Liminaliteit

Liminaliteit
Foto deur M M / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Die ritme van die dae in ons kusdorpie geval my. In die gras langs die pad steek geel blommetjies oral kop uit, soos vlinders wat huiwer, soos geel verf wat gemors het. Daar is een inwoner wat obsessief, oral, vroeg en laat langs die pad onkruid uittrek. Dit het haar die bynaam Hol Omhoog besorg. Om te verhuis en in te burger is soos om joga, Pilates en Tai Chi te beoefen, om gewig te stoot, spies te gooi en hoog te spring. Buk, kniel, rek, strek en beur. Die Hol Omhoog-skool van fiksheid.

In ons kusdorpie is dit nie meer winter nie en nog nie somer nie. Ek was nog altyd begogel deur tussenin-state. Die trappe van verandering, soos video's van 'n blom wat oopgaan, soos daardie boekies toe ek 'n kind was; as jy vinnig blaai, verander die prentjie. Die hele lewe is 'n tussenin-staat.

Gister by 'n boekbespreking uiter my slim vriendin Renée die woord "liminaliteit" en ek ril van lekkerkry, want dis my soort woord.

Liminaliteit is die kwaliteit of staat van op die drumpel wees, "betwixt and between" tussen die boom en die bas, nóg vis nóg vlees. Tussen twee stadia, plekke, of toestande. 'n Mens beleef dit intens wanneer jy van een provinsie na 'n ander verhuis of wanneer jy reis. Jou lyf is daar, maar jou gees is nog êrens onderweg.

Die woord is ontleen aan Latyn: limen beteken drumpel of deuropening.

In die staat van liminaliteit het 'n persoon byvoorbeeld hul ou identiteit of status agtergelaat, maar nog nie die oorgang na 'n nuwe een binnegegaan of voltooi nie. So voel ek lewenslank: 'n werk in wording. In hierdie staat is mens en dier weerloos, amper huidloos, en benodig beskerming. 'n Slang wat vervel, 'n vlinder wat uit die kokon beur.

Die middelfase van oorgangsrituele is disoriënterend. As die hele lewe vir jou van kleins af gedisoriënteerd was, soos vir my – as jy linkshandig gebore is en gedwing is om regs te skryf, as jy vir alles 'n antwoord gehad het en gebreinspoel is dat dogtertjies moet stilbly en nie teëpraat nie, dan luister jy maar later omdat jy geïndoktrineer is dat jou waarde afhang van hoeveel die teenoorgestelde geslag van jou hou. Wanneer jy jouself herhaaldelik daaraan moet herinner dat jy na die teenoorgestelde geslag moet hunker en tog nooit as te nimmer na jou eie geslag nie. Wanneer alles wat sogenaamd natuurlik is, vir jou moeilik is om aan te leer. Wanneer jy dan nog onder die teken van die Vis gebore is, is jy sonder kompas op die oop oseaan, sonder padkaart in die woud. As die lewe se reëlboek vir jou geen sin maak nie en jy oral tussen kategorieë val, raak jy verlief op transmutasie en liminaliteit.

Daar is skoonheid in oorgang, omdat dit vervlietend is. Ek dink aan 'n vul wat op lang bene rondsteier, aan babadiertjies wat nog hulle pote moet ingroei. Oor die skoonheid van kinders wat net kniekoppe en elmboë is, swyg 'n mens eerder, want sekere wêreldlinge is so verfoeilik. Wat sag is, vergaan.

Liminaliteit kan ook na 'n toestand tussen twee state verwys: Tussen slaap en wakker, daardie magiese oomblikke wanneer 'n mens nog in beelde dink en jou oë vol sand is. Tussen dag en nag, wanneer dit nog nie lig is nie, maar nie meer donker nie. Die hele skepping hou asem op. Dagbreek is lieflik. En skemer trek my aan. Dusketyd.

Die oorgang van seisoene duur 'n oogwenk, maar is in sekere provinsies 'n dramatiese, triomfantelike ontploffing.

Dit kan ook fisiese ruimtes wees: leë sale in die nag, lughawens teen middernag, piekniekplekke langs die pad; ruimtes vir aandoen en nie vertoef nie. Huisies, heuwels en dorpies wat verbyskuif in 'n treinvenster of motorruit.

Ek lees Gen Z is veral aangetrokke tot liminaliteit. Gen Z is die demografiese groep wat tussen 1997 en 2012 gebore is. Hulle is behep met leë ruimtes in oorgang, soos winkelsentrums wat gesluit is, verlate geboue en parkades. Dit weerspieël blykbaar hulle gevoelens van eksistensiële limbo, ekonomiese onsekerheid en die hunkering na 'n eenvoudiger kindertyd voor die digitale era.

Dan is ek in my hart Gen Z. Soos Elon Musk van die letter X hou, is ek stout vir Z. My een dogter se naam begin met hierdie laaste letter van die alfabet.

Die hele wêreld was nog altyd in 'n toestand van verandering. Die Engelse woord is flux. Mense is van nature rusteloos en nomadies en glo altyd die gras is groener aan die anderkant. Hulle het oseane oorgesteek en vreemde vastelande ingeval en verower, soos die Skandinawiese Vikings Europa, soos bleekgesigte van oraloor die Verenigde State van Amerika. Soos Protestante, dwarstrekkers en imperialiste van elke uithoek van die aarde Afrika ingepalm het. Maar dis asof die wêreld besluit het: Tot hiertoe en nie verder nie. Ons almal het gebiede ingeneem, daar nes geskrop en sit daar nou warmpies in, maar nou laat ons geen vlugtelinge meer binne nie. Dis soos musical chairs: die musiek het opgehou en nou bly jy waar jy is, al is dit buite die kring, in jou onleefbare, verwoeste land. So rigied het die wêreld geword, lyk dit my.

Liewe vriende, kom ons omhels flux, liminaliteit en transformasie. Alles is nie swart en wit nie. Daar is tussentoestande, heelwat grade op elke boog, talle skakerings op die kleurwiel. Die reënboog verskyn vir 'n oomblik en miskien is dit 'n lugspieëling, maar dit behoort aan almal.

Ek bemin hersenskimme, skadu's, eggo's, weerkaatsings en illusies. Moenie my pla nie, ek muteer.

Liefde
Deborah

Vir Joan op sewentig

My candle burns at both ends;
It will not last the night;
But ah, my foes, and oh my friends
It gives a lovely light!
Edna St Vincent Millay – First Fig

Op sewentig word digters
hier in ons kontrei gehuldig en vereer,
lofprysings en blyke van waardering
geskryf en gepubliseer,
begin meeste digters terugkyk
op ‘n loopbaan en lewe goed geleef,
maar jy storm volspoed, onverskrokke voort
sonder om links of regs te kyk,
skynbaar oor jy vergeet het
(of dalk het niemand jou dit ooit geleer nie)
watter pedaal die petrol is,
watter een die briek.

Hendrik J. Botha

Uit: Versindaba

Veels geluk, Joan Hambidge, 11/09


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe