Droomlogika

Liewe vriende
Ons beleef die draai van die seisoen op 'n nuwe breedtegraad. In 'n kusdorpie is daar allerlei legendariese figure en onderhoudende anekdotes. Ou inwoners waarsku jou byvoorbeeld: As jy 'n verslonste kaalvoetman sien, moenie probeer om vir hom geld te gee nie, dis Fanie Olivier. Maar ek wil nie 'n werfjoernaal skryf nie. Ek wil geblinddoek met 'n stok in die donker rondvoel, ek wil spookasem spin.
In die nag tob ek oor die onderstebo logika van drome. Ons leef twee lewens: een wakker en een vas aan die slaap. Elke staat het sy eie reëls en wette. Swaartekrag geld nie meer in drome nie, waar ek ver en hoog vlieg en sekuur en geoefend op 'n kopspeld land. Identiteite is nie in rots gegiet nie. Jy verander in 'n oogwenk in my broer of my ouma, of 'n eendvoël. Daar is ruimtes wat ek wakend nog nooit betree het nie, maar herken uit ouer drome, waarvan ek die landskap en argitektuur intiem ken.

Gevoelens is vloeibaar. Liefde kan ongesiens tot haat skif en dan muteer tot ongeërgdheid. Vrye wil is opgeskort, ek sien myself dinge doen waartoe ek nooit geglo het ek in staat is nie, willoos. Oorsake het nie altyd gevolge nie. Soms los die decor eenvoudig op soos in 'n rolprent, en die toneel verskuif na 'n ander lokaal. Ontknopings bly uit. Vrae hang onbeantwoord in die lug, met 'n vraagteken wat sidder soos 'n boemerang en die eggo van verbluftheid.
Wakker en slaap. Die twee state is poreus; soms bloei besonderhede van die een in die ander soos nat waterverf. Ek sien in die dag 'n gesig wat my herinner aan 'n vergange liefde, en droom in die nag van haar. Jy was wreed teenoor my in 'n droom en vandag bejeën ek jou met versigtigheid. Jy was so kil. Hoe kon jy?
Drome los op in die nanagure en laat net die sweem van 'n gewaarwording na. In 'n boek waarvoor ek lief is, The Hundred Secret Senses deur Amy Tan, leer die verteller se Chinese halfsuster haar hoe om drome te herroep, hoe om met flardes van drome 'n touleer te vleg en van die laaste droom van die nag terug te navigeer na die eerste. Ek moet dit nog bemeester. Ek word wakker met net een of twee skerwe in my hand.

My oorlede broer Hendrik, 'n geïnspireerde dromer, het my probeer leer om helder en bepland te droom. Hy het gesê: "Deborah, as jy kan vlieg, dan weet jy dis 'n droom. Dan kan jy dit stuur nes jy wil." Maar, sien, ek wil nie weet dis 'n droom nie. Ek wil vlieg en weet dis waar. Ek wil dit nie regisseer nie, ek wil dat dit met my gebeur, die nagtelike avonture. Selfs al duik daar soms skrikwekkende gedrogte op.
Soms raadpleeg ek soggens aanlyn 'n droomwoordeboek op soek na betekenis. Dis interessant, maar alhoewel ek glo dat sekere simbole universeel is, glo ek tog dat heelwat persoonlik is, my eie droomtaal. Een van my gunsteling CD-titels is Insomniak se droomalmanak deur Roof Bezuidenhout.
Ek droom nou die nag die begin van 'n roman, met die ganse premis daarin vervat. Ek wou dit neerskryf, maar dis my nog net so helder voor die geestesoog soos toe ek dit gedroom het. Dit bly aanklop.
Ek het al oplossings raakgedroom. 'n Mens se brein is wakend gemoeid met 'n probleem en wanneer jy gaan slaap sit die onderbewussyn hand by. Daar was talle sulke gevalle in die geskiedenis:
Elias Howe het gesukkel om die ontwerp van die naaimasjien te voltooi totdat hy droom barbare neem hom gevange met spiese wat oogvormige gate naby die punt het: siedaar, die naald.
Dmitri Mendeleev het jare lank probeer om die elemente te organiseer voor hy die hele periodieke tabel in 'n droom gesien het.
Paul McCartney het die hele melodie van die liedjie "Yesterday" in 'n droom gehoor.

Niels Bohr het die struktuur van die atoom gevisualiseer nadat hy gedroom het hy ry op die son met die planete wat daarrondom draai, gekonnekteer deur lyne.
Frederick Banting was die mede-ontdekker van insulien nadat hy droom hy bind die pankreatiese kliere van 'n hond af om die uitskeiding te isoleer.
Sielkundiges het die gewig van drome nog nooit onderskat nie. Freud het geglo dis die hoofweg na die onderbewussyn. Dat drome vermomde vervullings van onderdrukte wense of begeertes was, dikwels uit die kinderjare.
Jung het drome beskou as natuurlike, direkte uitdrukkings van die gemoed wat probeer om psigologies gebalanseerd en heel te word. Dat drome kompenseer vir dele van die persoonlikheid wat in die wakende lewe verwaarloos of onderverteenwoordig is.
Liewe vriende, hou 'n droomalmanak op jou bedkassie. Delf uit die verborge helfte van jou lewe. Daar is ryke stof. Wanneer absoluut niks sin maak nie, spruit daar uit die gekantelde chaos wonderbaarlik kreatiewe idees. Dan word jou boude los en jy sing in vrye vers.
Liefde
Deborah

Insomniak se droomalmanak
Jy probeer jou oë alweer met die beelde verblind
Maar tussen wakker en slaap word jy deur ure verslind
Die sekondes en minute grynslag een vir een
Knaag die nag soos 'n aasdier, tot op die been
Al hierdie dinge word aangeteken
Alles word noukeurig in detail bewaar
Vir die duisende wat slaap, vanaand in hierdie stad
In elke insomniak se droomalmanak
Om skape te tel, weet jy lankal is verniet
En jy val nie meer so maklik vir 'n wiegelied
Probeer tog maar Mozart se klarinet konsert
Of Leonard Cohen se wals met sy asem en sy stert
Al hierdie dinge word aangeteken
Alles word noukeurig in detail bewaar
Vir die duisende wat slaap, vanaand in hierdie stad
In elke insomniak se droomalmanak
Die rapper gryp sy crotch vas en wys met sy vingers
Maar jy’t sy bek gesnoer met die remote control
Ook die laatnagekonoom wat die prys van goud bereken
Of die lipsticknuus wat vir niemand iets beteken
Al hierdie dinge word aangeteken
Alles word noukeurig in detail bewaar
Vir die duisende wat slaap, vanaand in hierdie stad
In elke insomniak se droomalmanak
Springsteen het so lank terug al die waarheid gesing
Al die channels in die wêreld gee jou eintlik maar min
Mannekyne, pikkewyne, tiete, satelliete
Fashion TV, war TV, los my uit dat ek slaap TV
Al hierdie dinge word aangeteken
Alles word noukeurig in detail bewaar
Vir die duisende wat slaap, vanaand in hierdie stad
In elke insomniak se droomalmanak
Andries Bezuidenhout