Mei is verby

Mei is verby
ANGELA TUCK

Mei en alles daarna deur Zelda Bezuidenhout

Hierdie is ’n soort individuasieroman, al is die verteller reeds in haar vyftigs. Daar is aspekte van Juna se kinderjare waarvan sy nie kan sin maak nie. Haar broer maan haar om vorentoe te kyk, maar haar jongste verlies – haar huwelik wat nie versplinter het nie, maar verbleik het – laat haar terugkyk na haar kinderdae, wat in die teken van verlies gestaan het, veral die gebrek aan moederliefde.

Haar pa was 'n fabrieksbestuurder en hulle het in ’n herehuis gewoon wat na bewering deur Herbert Baker ontwerp is. Sy en haar maatjie wou eendag ’n modeparade vir hul Barbiepoppe hou. Die buurt se kinders sou dit bywoon. Die poppe sou met behulp van vislyn soos ’n galgtou om hul nekke op ’n spoor gly asof hulle loop of sweef soos engele. Maar daardie dag het lelik skeefgeloop.

Bezuidenhout skep koddige, gebroke karakters waarmee die leser identifiseer. Sy is geweldig pittig en soos Carrie Fisher verken sy die komiese aspekte van droefheid en verlies. Sy delf galgehumor uit trauma. Juna praat met ’n vriendin oor haar kinderloosheid en verwys na haar ongenaakbare ma. “Wat het dit met die prys van eierstokke te doen?” wil die vriendin weet. Haar eksman met die ongelukkige naam van Natius was ’n sjef. Hy het soos ’n rou aartappel gelyk maar was trots op sy haredos, wat hy elke aand honderd maal geborsel het om die follikels te stimuleer.

Juna is aanvanklik nie duidelik sigbaar nie, omdat sy nie veel van ’n selfbeeld het nie. Sy is korterig en plomp met yl hare. Geleidelik leer die leser haar ken deur haar gedagteverkennings. Sy verhuis na Erikspos, ’n klein Vrystaatse dorpie, om die res van haar dae daar aan te pak. Die gevoel dat sy haar lewe verspeel het, ry haar bloots. Sy moet die verlede kleinkry.

Dis ’n lieflike, meesleurende roman, polsend van verlies en hunkering. En, soos ons van Bezuidenhout sal verwag, die innerlike krag van ’n vrou wat onderskat was en haarself onderskat het. Dit belig die donker spelonke van herinnering, waar skadu’s teen die wande speel en dit soms onmoontlik is om werklikheid van versinsel te onderskei.

Die lewe is siklies en ons is soos papierpoppies verbind aan ons voorgeslag. En gedefinieer deur ons letsels. Soos die ruïnes van die statige huis waarin sy grootgeword het, is Juna se herinneringe skeletaal, gestroop. Die leser vergesel haar met verwondering op haar emosionele reis.

Mei en alles daarna deur Zelda Bezuidenhout is deur Queillerie uitgegee en kos R288 by Graffiti.

The Secret Lives of Murderers' Wives deur Elizabeth Arnott

Hierdie boek se voorblad herinner aan Dictionary of Lost Words, vaagweg. Dis 'n roman wat meer wil wees as misdaad en noir, en gedeeltelik daarin slaag. Dis nie in die klas van Dictionary of Lessons in Chemistry nie, tog is die karakterisering goed en die boodskap onbeskaamd feministies.

Dit speel in die 1960's af, toe die patriargie se rug nog nie gebreek was nie – dis inderwaarheid nou nog nie. Drie vroue ontmoet omdat hulle mans in hegtenis geneem is as reeksmoordenaars. Beverley se Henry was 'n verkoopsman van lugversorgingseenhede, Elsie se Robert was 'n onderwyser en Margot se Stephen, wat nadat hy vasgetrek is selfmoord gepleeg het, was 'n politikus. Beverley en Margot is mooi, Elsie is valerig. Hulle al drie het niks vermoed nie.

Nou kuier hulle gereeld en sit koppe bymekaar wanneer 'n reeksmoordenaar weer in hulle omgewing doenig raak. Elsie wil graag 'n misdaadjoernalis wees, maar is assistent vir 'n redakteur en van haar word verwag om wasgoed af te haal en tee te maak. Dit was daardie dae. Beverley het 'n affair met 'n speurder en hoor soms besonderhede oor die moorde. Margot is promisku en vol selfvertroue.

Daar is heelwat klem, met reg, op hoe weerloos en uitgelewer vroue is aan die wreedheid van mans. Die koerantberigte fokus op die moordenaar en daar word min ruimte afgestaan aan vroue, die slagoffers:

When the women are given space, it is to make clear that they had brought their own murders upon themselves. By making themselves known. By staying out to late. By kissing the guy. By wearing the short dress. By not taking self-defense classes.

Die roman het ook veel te sê oor die leuens wat aan dogtertjies opgedis word:

You will be loved, they had been told. If you only behave correctly, look the right way, keep your waist slim and your voice quiet, you will be loved. You will be safe.

'n Uitstekende misdaad-noir wat ek aanbeveel.

The Secret Lives of Murderers' Wives deur Elizabeth Arnott is deur Penguin Random House UK uitgegee en kos R395 by Graffiti.

The Divorce deur Freida McFadden

Freida skryf nou soveel huishoudelike noirs dat ek haar daarvan verdink dat sy 'n onderneming geword het met 'n hele span skrywers. Het sy ooit nog tyd vir haar mediese praktyk?

Tog lees ek elkeen wat ek teëkom. Dis altyd hoogs spannend.

Naomi se aantreklike, suksesvolle man, Jeremy, kry haar met 'n slenter sover om uit hulle huis te trek na 'n klein woonstel wat hy besit – hy oortuig haar hulle splinternuwe huis moet gerenoveer word en hy en hulle seuntjie gaan agterbly om in te pak en hulle sal die volgende dag by haar aansluit. Dit gebeur natuurlik nie. Sy word gedagvaar vir 'n egskeiding. Hulle is sonder huweliksvoorwaardes getroud en sy het opgehou werk toe sy swanger was. Boonop wil hy alleentoesig oor die kind hê.

Naomi en Jeremy was gelukkig getroud en sy vermoed 'n ander vrou het sy hart gesteel. Inderdaad is daar gou 'n girlfriend op die toneel; die veel jonger, beeldskone Stefanie. Die leser is heelhartig aan die arme Naomi se kant.

Tot Stefanie aan die woord kom. Wie is die onbetroubare verteller en wie kan geglo word? Wat is die ware stand van sake? Wie gaan wen, wie gaan oorleef?

Nou-ja, ek het naels gekou.

The Divorce deur Freida McFadden is deur Poisoned Press uitgegee en kos R266 by Graffiti.

Uit: The Waste Land

 I. The Burial of the Dead

April is the cruellest month, breeding
Lilacs out of the dead land, mixing
Memory and desire, stirring
Dull roots with spring rain.
Winter kept us warm, covering
Earth in forgetful snow, feeding
A little life with dried tubers.
Summer surprised us, coming over the Starnbergersee
With a shower of rain; we stopped in the colonnade,
And went on in sunlight, into the Hofgarten,
And drank coffee, and talked for an hour.
Bin gar keine Russin, stamm’ aus Litauen, echt deutsch.
And when we were children, staying at the archduke’s,
My cousin’s, he took me out on a sled,
And I was frightened. He said, Marie,
Marie, hold on tight. And down we went.
In the mountains, there you feel free.
I read, much of the night, and go south in the winter.

T.S. Eliot


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe