Dis-nis

Liewe vriende
Vanoggend vertel my haarkapper my iets. Ja, ek het 'n haarkapper, tot ons volgende week verhuis. Haar naam is Tronelle, soos in Die katartiese metode. Sy is lieflik. Sy vertel van iemand van 30 wat sê nie een van sy vriende wil kinders hê nie. Alles is te onseker. En nou praat ons nie van misdaad, geweld en munisipale korrupsie nie. Ek praat van Kunsmatige Intelligensie. Die monster wat die mens geskep het, die slim wat besig is om sy baas te vang.

Ons is kniediep in die vyfde industriële rewolusie.
Die dryfvere van die eerste en tweede, vanaf die laat agtiende eeu, was water- en stoomenjins, steenkoolmyne en die tekstielindustrie. Algemeen beskikbare elektrisiteit, petroleum, interne verbrandingsenjins en staalvervaardiging.
Die derde rewolusie, in die laat-twintigste eeu, is aangedryf deur persoonlike rekenaars, die internet, halfgeleiers en elektroniese beheersentrums.
Die vierde, in die huidige eeu, se dryfvere is Kunsmatige Intelligensie (KI), robotika, 3D-drukkers en kwantumberekeninge.
Die vyfde industriële rewolusie, waar ons tans tot by ons ore in is, laat glo die fokus verskuif van suiwer digitale rekenarisering na 'n mensgesentreerde, empatiese en volhoubare model waar mense en gevorderde masjiene soos KI en robotte sy aan sy werk. Die doel is kamma om mense se lewens makliker te maak. Ha. Die ware doel van die begin af was om sekere indiwidue se sakke voller te stop.
Die mens se skepsel het hom in die hakskeen kom byt. Met elke industriële rewolusie het mense gemor dat masjiene hulle werke afrokkel en dit was nog nooit so waar soos nou nie. Ek wil nie op 'n gekke komplot-appelwaentjie spring nie, ek wil eerder dink aan hoe dit ons raak, ons van vlees en bloed.
Media 24 is besig met nog 'n vlaag afleggings. Reducing the head count, word dit genoem. Die oorsaak wat hulle aanvoer is digitalisering. Mense koop minder tydskrifte en koerante. Hulle lees die nuus in happies oraloor, soos dit gebeur. Joernaliste wat 'n lewe lank passievol skryf oor die wêreld gaan opeens sonder reddingsboei op die oop see dobber. Jy kan maar wuif, daar is geen skepe in sig nie. Die horison is leeg. Ek was al daar. Skielik verdwyn alle vastigheid onder jou voete soos 'n smeltende ysblok onder 'n poolbeer.
Op die verlate oseaan van die drukmedialandskap verskyn toe 'n nuwe Afrikaanse publikasie genaamd Die Papier. Ek was opgewonde. Ek is herhaaldelik gevra om vir hulle boekeblad te skryf. Ek het getrou my faktuur gestuur maar is nooit 'n sent betaal nie. Die redakteur ignoreer nou my e-posse. Is dit die manier om 'n papierbootjie op die water te hou?
Ek ken jong mense wat nog nooit 'n vaste betrekking gehad het nie. Daar is eenvoudig nie opsies nie. Nie almal is entrepreneurs wat self werk kan skep nie. In my dogter se vriendekring werk nie al twee partners altyd nie. Dit het weer aanvaarbaar geword om onaangestel te wees.
Ons is ongelukkig gesosialiseer om te glo dat 'n mens se waarde lê in wat jy doen. Dat jy jou nis moet vind en onverpoos arbei tot op jou oudag. Maar dis nie vir almal beskore nie.
As jy egter nie 'n salaristjek, Kerspartytjie, medies en pensioen het nie, moet jy 'n ander nis vind wat jou uit die bed laat opstaan. Iets wat jou laat voel dat jy as mens die moeite werd is en 'n verskil maak in die wêreld. Alle waarde moenie aan geld gemeet word nie.
Dis belangrik dat ons 'n diens lewer en ten minste een mens se lewe elke dag beter maak. Jy kan mooi brode bak, die tuin verfraai, al die rompslomp behartig, bejaardes en siekes besoek. Jy kan lukrake gunste uitdeel. Jy kan aan jouself werk, lees of podcasts luister as dit jou ding is, sodat jy interessante gesprekke kan voer. Moet net nie verbitterd, swartgallig en dranksugtig word nie. Vermy die bed bedags, of die rusbank. Vermy nagklere helder oordag of sweetpakke wanneer jy nie oefen nie. Kam jou hare, borsel jou tande en gaan die dag tegemoet. Plant 'n boom.

Ook: As masjiene dan die dinkwerk doen, rol jou moue op en werk met jou hande. Verrig take wat robotte dronkslaan, soos om met mense se honde te gaan stap.
Êrens gaan die hele kaboedel moontlik ineenstort. In byna al die futuristiese romans wat ek lees, het robotte verroes en die internet uitgesterf. Mense leef sonder elektrisiteit soos Mad Max langs die grootpad, van die hand na die mond.
In die post-industriële era plant ons dalk weer akkers koring en groente, maak vuurmaakhout bymekaar, dra water aan en melk koeie. Dis net so herhalend en rugbrekend soos 'n voltydse kantoorwerk en daar is ook nie tyd om in die blommetjies rond te rol nie, maar ten minste bou jy sterk spiere en asem vars lug in. Ons sal maar moet sien wat gebeur.
Liewe vriend en vriendin en almal tussenin: As jy vandag enigiets kan wees, moenie 'n poephol wees nie. Wees net lekker.
Liefde
Deborah

infanta
uit die geslotenheid van die boland
reis ek na infanta verby sir lowryspas grabouw
en riviersonderend waar ʼn coke-lorrie sy vrag
voor die carica superette verloor en voort via protem
en stormsvlei tot by cloeteskraal om daar af te trek
want dis vroegaand
en die vinke is onstuitbaar in die riete
hier word die wêreld môreoggend hergebore
maar tot dan toe staan dié bouval swart
en nougeset op sy fondasies
in ʼn nag wat strek soos ʼn pad tussen die berge
soos ʼn verposing of ʼn poort na daardie sterre
waardeur joerie gagarin vir die eerste keer kon flits
om 06:55 toe cloeteskraal se flinkste vinke roer
het hy die dag van bo af sien breek oor infanta
en kaap agulhas sy kompasnaald begoël
deur magnetiese steurings
om 08:05 verskyn hy
uit die son bo kazakhstan as glas en staal
en valskermsy aan aartappelplanters
soos aan skeerders van overbergse skape
en hy sê: moenie bang wees nie
ek is jul kameraad
ek het uit die ruimte neergedaal
tom dreyer