Noir maar nie pinot nie

Noir maar nie pinot nie
Foto deur Joel Henry / Unsplash
ANGELA TUCK

Ocean deur Polly Clark

Hierdie roman het 'n onheilspellende voorblad, met 'n klein seiljaggie in die magtige oseaan, dobberend in die stormsee. Dit is huishoudelike noir, maar ook iets heel anders.

Helen is 'n onderwyseres wat besonder goed aanklank vind by haar probleemleerders in Londen. Sy is die ma van 'n seuntjie en gelukkig getroud met 'n suksesvolle man. Op 'n dag word alles op sy kop gekeer. Sy is hoogswanger met haar tweede kind, 'n dogtertjie, in die trein op pad huis toe toe 'n onstabiele tiener 'n selfmoordbom laat afgaan. In die geharwar beland sy onder malende mensevoete en iemand in skerp hoëhakskoene gaan staan op haar maag.

Sy word gered deur 'n onbekende man, James. Hy help haar om te kalmeer en uit die stasie te kom. Toe sy in die hospitaal bykom, roep sy nie na haar man Frank nie, maar na James. Sy het die kind verloor.

Die vorm wat haar rouproses aanneem, is 'n obsessiewe fiksasie met James. Sy skryf eindelose briewe aan hom en probeer hom opspoor. Haar huwelik ly daaronder.

Intussen daag haar mees problematiese leerder, Sindi, by hulle huis op en vra om daar te bly. Haar pleegouers is in 'n vuur dood. Frank besluit die manier om sy huwelik te red en sy vrou te verlos van haar obsessie, is om 'n seiljag aan te skaf en om die wêreld te vaar. Hy koop die seiljag waarop hulle ontmoet het en restoreer haar.

So durf hierdie vier getraumatiseerde mense die see aan: Frank, Helen, hulle seun Nicholas en Sindi. Wat volg is 'n onneersitbare avontuur waar elke emosie op die spits gedryf word en die mense oorgelaat is aan die elemente. Storms ter see word verdwerg deur die konflikte wat in hulle ongemaklike dinamika woed. Alles stuur op 'n onvermydelike ramp af.

Clark is 'n bekroonde skrywer en die roman het meer om die lyf as die gebruiklike, resepmatige noirs wat in 'n huishouding afspeel. Sy is ook 'n digter. Ek beveel dit hoog aan, veral ook vir die insig wat dit lesers bied in die menslike psige. Hier is 'n voorsmakie:

Beauty in the wife reinforces the marriage.
But beauty in the husband is a catastrophe. It's a bomb rolling unexploded in the hull. The beautiful husband draws assaults on the marriage, and the assaults will not relent until either the marriage is extinguished or the beauty fades. Women, as Frank and I found, recognise no possessions of other women, respect no marriage. The beautiful husband remains free and at large.
Frank's catastrophic beauty came upon us so gradually, like a kind of weathering, or even a despoiling of the Frank I once knew, that I did not spot the moment of definitive change
.

Ocean deur Polly Clark is deur Lightning uitgegee en kos R441 by Amazon SA.

It Could Have Been Her deur Lisa Jewell

Van Lisa het ek al etlike donker juwele gelees. Sy is 'n Britse outeur en topverkoper in die huishoudelike noir-genre.

Die sentrale karakter is Jane Trevally. Toe sy jonk was, het sy een nag toe sy onder die prop was, 'n statige ouer man in 'n kroeg ontmoet en saam met hom huis toe gegaan. Sy vrou was ook daar en hulle het haar 'n werk aangebied as au pair vir hulle kinders. Iets het nie reg gevoel vir Jane se beskonke gemoed nie en toe daar 'n harde slag in die huis gehoor word en die man, Allen, vir haar 'n martini aangee, het sy dit omgestamp en buitentoe gevlug. Sy het weggehardloop en nog altyd geweet sy het daardie nag iets afgrysliks vrygespring.

Nou is sy middeljarig en steeds effens verlore. Sy besluit om die vervalle ou huis wat sy van haar ouers geërf het, te verkoop en laat kom 'n eiendomsagent. Op dieselfde dag kom sy op 'n wit hondjie sonder halsband af toe sy met haar vier honde gaan stap. Die veearts skandeer hom en verskaf die adres.

Dit is dieselfde huis waaruit sy daardie nag toe sy jonk was, ontsnap het. 'n Ander man maak die deur oop: Stuart, onversorg en nors. Hy sê dis sy stiefdogter se hondjie.

Jane, wat twee maal geskei is en op goeie voet met haar welgestelde eksmans en veral hulle kinders is, is op soek na sin en betekenis. Sy besluit sy wil 'n privaatspeurder word. In hulle omgewing het 'n jong meisie verdwyn - die eienaar van die wit hondjie. Sy glo dit het alles met daardie onheilspellende huis te make en is vasbeslote om die huis se donker geheime uit te pluis. Sy besef dit kon sy gewees het, soos die titel voorstel.

Algaande begin die verlede sin maak. Sy skop 'n perdebynes oop en met die hulp van haar geliefkoosde stiefseun vat sy die spoor.

Jewell weet hoe om oortuigende, volronde karakters te skep en haas ondraaglike spanning. Ek beveel dit hoog aan vir noir-connoisseurs, misdaadvrate en liefhebbers van sielkundige rillers.

It Could Have Been Her deur Lisa Jewell is deur Century uitgegee en kos R275 by Amazon SA.

The Unknown Shore


Sometime at Eve when the tide is low
I shall slip my moorings and sail away
With no response to a friendly hail
In the silent hush of the twilight pale
When the night stoops down to embrace the day
And the voices call in the water's flow
Sometime at Eve When the water is low
I shall slip my moorings and sail away.
Through purple shadows
That darkly trail o'er the ebbing tide
And the Unknown Sea,
And a ripple of waters' to tell the tale
Of a lonely voyager sailing away
To mystic isles
Where at anchor lay
The craft of those who had sailed before
O'er the Unknown Sea
To the Unknown Shore

A few who watched me sail away
Will miss my craft from the busy bay
Some friendly barques were anchored near
Some loving souls my heart held dear
In silent sorrow will drop a tear
But I shall have peacefully furled my sail
In mooring sheltered from the storm and gale
And greeted friends who had sailed before
O'er the Unknown Sea
To the Unknown Shore

Elizabeth Clark Hardy


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe