Piepklein Voortrekker-vroutjies

Piepklein Voortrekker-vroutjies
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Iemand wat ek ken se tante sien een keer in die hospitaal, bedwelm deur medikasie, 'n hele peleton Voortrekkervroue in kappies en lang rokke al langs die muur af marsjeer. Die vroutjies was skaars 'n paar sentimeter hoog.

Van kleins af is ek geteister deur koorsdrome, soos baie van ons. En nagmerries. Gisteraand sê 'n geesgenoot sy droom ook gereeld sy verdwaal in 'n stad, Pretoria. Dit begin op Kerkplein. Die geboue word oud, reusagtig groot, dan bouvallige hole. Trappe en gapende spelonke. Sy soek tevergeefs na die uitgang. En sy het as kind dikwels 'n skare klein mannetjies gesien, besig met allerlei aktiwiteite. Soms het hulle oor haar geklouter en moes sy hulle afskud.

Ek het ook 'n skare klein mannetjies gesien, maar nie driedimensioneel nie. In 2D, geprojekteer teen my kamermuur. Hulle was ongelooflik hiperaktief, het geswem, geduik, gespring, gedans, gehardloop. Ek kon hulle vir ure dophou. Soms het dit te oorweldigend geraak. Om my oë toe te maak, het nie gehelp nie. Hulle was teen my ooglede ook geprojekteer. Nes die honderde oë wat ek soms gesien het: teen die muur, teen die plafon en teen my ooglede as ek probeer slaap. Oë wat nooit knip nie en my dophou.

Die hektiese skare hiperaktiewe mannetjies het ek veel later raakgeloop in legkaarte. Het ander mense dan ook sulke hallusinasies gehad?

Wannneer ek koorsig was of 'n verkouemiddel geneem het wat pseudo-efedrien bevat (ek vermy dit nou) het ek woorde en letters driedimensioneel gesien, asof uit klip gekap. Dit het verskyn en uitgeswel tot dit die hele horison vul. Ook dit het ek later raakgeloop, as screensaver. Letters en woorde wat draai en groei tot reusagtig groot. Iemand anders moes dieselfde hallusinasie gehad het.

Eintlik, vermoed ek, is ons almal redelik eenders. Ek het soms ook perde gesien wat donderend op my afgalop en daardie gevoel het ek later teëgekom in 'n song van Patti Smith:

0:00
/0:21

Horses, horses, horses.

Breinaktiwiteit, veral in die staat tussen slaap en wakker en in getraumatiseerde wesens, fassineer my. Ek lees 'n boek oor 'n jong Chinese vrou wat veelvuldige persoonlikhede het, maar ons noem dit nie meer so nie. Dis nou DID – dissociative identity disorder. Dit ontstaan gewoonlik wanneer 'n jong kind alternatiewe persoonikhede skep om trauma te hanteer. Om hulleself van die toneel te verwyder en iemand anders te laat oorneem. "Someone who knitted a family of personalities to survive." Ook dit is nie vreemd nie. Baie van ons het denkbeeldige speelmaats gehad. Selfs stemme gehoor – ek hoop nie ek is alleen nie. Dis alles jou onderbewuste wat jou wil waarsku, kussing, beskerm en soms die afgrond wil afhelp.

Daar word na die staat van dissonansie verwys in ons taal: om buite jouself te wees. Ek het myself al van bo gesien. En ek skrik gereeld wakker wanneer ek, op die randjie van slaap, struikel en val, val, val. Verlaat 'n mens se siel jou liggaam wanneer dit gebeur?

Hierdie verskynsel word in Engels 'n hypnic jerk genoem. Dis 'n onwillekeurige sametrekking van jou spiere wanneer jou senustelsel die oorgang maak van wakker na slaap.

Wanneer jy aan die slaap raak, verstadig jou hartklop en asemhaling en jou spiere verslap. Jou brein misinterpreteer soms hierdie skielike verslapping as 'n fisieke val. Dit stuur 'n boodskap aan jou spiere om saam te trek om jouself te "vang", daarom ruk jy.

Dit het glo ook te doen met ons primitiewe voorsate; jagters, versamelaars en grotbewoners. Die skielike wakkerskrik het dit vir hulle moontlik gemaak om hul omgewing vir 'n laaste keer te ondersoek om seker te maak dis veilig om aan die slaap te raak, dat hulle nie op 'n gevaarlike plek ingedommel het nie. Indien hulle byvoorbeeld in 'n boom aan die slaap geraak het, kon hulle dan seker maak van die stabiliteit van hulle liggaamsposisie.

Ek skakel die lig af, gaan lê op my linkersy met 'n kussing tussen my knieë – wat ons vriendin Jennie 'n beenhaas noem – met my regterhand op my bobeen en my linkerhand op my kop. Dan wag ek dat die malende gedagtes bedaar. Soms neem dit lank. Ek weet ek is op die rand van slaap wanneer woorde en gedagtes plek maak vir beelde. Soms laat hierdie vreugdevolle besef my wawyd wakkerskrik.

Johan Myburg het 'n lieflike sonnet geskryf oor die staat van halfslaap. Ek verander vandag die templaat en plaas die gedig van die dag net hier:

Vir TTC. Die kreatiefste slaap
is net ná vyf tot sonsopkoms, die uur
of meer bekend as tweede slaap, geskei
van primo sonno, dieper slaap direk
ná lig uitknip. Tussenin gaap ʼn waak
vir werk, vir lees en skryf en dink oor goed,
veral vir woorde op die tong rondrol,
vir proe vir konsonansie en vir rym,
om metrum fyn te kies, altoos op soek
na juiste woord en samehang. En sou
mens toegee aan die vaak, gestimuleer
deur prolaktien, word halfslaap dan
die loomste droom vir vlugte, ingegee,
terwyl jy somnambuul gedigte sien.

Johan Myburg, uit Steierwerk

Salueer die marsjerende Voortrekkervroutjies, sus die besige skare, skud die klouterende mannetjies af, kalmeer die perde. Kry 'n greep, hou jouself in toom. Hou jou rokkies bymekaar, varkies op hok en eendjies in 'n ry. Wees rustig, vriende, en slaap lekker.

Liefde
Deborah


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe