Oppie trein na Petoorja

Oppie trein na Petoorja
Foto deur Shalom Ejiofor / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Ons is nie almal so nie. Ons wil dit graag glo. Maar die hemel weet, ons is so grootgemaak, die meeste van ons. Toe ek klein was, ná my sussie se geboorte, wou die buurvrou by my ma weet hoe sy so gou haar figuur teruggekry het. My ma antwoord dat sy fiks en slank bly deur self die huiswerk te doen. Waarop die buurvrou begeesterd uitroep: "Ek fire NOU my m**d!" Huishulpe het geen kontrak gehad nie en kon op die ingewing van die oomblik sonder waarskuwing afgedank word.

Later het ons wel weer huishulpe gehad, 'n hele skare het gekom en gaan, want my ma was 'n kwaai miesies. Sy het geen houding, laksheid of teëspraak geduld nie. Ek onthou 'n mooi vrou van wie ek die naam vergeet het, maar dit was in elk geval nie haar regte naam nie. Sy het 'n geheimsinnige glimlaggie en 'n subversiewe humorsin gehad. Sy het nie lank gehou nie. Sy is gefire omdat sy agter op 'n Readers' Digest "4 Q" geskryf het. Natuurlik het sy dit ontken, maar ons was nog klein en nie een van ons sou met sulke slim verskuilde swetswoorde vorendag kon kom nie.

Ek het met die huishulpe geïdentifiseer, want, soos by hulle, was daar by my ook geen houding, bui, opinie of teëpraat geduld nie. Die huishulp wat die langste pad saam met my ma gestap het, was Norah. Sy was stil en besig soos 'n mier. Haar resting face, soos my dogter sou sê, was nors, omgeëllie. Dit moes natuurlik verander. My ma se uitspraak: "Dis mý huis en in my huis is ek die enigste een wat moods mag hê. Jy moet glimlag." Norah het geleer glimlag; so 'n blitsige, verbete flits van tande voordat haar gesig weer in grimmigheid verval het.

Norah Maria Munyai. Vinnige flits van 'n glimlag.

Later jare, onder my toesig, het huishulpe sleg geword; bolangs afgestof en gesit en TV kyk. Huisskoonmaak is immers rugvernietigende sleurwerk wat niemand inspireer nie. Die laaste een was Bettie, wat nou afgetree het. Sy het een keer per week gekom en die aand voor sy kom werk, het ek altyd ekstra mooi skoongemaak. Behalwe een keer, toe ons in die middel van die week partytjie gehou het en te moeg en aangeskote was om op te ruim. Toe Bettie die volgende oggend daar instap, sit sy haar handsak neer en sê: "Jirre, Debôr. Die kombuis lyk NAAR." Dit het nie weer gebeur nie.

Ons is geïndoktrineer, maar party mense is eenvoudig net meer geneig om ander mense raak te sien as ander. Ek lees 'n gedig van Danie Marais, oor Leon, die maat by wie hy soms gaan speel het. Hy was bitter bang vir hulle hond, Bismarck die Rottweiler:

Maar die tuinier het vir my geglimlag
en gewaai.
Ek kon nooit verstaan hoekom
die tuinman met my vriendelik is nie.
Leon het my vertel
hoe hy die tuinman bekruip
wanneer hy die gras sny,
en hom met sy BB-gun skiet.
Kon 'n mens 'n verskil
tussen my en Leon sien?

Uit die aard van die saak kon 'n mens. Miskien het dit niks bygedra tot die struggle nie – Danie skryf elders dat hy nooit voor die regte stootskrapers gaan lê het nie – maar geen vriendelike woord of menslike gebaar, geen blyk van respek gaan ooit verlore nie, wil ek glo.

Portret van Danie Marais deur Anton Kannemeyer

Partykeer lees ek iets en die landskap in my kop swaai heeltemal om. Daar is soveel boeke geskryf oor die Boere-oorlog, die verskroeide aarde, die wreedheid van die Engelse, die vernedering van die Afrikaner, hoe hulle verkneg en arm anderkant uitgekom het. 'n Uitgerafelde guerillabende teen die magtige Britse Ryk. Antjie Krog skryf in Die binnerym van bloed hoedat die gekneusde selfbeeld en minderwaardigheidskompleks waarmee die Afrikaner weggestap het, aanleiding gegee het tot hulle wreedheid teenoor swart mense. Nou lees ek in Max du Preez se boek Aanstap Boere dat genl. Christiaan de Wet se broer Piet 'n hensopper was. Hy het nie die punt ingesien van verset en selfvernietiging nie. Die twee broers is nooit versoen nie. En skielik wonder ek; as meer mense soos Piet besef het dis 'n stryd wat nie gewen kan word nie en gekapituleer het, sou minder vroue en kinders nie gely het en minder jong mans gesneuwel het nie? Sou apartheid dalk nooit gebeur het nie? Ons het in elk geval verloor. Of hoe?

Soms hoor jy 'n liedjie wat jy van kleins af ken en skielik val iets jou op. Ek hoor nou die dag vir die eerste keer dat die einde van "Een aand op 'n trein na Pretoria" noudat ons woke is en weet hoe die wêreld inmekaar steek, erg verdag klink. Die eensame weeskind moes Pretoria toe na haar moeder se vars graf, al moes sy Pretoria toe loop. Sy had geen geld of kaartjie, maar:

Die konduktee-heur die neem weer haar handjie
toe hy sien hoe die kleine meisie ly
“Ek het nie eens 'n kind nie
en nou kan jy maar by my bly,
ja, nou kan jy maar by my bly.”

Hoe oud was die kind, wil ek weet, en is sy veilig by 'n ou man sonder kind of kraai? Ek onthou altyd in die roman White Oleander het die ma wat in die tronk was, haar dogter gewaarsku oor die pleegsorgfamilie by wie sy woon: "Never lie down for the uncle." Miskien was Petoorja destyds nog onskuldiger en veiliger, voor die Vark van Capitol Park rondgetroffel het.

Daar is geen einde aan die wreedheid van die mens nie en die maat van ongeregtigheid word nooit vol nie. Ons sal seker nooit weet hoe die landskap vandag daar sou uitsien as die aarde nie verskroei is nie en apartheid nooit bestaan het nie. Ons troos ons aan kuns, wat op sigself boos is: Lees die gedig onder.

Liefde
Deborah

Die gedig as doodsonde

Was dit nie vir korrupte pouse nie,
was die Sixtynse kapelplafon nooit beskilder nie.
Was die nie vir oorlogsoorwinnings nie,
sou vele komposisies aanhou swyg.
Was sekere beelde nie geplunder nie,
is hulle nooit in museums bewaar nie.
Dus, kuns is korrup, kuns is vuil,
kuns word nie geskep nie, maar gepleeg.

Hieroor wonder ek, tussen Karoobossies vanoggend,
hou dop hoe ʼn lewerik die lug in skree, weer aarde toe tol.
Vanmelewe, in die rivier doer oorkant, het Goewerneur van Plettenberg
seekoeie kom jag, karkasse agtergelaat
as feesmaal vir San jagter-versamelaars,
uiteindelik ʼn seisoenale ritueel. 

Teen stollingsgesteentes daar anderkant nog gravure –
afbeelding van eland, seekoei. Als nou weg.
Die elande, die seekoeie, die rotskunstenaars.
Toe skaapboere intrek is ʼn seekoeijag gebruik
om jagter-versamelaars uit die koppies te lok
en is almal eensklaps met muskette afgemaai. 

Wat sê mens oor die lewerik, wat sê mens oor ʼn seekoei?
Wat sou ʼn gedig oor afwesigheid en landskappe kom bydra?
Miskien dalk maar net dat hierdie gedig korrup is,
dat hierdie gedig vuil is, nie geskep is nie,
maar gepleeg is.

 Andries Bezuidenhout


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe