Om weg te loop

Om van voor af nes te skrop, verg baie werk en fokus. Ek het verlede week benewens manuskripte en Afrikaanse boeke vir resensies, net een roman gelees. Dit was darem 'n deurdrumpel van 'n boek - 511 bladsye dik.
The One Who Walked Away deur Karen Rose
Rose is 'n Sunday Times-topverkoper outeur. Sy het etlike reekse geskryf wat in verskillende stede in die VSA afspeel. Hierdie alleenstaande roman katrol die leser van die staanspoor af in.
Giselle Randolph is 'n bounty hunter, maar hulle verkies om fugitive recovery agents genoem te word. Hulle spoor mense op wat nie hulle borgtogvoorwaardes nakom nie en op die vlug staan, ook genoem skippers, en slaan hulle dan in boeie. Teen vergoeding.
Die leser leer Giselle of Elle in die eerste hoofstuk ken as vroueregte-prokureur en mishandelde vrou. Sy steek die mishandeling vir almal weg, want hoe sal dit lyk as sy, wat vroue aanmoedig om pad te gee uit destruktiewe verhoudings, gedweë aanbly? Haar man, Todd, is 'n privaatspeurder wat die bottel liefhet. Sy besluit wel om van hom te skei, maar ná haar skoonma se verjaardagpartytjie vra haar skoonpa haar om hom huis toe te bestuur - hy is beskonke en briesend omdat sy hom wil verlaat. Hy gooi drank oor haar uit en gryp die stuurwiel. Hy slaan haar, sodat sy beheer oor die kar verloor. Sy tref 'n telefoonpaal en Todd vlieg deur die voorruit - dood. Ongelukkig was daar ook 'n ander motor wat nie gou genoeg kon uitswaai nie. Twee insittendes is dood en 'n jong seun beseer. Elle is die een wat weggestap het.
Todd se familie blameer haar vir sy dood en in die pers word sy uitgekryt as dronkbestuurder wat drie lewens geëis het. Gelukkig het die kar, Todd se werksmotor, 'n webkamera gehad en alles is op film vasgelê. Sy het ook geen alkohol in haar bloed gehad nie. Sy word dus vrygespreek, maar haar beeld is beskadig en sy besluit om Florida te verlaat en elders oor te begin.
Haar vriendin Sara bied haar werk aan as vlugtelingopsporingsagent. Dis gevaarlike werk. Sy en Sara is op die spoor van 'n man wat 'n kunsgalery besteel en twee mense geskiet het. Sy kredietkaart is twee maal in Willits, Kalifornië gebruik. Sy kinderbruid en hul baba is saam met hom en dit lyk asof hulle êrens in die woud uitkamp. Ongelukkig is daar in die woud onwettige daggaboere wat nie huiwer om te skiet nie.
Elle het 'n tweede keer die nuusbulletins gehaal toe sy 'n vlugteling agtervolg het wat 'n kind as gyselaar geneem het. Hy het 'n huis aan die brand gesteek en sy het ingestorm en die kind gered, maar kon hom nie red nie. 'n Foto van haar wat met die huilende kind uit die brandende huis storm, het soos 'n veldbrand op die internet versprei.
Die vlugteling se suster het gedreig om Elle terug te betaal vir haar broer se dood, en word kort daarna dood aangetref met een van Elle se hare langs haar. Gelukkig was Elle ten tyde van die moord in Intensiewe Sorg, so sy het 'n waterdigte alibi gehad.
Daarna was sy 'n legendariese figuur en mense het haar handtekening gevra. Van hierdie soort blootstelling het sy ook niks gehou nie. Sy is besonder goed in haar werk, maar begin wonder oor die loopbaankeuse. Sy word gedurig gedwing om vir die polisie en publiek te jok, iets wat teen haar beginsels indruis.
Het ek nagelaat om te noem dat Elle natuurlik, uit die aard van die saak, jonk en mooi is: lank en slank met lang, rooi hare. In Kalifornië vang sy die oog van 'n speurder wat 'n moord ondersoek - Ronan Clarke. Natuurlik is hy ook lank, blond, enkellopend en aantreklik en natuurlik het die moord wat hy moet oplos, te doen met die vlugteling wat sy en Sara agternasit.
Nog 'n paar moorde word gepleeg en dit word duidelik dat Sara self in die moordenaar se visier is en dat hy probeer om haar onder verdenking te bring vir die moorde.
Intussen groei die aantrekking tussen Elle en Ronan. Niks mag gebeur nie, want hy wil nie die moordondersoek kompromitteer nie en Sara glo glad nie daaraan om die polisie van enige inligting te voorsien nie. Dis die ou staatmaker in romanses - die uitsteltegniek. Natuurlik wantrou hulle mekaar soms en misverstande bly nie uit nie.
Meer wil ek nie weggee nie. Dis effens te mooi en soet en die liefde brand soos 'n warm kerrie-aartappel, maar dis ideaal vir 'n naweek se ontsnapping. Ek het redelik vroeg raakgesien hoe die vurk in die hef steek, maar ek lees ook soveel misdaad-noir. Rose is 'n storieverteller van formaat.
The One Who Walked Away deur Karen Rose is deur Headline Publishers uitgegee en kos R674 by Exclusive Books.


Wat bly oor?
as ʼn mens lukraak missiele tussen wonings injaag
is dit nie oorlog nie, maar massamoord –
as ʼn mens plekke van godsdiens ten gronde lê
is dit nie oorlog nie, maar mensewraak –
as ʼn mens skiet om nie die gemaskerde terroriste raak te skiet nie
– maar om soos die leier sê – Gaza plat te maak met die grond
dan besig jy jouself met misdade teen die mensdom –
apartheidshaat in ʼn apartheidstaat
as jy jou bondgenoot in Washington skakel
en hy beloof jou al die wapens wat jy nodig het
dan is hy nét so aandadig soos jy
vir wie veg jy hierdie oorlog en waarom
wapper jou vlag nog halfmas in die verte?
wat bly oor
as mense reg oor die wêreld getuie is
van jou selfopgelegde mortierereën
wat luidkeels vir genoegdoening
kom smeek in ʼn hardhandige
vrye vers, sonder koeëls,
óf ritme of jóú volhoubaarheid?
miskien net ʼn paar vingers op die knoppies
van ʼn geskokte sosiale media afsetgebied
wat soos die besette grondgebiede
bang, bang op hulle voete gedwing
sal word deur die tragedie
van die waarheid
Bester Meyer