Gebrek aan aggressie

Gebrek aan aggressie
ANGELA TUCK

Liewe vriende

"Aggressief" is so 'n aggressiéwe woord, met 'n dubbel frikatief en dubbel sibilant en dan 'n laaste beklemtoonde lettergreep, onderstreep met nog 'n frikatief soos 'n uitroepteken. Soos 'n nael oor sinkplaat.

Daar is glo iets soos noodsaaklike aggressie: Dis 'n natuurlike, oorgeërfde eienskap wat nodig is om te oorleef, grense te stel en doelwitte te bereik. Wanneer aggressie behoorlik gekanaliseer word, word dit selfgelding, ambisie, dryfkrag en deursettingsvermoë wat nodig is om bo-oor die lewe se hindernisse te spring. Want die lewe is nie jou maat nie.

Maar party mense kom selfs daardie noodsaaklike aggressie kort en ek is aangetrokke tot hulle. Ek het iemand geken wat glo sy het as fetus reeds ál haar energie opgebruik: Daar was 'n spiraal in haar ma se baarmoeder om swangerskap te voorkom. Sy het geglo haar gô is lewenslank uit ná die titaniese intra-uteriene geveg om aan te hang en nie uitgewerp te word nie.

My vriendin Mavis het een keer geskryf oor haar hand vol onsuksesvolle karate-klasse. Sy was nie 'n geslaagde karateka nie. Sy het eenvoudig die aggressie kortgekom om aan te storm en 'n bloedstollende kata te gil, wat staan nog teëls flenters te kap. Haar gil was onoortuigend, haar vuiste het geen vrees ingeboesem nie. Sy het opgehou lank voor die eerste gordel.

'n Oomblik wat my bybly, is 'n toneel uit die fliek The Birdcage waar gay lovers Robin Williams en Nathan Lane ontbyt eet. Robin maan Nathan om meer macho op te tree, want sy ouers kom kuier en moet hulle as straight vriende ervaar. Daarop smeer Nathan sy roosterbrood met mening. Dit verbrokkel en hy bars in trane uit. Soos ek, een keer toe iemand spesiaal vir my 'n kreef gekook het en die oranje dier lê my bord vol met swart ogies, voelers en pote.

Foto: MGM

Die sagmoediges sal glo die aarde beërwe. So is ons vertel, maar wanneer?

Deelname aan spansport het my nog altyd bang gemaak. Die netbalveld is so 'n vyandige ruimte; jy moet telkens doodstil vries in jou spoor terwyl 'n woedende, lang meisie knaend haar vingerspitse soos pikkende mambas uitsteek tot kort voor jou gesig. Hokkie is nog erger. Hardloop jy met die bal, kom amasones met stokke in die lug aangestorm en peper jou maermerries dat hulle later getand is soos 'n saag.

Nog 'n oomblik wat ek onthou is uit 'n roman deur Isaac Bashevis Singer. 'n Rampokker gryp 'n vroom Jood se beursie. Die godvresende man hardloop die dief in en skree vir hom: "Jy het dit nie gesteel nie, ek GEE dit vir jou." Hy was begaan oor die dief se siel.

Toe 'n vriendin een aand by haar geparkeerde motor kom, is iemand besig om by die kar in te breek. Sy pluk 'n rewolwer uit en gil: "Hardloop of ek skiet!" Dit maak vir my sin.

Aggressie mis dikwels die teiken. 'n Ander vriendin se geliefde bakkie is gesteel. Sy bly op die uitkyk daarvoor en siedaar! Sy gewaar dit in 'n verlate parkeerterrein. Sy blaas al vier bande af en net voor sy wegstap om dit aan te meld, sien sy die bekleedsel is anders as haar bakkie s'n. Oeps.

Ek wil nie graag aan die praat raak oor toksiese manlikheid nie. Daar is groot, sterk mans wat gereeld deur hulle vroue geslaan word. Die hele familie het vermoed so iets gebeur met Maans. Hy het soms in deure vasgeloop en by die werk moes hy die lang skrape teen sy wang verduidelik as 'n onderonsie met die grassnyer. Die vermoede is bevestig toe hy by 'n familiebyeenkoms help skottelgoed was. Toe sy vrou haar hand lig om 'n vadoek van die reling af te haal, koes hy en krimp ineen.

Aggressie tussen laboratoriummuise is dikwels ritualisties, het wetenskaplikes bevind. Eerder as om skade aan te rig, is dit daarop gemik om 'n groepshiërargie te vestig deur die sterkste lid te identifiseer. Militêre oefeninge en magsvertoon. Ek wonder al lankal waarom aggressie in mense nie meer geritualiseer kan wees nie, met strenger reëls. Waarom kan lande wat koppe stamp, nie twee rugbyspanne op die veld stuur om te besleg oor heerskappy en grondgebied nie? Die hemel weet, dis bloedig genoeg.

Aggressie is 'n simptoon van sekere geestesafwykings en breindegenerasie, soos die hele wêreld met afgryse waarneem in 'n sekere POliTikUs met wie se naam ek nie my blad wil besoedel nie. Sy magspeletjies bevark die hele aardbol. Het ons in die een-en-twintigste eeu werklik nog soveel aggressie nodig vir oorlewing?

Vriende, laat ons soos Mavis wees. Doen geen skade nie. Laat die bloedstollende kata in jou keel vries, grens soos 'n kind oor jou roosterbroodjie wat gebreek het, verseker die grypdief jy gee jou beursie vrywillig vir hom. Sal die wêreld nie mooier wees nie?

Liefde
Deborah

Quantum physics

Moodnar het altesaam vyf
Quantums vol mense doodgery
Hy's altyd die sole survivor
As jy hom kry langsie pad
dan lê die hele pad vol customers
en sy taxi lê in twie gevou
Moodnar sit net oppie sypaadjie
met sy gesig in sy hanne
en skud sy kop

Die ergste wat hy al daarvan afgekom et
isse groot fine ennie bynaam Moodnar
Maa hoe Moodnar altyd
sône 'n skraap wegkom en hoekom
hy nog altyd toegelaat wod
om mense te ry
is soes quantum physics
Is swaa om te vestaan

Nathan Trantraal


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe