Newekarakters wat woel

Newekarakters wat woel
Foto deur Colin Lloyd / Unsplash
ANGELA TUCK

Ons is besig om huis op te pak en ek trek by veertig bokse boeke, en dis nog nie alles nie. Veel het ek laat gaan ook, hoor. Dis harde werk; buk, optel, pak, toeplak, regop kom, wegdra, oor en oor. Daar is min tyd vir lees en saans is ek gedaan. Daarom 'n kort storie vandag.

'n Boek wat ek 'n week gelede gelees het, spook steeds by my. Dis al in 2020 gepubliseer en het my oog gevang op Bargain Books se uitverkopingrak. Die font is piepklein soos babamiertjies, maar die karakters pak jou beet om nie weer te laat los nie.

The Eighth Girl deur Maxine Mei-Fung Chung

Die roman speel in Londen af. Die hoofkarakter, Alexa Wu, is half-Chinees. Sy is in haar twintigs. Toe sy nege was, het haar ma haarself uit die lewe gehelp deur van 'n brug af te spring. Haar gees was gebreek deur Alexa se pa se gewelddadigheid. Van toe af besoek Alexa se pa haar in die nag en doen dinge aan haar. Volgens hom is dit What all daddies do when mommies die.

Om die trauma te hanteer skep Alexa se onderbewuste 'n halfdosyn karakters wat deel word van haar. Hulle praat met haar, gee raad en neem soms die stuur oor om haar te beskerm. Daar is ook een of twee haatlike karakters wat haar wil benadeel. Haar toestand is vroeër as veelvuldige persoonlikheidsversteuring beskryf, maar heet nou DID - dissociative identity disorder.

Alexa gaan sien 'n nuwe terapeut, dr Daniel Rosenstein, ook 'n beskadigde karakter. Hy is 'n alkoholis wat gereeld AA-vergaderings bywoon en met sy eie demone spook. Sy kinderjare was ook nie 'n piekniek nie. Hy is menslik en meelewend en raak oormatig aangetrokke tot Alexa. Hy wil haar help om haar persoonlikhede te versoen en die kwaaddoeners uit te skop.

Alexa se pa het intussen verkas en sy het by haar stiefma agtergebly, wat haar tot 'n mate oor haar ontferm.

Een van Alexa se probleme is haar vriendin, van kleintyd af, Ella. Ella is 'n slegte invloed. Sy het nie, soos Alexa, gaan studeer en iets van haarself gemaak nie. Sy is mooi en slim en destruktief. Sy woon by haar afwesige ma en kleinsussie. Sy wil na haar eie blyplek trek, en om genoeg geld te maak wil sy in 'n ontkleeklub gaan werk. Natuurlik sleep sy Alexa saam, wat die oog van die spiertier-kroegman vang. In Ella se visier is die sardoniese, gevaarlike en sjarmante eienaar van die klub, Navid.

Dit word algaande duidelik dat paaldanse die minste van die klub se vergrype is. Navid en 'n vennoot smokkel bloedjong meisies van China in om daar te werk. Hy word toenemend wreed en beheersugtig. Ella se grootste begeerte is om hom te plesier. Sy word al dieper verstrengel in die klub se bedrywighede en sleep Alexa steeds saam. Alexa het intussen werk gekry as fotojoernalis en sy blink uit, maar kan dit nie oor haar hart kry om bande met Ella te verbreek nie.

Dr Daniel raak ook al hoe nouer betrokke by die treinramp wat wag om te gebeur. Hy het dieselfde dilemma as lesers van huishoudelike noir: Hoe weet hy of die verteller betroubaar is?

Alexa probeer die klub en eienaar ontmasker en die meisies help, maar word natuurlik self geïmpliseer in die gevaarlike en onwettige bedrywighede.

Die verhoog is Alexa se onderbewussyn en die leser kom algaande agter dat nie al die karakters wat haar daaglikse lewe bevolk, werklik bestaan nie. Het sy dalk meer persoonlikhede as waarvan sy dr Daniel vertel het? Wie is die agste meisie?

Dis uiters spannend en verstrik jou in 'n web. Dis 'n sielkundige riller uit die boonste rakke. Moenie 'n gelukkige einde en netjiese ontknoping van hierdie koorsdroom verwag nie.

Die skrywer is 'n psigoanalitiese psigoterapeut en weet duidelik waarvan sy praat. Dis moeilik om te glo hierdie is 'n debuutroman.

The Eighth Girl deur Maxine Mei-Fung Chung is deur Pushkin Press uitgegee en kos R279 by Exclusive Books.

een nag op ’n trein na pretoria

september 1975

 in die nag stop die trein in gaborone
en ek en my krytblik met die tas mahaal
en mamma met haar groot maag
gaan soek die stasie se toilette
daar is klein swart torretjies
en ’n gaatjiesfrokkie in die hoek wat stink
ons wil nie sit nie
kieme met spiese
bly op die toiletsitplek
my piepie vries
“Ek wonder of hierdie water veilig is vir drink.”
buite verkoop ’n vriendelike swart man vrugte
goeters wat ek nie ken nie
“Appelkose! Hoe lus was ek al!”
in die donker eet ons oupakose
oranje vrugte met hulle eie proe
nie soos mango of papaja
in wankie of bulawayo nie
hulle proe soos ’n mooi nuwe woord
“Kom ons bid en slaap.”
liewe jesus wees met pappa by die huis
ons trein ry weg van terroriste af
na plekke waar oupakose groei
en die oumas en die oupas bly
ek en my krytblik met die tas mahaal
en mamma met haar groot maag
op die middelste bed die baba skop
ek proe nog oupakose onder tandepasta
“You have travelled very far.”
’n man wat snaaks engels praat
eet saam met ons ontbyt
hy lyk vuilerig maar hy is gaaf
ek en mamma met haar maag en haar naar
en my krytblik met die tas mahaal
“Rhodesia is so beautiful and the ruins of Zimbabwe.”
ja, ons ken die groot toring
die stukkende huisies
dit is ’n bietjie lelik
mens kry koud in die gangetjies
daar is landmyne en terroriste
ek eet my oats en kyk na my krytblik
“The Taj is all magnificent marble.”
klein meisies met groot ore
ek soek sy stories
oor die groot paleis van albasters
milkies vir sjah jahan en mumtaz
op my krytblik
hy lag vir my
hy kan nie glo ek weet van die tas nie
“My daughter loves exotic things.”
hy gee vir my ’n geldjie soos ’n blommetjie
met ’n gaatjie in die middel
“A lucky coin for a curious girl.”
en mamma kyk na my en wag
met haar groot oë en maag
“Wat sê jy vir die oom?”
ek kyk na my krytblik en sê
vertel nog van die tas mahaal

Emma Bekker


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe