en die leser leer dat Baker 'n heroïenverslaafde was en 'n totale wrak toe Costello hom in 'n klub in Londen ontmoet het en gevra het om studio toe te kom en in een opname te speel. Dit was die laaste opname wat Baker gemaak het voordat hy na sy dood geval het uit 'n hotel in Amsterdam. Dan bel Rakel se seun en Harry se stiefseun, Oleg, om hom 'n voorspoedige nuwejaar toe te wens. Hy klim maar af van die muurtjie.

Benewens muso's en bands is een van Harry Hole se belangstellings rolprente, veral obskure kunsfilms of rillers. Sy vriend van skooldae af, die besope taxi-bestuurder Øystein Eikeland, is nog meer van 'n kenner op die gebied. Nou word drie mense in Oslo vermoor wat met 'n sekere rolprentstudio te doen het of te doen gehad het. Die moorde eggo telkens 'n obskure grilfliek en Harry en Øystein herken die verwysing.

Die leser leer die filmspan ken en dit word duidelik dat een van hulle die moordenaar is, maar wie, en waarom? Ek het 'n hele paar van hulle verdink en was nie naastenby reg nie. Nesbo en Hole is te slim vir my, en ek waardeer dit.

Daar is, soos altyd, vroue wat die ou straatkat Harry begeer. Ek het êrens gelees dat hy besonder lekker ruik, sy vel, sy liggaamsreuk. Hy noem homself 'n lafaard, maar voel te veel en daarom is die lewe vir hom ondraaglik. Hy is cool en beskadig, met grasie. En hy is snaaks. Daar is Katrine Brat, sy oorlede beste vriend se vrou. Hy het met haar 'n verhouding gehad het toe sy vriend nog gelewe het, waaruit 'n seun, Gert gebore is. Hy is betrokke in Gert se lewe en daar is steeds 'n vonk tussen hom en Katrine, maar Harry sien nie weer kans om weerloos te wees nie.

Uit die TV-reeks.

Harry is nie meer in die polisie nie omdat hy ná Rakel se dood vir maande op die dranklorrie was. Nou is hy weer nugter en werk as speurder vir 'n versekeringsmaatskappy. Maar omdat Oleg en Katrine in die polisie is, word hy al hoe nouer betrek by die ondersoek na die moorde. Ook omdat hy 'n deskundige op die gebied van reeksmoordenaars is.

Oleg het in sy tienerjare 'n dwelmprobleem gehad, maar Harry het hom van homself gered. Nou is hy ook 'n speurder en gelukkig getroud met twee kinders. Maar daar is iets wat hom ry, 'n nuwe verslawing in sy bloed. Dis 'n vroulike kollega met wie hy 'n verhouding het en vir wie hy alles wil los. Harry noem haar 'n piromaniak, want sy hou van gevaar en om huise op te breek (figuurlik af te brand). Sy doen haar bes om Harry te verlei en slaag amper daarin. Jy moet maar lees hoe oom Harry weer daarin slaag om Oleg van homself te red.

Behalwe vir besonderhede oor die interessante rolprentmaakkultuur is daar soos altyd, fassinerende brokkies wetenskap en sielkunde, soos Harry se uitspraak:

And a hunch is a mix of what you see and the facts of the case that the conscious part of your brain hasn't quite shuffled through yet.

Oor films die volgende:

Weren't the greatest cinematic works also cold and precise - like Citizen Kane, Metropolis and most of what Stanley Kubrick made? The descriptive style may have been presented as social criticism and the laying bare of our universal misanthropy, but didn't these paradoxically beautiful films at the same time reveal a fascination, an attraction to the aesthetics of what they criticised? Just like the greatest so-called anti-war films are the ones that best illustrate why we love war?

Die titel, Kill Shot, verwys na die laaste skoot van 'n akteur voordat hy die film verlaat, sy laaste toneel.

'n Saterdag in die geselskap van Harry Hole is altyd aangenaam met sy droë humorsin, sy selfweersin en sy goeie hart. Sy oë en ore is altyd oop en hy kry mense aan die praat deur dikwels net "Mmm" te sê. Volgens hom beteken dit presies wat jy wil hê dit moet.

Ek beveel dit hoog aan. Kyk gerus of jy mentaal kan bybly by Nesbo en Holle.

Kill Shot deur Jo Nesbo is deur Penguin Random House UK uitgegee en kos R387 by Graffiti.

Chet Baker se laaste solo

0:00
/0:19

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe