Huilende bruid en droommeisie

Huilende bruid en droommeisie
Foto: Simone Steinmair-Myburgh
ANGELA TUCK

Die huilende bruid en ander versinsels deur Dominique Botha

Dis die nuwe tendens – outobiografie wat as fiksie aangebied word. En waarom nie? Herinneringe is verdag, dit weet ons almal. Herinnering ís fiksie. Sodra jy iets oorvertel of neerskryf, word dit 'n storie.

Ek het 'n dag lank verdwaal in Dominique Botha se herinneringe en haar sonderlinge manier van sien. Haar onthou deurweef met melancholie en ironie. Dwarsdeur bespeur die leser haar, die verteller, die onthouer: die huilende bruid, die stroomop dogter, die moeilike vrou, die geliefde. Sy is selfironiserend en nooit precious nie, al is sy deur die gode geseën.

In Valsrivier het dit my reeds opgeval dat sy eintlik heeltemal te mooi skryf. Haar styl is nie gestroop nie. Taaljuwele word terloops uitgestal:

En dan is die halleluja skielik op ons, en die nag word die skip van die katedraal van Santiago de Compostela, en swaai 'n censer oor 'n boog van 'n duisend en een nagte, en dryf die pelgrims uit hul grafte met wierook van vars aarde en klaroengeskal na die Hoëvelddans van die storm.

Ek wil haar nog beskuldig van oordaad, maar word dan verlei deur die towerwoorde wat oënskynlik moeiteloos uit haar stroom, begogel soos die rotte op die spoor van die fluitspeler van Hameln. Sy vertel van 'n oom op wie se plaas Willem Krog en Dot Serfontein elke jaar kom eet het en "hoe 'n verstomde stilte oor hul familie sou neerdaal om in eerbied te luister na die taal wat soos spreuke uit die monde van Antjie se ouers sou vloei." So voel ek oor Dominique se taal.

Besig Vrystaters eenvoudig die mooiste Afrikaans? Ek dink aan Serfontein, Krog, Karel Schoeman, Francois Smith en ander.

Gepraat van die Krogs: Dominique se verhouding met haar dominerende korrelkop-pa herinner aan Antjie s'n met haar ma: moedeloosheid, verbluffing, geamuseerdheid, teësinnige bewondering, liefde. Bittersoet.

Daar is nie 'n sentrale tema nie behalwe herinnering. Aan plekke en mense. Dorpe, monumente, plase. Sommige plekke en mense het ek herken, soos Mister Z, wat "soos 'n Nubiese handelaar gelyk, maar die Afrikaans van Totius gebesig" het. Ek het gaan soek na Breyten en hom hier en daar om die hoek sien verdwyn nog voor die treffende vertelling oor sy begrafnis. Mr B. Die groot digter. Toevallig lees ek dié week in 'n Huisgenoot uit 1965 T.T. Cloete se resensie oor Die ysterkoei moet sweet, Breyten se eerste bundel. In die dae toe 'n resensie deur 'n akademikus nog meer as een (reuse) blad van die tydskrif beslaan het. Cloete het dit as rewolusionêr en as "poësie van ontbinding" bestempel omdat dit anti-poëties is. Hy het wel toegegee dat die beeldvorming keer op keer verstommend is.

Die mooiste huldeblyk ooit aan Breyten is Dominique se enkele sin toe 'n taxibestuurder op pad na die begrafnis vra: "Was he a star?" en sy dink: "He was a constellation." Ek sou dit op sy grafsteen wou sit.

Daar is wonderlike staaltjies, soos van Jan Rabie se broer Louw wat 'n Landrover in George gaan koop het. Toe sit hy in George met twee voertuie en bestuur hulle al twee terug Vanwyksdorp toe: "Hy het toe die een kar 'n ent gery, geparkeer, teruggehardloop en die ander voertuig weer 'n ent verder geparkeer." So het hy honderd en sestig kilometer afgelê.

Ons taal is besig om te verskraal, soos die verteller se tante opgemerk het toe sy ná 'n driekwarteeu in Engeland terugtrek Suid-Afrika toe. Dis beslis nie Dominique se skuld nie.

Ek is dankbaar oor haar, ons Slimminique, met 'n paar druppels Ierse bloed, slawebloed, Voortrekker- en dwarstrekkerbloed en die siel van 'n digter. Wat 'n magiese bundel herinneringe: soms saaklik soos joernalistiek, soms singend soos poësie.

Die huilende bruid en ander versinsels deur Dominique Botha is deur Painted Dog uitgegee en kos R340 by Graffiti.

Dream Girl deur Laura Lippmann

Wat van 'n lekker ou huishoudelike noir om die naweek in te lei? Laura Lippmann het haar al bewys as 'n meester van die genre. Hierdie riller stel ook nie teleur nie. Dit het lyf, handel oor die literêre wêreld en laat jou dink. Dit laat jou boonop lag.

Gerry Anderson is 'n skrywer wie se een roman, Dream Girl, hoewel dit nie sy beste was nie, die algemene verbeelding aangegryp het en hom bly tipeer. Daar is vir dekades gespekuleer oor wie die inspirasie kon wees.

Nou word hy afgepers deur iemand wat daarop aanspraak maak dat die roman op haar gebaseer is. Gerry kan nie uitwerk wie dit is nie, want volgens hom is dit gebaseer op 'n enkele oomblik wat hy waargeneem het tussen 'n paartjie in 'n restaurant. Sy uitgewer plaas druk op hom om sy volgende manuskrip te lewer en hy voel opgedroog.

Dan gly en val hy op die swewende trap van sy nuwe woonstel, 'n moderne argitektoniese wonder. Hy beseer sy been en is bedgebonde. Nou moet hy 'n voltydse versorger en sekretaresse aanstel. Die twee vroue speel om die beurt baas oor hom en algaande begin die leser 'n sinistêre motief vermoed. Hulle is altwee aspirantskrywers met 'n brandende begeerte om te publiseer. Daar is eggo's van Stephen King se Misery.

Dit ontaard in 'n gyselaarsituasie en al wat Gerry aan die lewe kan hou, is sy brein en kreatiwiteit. Nou skryf hy vir sy lewe.

Dis om die beurt roerend, snaaks en ontstellend. Dit word duidelik dat skryf soos 'n verslawing is en skrywers desperate junkies, en dat al wat leef en beef êrens 'n manuskrip onder 'n kopkussing of in 'n laai het en enigiets sal doen om gepubliseer te word. Letterkundige snobisme en elitisme word gesatiriseer, en menslike swakheid.

Die spanning bou meedoënloos op. Die boek is al vyf jaar gelede gepubliseer, maar nog beskikbaar. Ek beveel dit aan.

Dream Girl deur Laura Lippman is deur HarperCollins gepubliseer en kos R325 by Takealot.

hemelwaarts                                                   

vermaer staar die man
uit sy toring van verlange
haar name is stede op ’n kaart
wat hy opgeteken maar verloor het
die voëls wat om sy minaret maal
is so vergete al blind en stom

deur klowe van afskeid en terugkeer kom sy
in ’n jas van woorde gepapier
na die gedig en die waarheid
se maskerdans

en sy vreugde was soos wilde dogters in die veld
wanneer hul hul dansweerkaatsings soen

sal ons vir lief neem met die ure
in mekaar verweef
soos die baba Moses
in sy mandjie van palmiet
verstrik in die graslied
van die bruin rivier
wat weer soos daardie eerste keer soel
na die herwonne wêreld spoel
luister kamiljoentjie
die water is saam met ons bly

nagte word ’n vleuelende vlag
wat ligter as ’n windswael dein
gewieg op die hoogwater
van haar tong wyndonker
bestrooi in verkoolde sterre
om die weg na die korf oop te rook

uit ’n rib van sy lies
het hy ’n fluit gekerf
sodat sy haar hart mag doop
in die heuning wat uit sy lied sypel
hulle saamword is ’n sloot van verlange
omswagtel in ’n windsel van gesange
as bly-by-my deur die beendere genoot

om die trapsoetjies te laat dans
op die minaret se maat
in die grag van stilte waar vlerke dryf

Dominique Botha


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe