Oranje en groen

Oranje en groen
Foto deur Alexander Kaufmann / Unsplash
ANGELA TUCK

Read the article in English here.

Ek het dié week onder andere 'n boek uit Japan, een uit Korea en een uit Amerika gelees.

The Final Six deur Akinari Asakura

Shogo Hatanu het klaar gestudeer en is aan die werksoek. Dis 'n bitter ernstige saak in Japan. Daar is eindelose wedywering en slegs 'n paar kandidate word vir 'n tweede onderhoud genooi by 'n gesogte tech-maatskappy in Tokio. Uiteindelik is daar uit duisende net ses oor. Slegs een kan aangestel word en hulle word meegedeel dat hulle laaste toets 'n vergadering gaan wees waar hulle vir ure lank moet debatteer en uiteindelik self die wenner moet kies deur 'n stemmery. Jy mag nie vir jouself stem nie.

Hatanu is uiters ambisieus, maar duidelik nie so ambisieus soos die kandidaat wat 'n koevert met elk van hulle se diepste geheim by die raadsaal laat aflewer nie. Elke koevert is aan een van die kandidate geadresseer en bevat inkriminerende inligting oor een van die ander. Nadat die eerste twee koeverte oopgemaak is, heers daar chaos. Die mees belowende kandidaat het op universiteit 'n meisie swanger gemaak, aangedring op 'n aborsie en haar toe gelos. Nog een het op skool 'n seun geboelie tot die seun selfdood begaan het.

Hatanu kan eerlikwaar nie dink aan enige groot skande in sy verlede nie. Hy is verlief op nog een van die kandidate, Shima. Hy begin vermoed dat sy agter die koeverte sit, maar stem nogtans vir haar. Wantroue en wreedheid is aan die orde van die dag.

Tussendeur voer Shima jare later onderhoude met die menslike hulpbronne-bestuurder en die oorlewende kandidate. Die een wat ontmasker is as die planter van die koeverte is intussen oorlede. Allerhande inligting kom na vore. Die leser bly wonder wie is aangestel, wie was skuldig, wie is dood?

Meer wil ek nie weggee nie, maar dis uiters spannend en, eie aan Oosterse romans, lyk dit my, besonder sinies oor die menslike natuur. Die skrywer is veral, soos ek, sinies oor die proses van werksonderhoude en aanstellings. Kandidate lieg skaamteloos en die maatskappy lieg op hulle beurt: "It's a sick cycle. Students lie to get into companies. Companies lie to reel students in. HR can't actually judge anyone, so idiots slip through."

Dis 'n "runaway Japanes bestseller." Jy sal naels kou.

The Final Six deur Akinari Asakura is deur Sphere uitgegee en kos R524 by Exclusive Books.

Orange and the Bread Knife deur Cheong Ye

Die Koreaanse boek (in Engels vertaal deur Slin Jung) is een van daardie romans wat met jou kop smokkel en tafeltennis speel met jou emosies. Dis werklik vreemd, op die manier wat ek al te wagte is van Koreaanse literatuur. Die hele roman is 'n innerlike gesprek. Die verteller worstel met haarself, tob en weeg alles eindeloos op. Yeongah wil 'n goeie mens wees. Sy wil soos haar vroom vriendin Eunju wees. Eunju wil die hele wêreld red en die onberispelikste mens op aarde wees. Sy skenk geld vir welsynorganisasies, teken petisies, daag op vir betogings, eet net organies en kwel haar oor die omgewing. Ongelukkig is sy ook baie voorskriftelik en verwag dieselfde van Yeongah. Sy stuur daagliks vir haar honderde WhatsApps met skakels na hulpbehoewende sake. Yeongah probeer oral skenk en help, maar voel steeds nie waardig nie en vra gedurig om verskoning. Eunju hou daarvan as sy verskoning vra.

Yeongah se kêrel laat haar ook onwaardig en soos 'n slegte mens voel. Hy is die beste mens op aarde, doen alles om haar gelukkig te maak en is heeltemal onselfsugtig. Dit laat haar selfsugtig en skuldig voel en sy vra in haar verhouding ook gedurig om verskoning.

Sy is 'n kleuterskoolonderwyseres en daar is een probleemkleuter wat woedende vloermoere gooi en oorverdowend skree. Hy skop haar herhaaldelik teen die ruggraat, maar die skoolhoof verwag van haar om hom ook om verskoning te vra. Sy ervaar geen vreugde in haar lewe nie en raak toenemend depressief.

Dan gaan sy op aandrang van haar kêrel na 'n Mediese Instituut wat staatsgefundeer is en ter wille van 'n eksperiment mense gratis behandel. Hulle voer sommer onder lokale verdowing 'n klein prosedure uit wat 'n sekere deel van haar brein stimuleer. Die effek gaan glo net vir sewe dae hou.

Yeongah is ná die prosedure konstant woedend. Sy doen net wat sy wil - vertel haar vriendin dat sy haar haat en tree kil teenoor haar kêrel op. Dan begin sy lag. Sy rol op die grond rond van die lag oor die vryheid wat sy skielik het om nie meer gepla te wees daaroor om 'n goeie mens te wees nie. Sy eet wat sy wil. Haar enigste vrees is dat die gebrek aan selfbeheer en inhibisie wat sy ervaar, van verbygaande aard is en dat sy na die vryheid gaan bly hunker: "I made the choices I made because I wanted to be a good person, but where did those choices lead? A life where I had everything I never wanted."

Só beskryf sy geluk: "Like an insect with its head already swallowed, realizing its limbs were still free. Like a fish thrown in water who had just realized it had gills. Like a child at the doors of an empty school finally remembering that the holidays had started."

Lees maar self wat gebeur.

Orange and the Bread Knife deur Cheong Ye is deur Headline Publishing Group uitgegee en kos R462 by Exclusive Books.

The Final Target deur Nora Roberts

Omdat ek tuis voel in die wêreld van boeke, lees ek graag oor skrywers. Arden Bowie is 'n jong skrywer wie se boeke soos soetkoek verkoop. Toevallig is sy beeldskoon, soos al die helde in Nora Roberts se boeke: Lank en lenig met rooi hare. Sy word die teiken van 'n onstabiele man wat haar bekruip en oral voorlê. In sy kop is hulle bestem om saam te wees. Sy plan is om haar na 'n afgeleë berghut te neem en daar in afsondering te leef. Sy sal soos 'n slaaf werk en hom bedien. Sy sal darem mag aanhou skryf tot die kinders begin kom (hy wil 'n dosyn hê).

Een aand daag hy by haar woonsteldeur op met 'n groot bos blomme. Sy maak oop om hom te vra om te gaan, maar hy glip in. Toe sy haar teësit, slaan hy haar, gooi haar teen die grond en begin haar verkrag. Gelukkig hoor haar buurman die lawaai en kom kyk. Die ongeblanseerde vent, Dustin, hardloop weg. Hy word in hegtenis geneem, maar sy familie ken nie die einde van hulle skatte nie en hy gaan nie tronk toe nie, net vir vyf jaar na 'n inrigting. Hy tel die dae en droom van wraak. En steeds van die huisie in die berge.

Intussen probeer Arden aangaan met haar lewe. Sy verhuis na die platteland, waar sy 'n lieflike huis inrig. Toevallig is die polisiehoof en plaaslike houtwerker onmenslik aantreklik en daar is 'n vonk tussen hulle. Intussen is vyf jaar amper verby en die gek rykmanseun is op pad na haar toe. Lees dit self.

Nora Roberts skryf baie boeke en ja, daar is 'n resep. Die goeie mense is beeldskoon en van liefde aanmekaar gesit. Die booswigte is vrot tot in die kern. Daar is trauma en liefde en die leser weet wat gaan seëvier. Ek het verlangse familie wat net haar boeke lees. Hulle lees nie so vinnig nie en sy skryf 'n paar per jaar. As dit jou ding is, is dit meesterlik uitgevoer.

The Final Target deur Nora Roberts is deur Piatkus uitgegee en kos R347 by Graffiti.

And I Was Alive

And I was alive in the blizzard of the blossoming pear,
Myself I stood in the storm of the bird–cherry tree.
It was all leaflife and starshower, unerring, self–shattering
power,
And it was all aimed at me.

What is this dire delight flowering fleeing always earth?
What is being? What is truth?

Blossoms rupture and rapture the air,
All hover and hammer,
Time intensified and time intolerable, sweetness raveling rot.
It is now. It is not.

Osip Mandelstam
Vertaal deur Christian Wiman


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe