Narratief en kallers

Liewe vriende
Wie beheer die narratief? Die hemel weet, dis moeilik om nie die draad te verloor nie. Om tot verhaal te kom.
Toe ek klein en jonk was, het ek alles geglo wat ek lees. Dit moet waar wees; dis dan gepubliseer. Nou weet ek van beter. Ek glo niks meer nie maar ek laat my graag begogel, ek hef skeptisisme op en belê in elke droom en sprokie.
Daar is sekere vrae wat 'n mens moet stel oor enige verhaal. Wie is die skrywer? Vir wie werk die skrywer? Na wie se pype moet hulle dans? Toe ek 'n kind was, is ons hoog en laag belieg deur 'n nasionale pers wat die belaglike, fascistiese ideale van die regering van die dag as soetkoek opgedis het. Daar was geen ander narratief beskikbaar nie; nie in goeie Afrikanerhuishoudings nie.
As die leeu kon skryf, was die jagter nie die held in die verhaal nie. Ek wonder deesdae al hoe meer oor perspektief en invalshoek, noudat fiksie en niefiksie inmekaarbloei soos waterverfkleure. Ek lees 'n boek met die volgende sin op die voorblad: It was his story, but it was her life.

My kop is vol los gedagtes hier waar ek tussen berge kartondose en dolleë boekrakke sit. My lewe tot dusver is opgepak, ek is gereed om die Groot Trek ongedaan te maak en terug Suide toe te migreer. Tog is dit net die rommel, (is daar 'n Afrikaanse woord vir detritus; puin, afval, neerslag) van my lewe. Die regte en blywende bagasie dra ek in my kop saam. As ek nou op 'n eiland uitspoel met pen en papier byderhand sal ek 'n duisend stories kon skryf sonder enige nuwe stimuli.
Mense wil my oortuig KI is 'n bruikbare ding, maar wat ek wil weet is: Wat maak ons met al die tyd wat ons spaar? Ek het co-pilot ge-oninstalleer, met moeite. As ek 'n dokument wil oopmaak wat ek self geskryf het, wil hy eers weet of hy vir my 'n opsomming daarvan kan gee. Weet jy wat wil ek antwoord? Ek het eenmaal een sin gehoor in 'n klein video wat 'n opstuur van 'n 7de Laan-episode was. Nuwe dialoog is by die beeldmateriaal gevoeg. Een karakter sê vir 'n ander: "Wat van shut the fuck en fokof?" Beter kan ek dit nie stel nie.
Ek lees van 'n skrywer wat 'n goeie, loslit-Afrikaanssprekende bot soek om hulle skryfwerk te verkort, want hulle skryf nou eenmaal langdradig. Dan wil ek weet: Wat van oefen om nie elke ding neer te skryf nes dit in jou kop opkom nie? Dink 'n rukkie na en formuleer jou gedagte kort en duidelik. Dis 'n waardevolle vaardigheid om aan te leer. Hard writing makes easy reading, en andersom. Ek wil nie my skryfwerk uitkontrakteer aan robotte nie, hulle wat net teer op 'n bodemlose databasis nie.
Ja, daar was nog altyd 'n onsigbare wêreldwye web en daar was nog altyd enkelinge wat fyn ingestel is op die vibrasies van die kosmos, op die tydsgees en die fluistering van muses in die lug. Kunstenaars put uit 'n stroom, 'n soort kosmiese bewussyn. Dit en die kamers in jou kop.

Iemand vertel my opstelskryf op skool is afgeskaf, want daar is nie meer 'n enkele opstel wat die toets van plagiaat kan slaag nie. Kinders wil nie meer dink nie, hulle wil gryp. Skep, maar nie uit dun lug nie.
Iemand skryf op Facebook as sy terugkyk, voel dit asof sy in ander stadia van haar lewe ander mense was. Net in die hede is sy haar ware self. Dis waar. Dink net tot hoeveel karakters se kop het jy dus toegang. Tot hoeveel scenarios en milieus. Jy is 'n wandelende databasis met 'n bykomende troefkaart: die onskatbaar waardevolle vermoë om te voel, emosie te ervaar.
Ek wil met my eie kallers ploeg, al is hulle in die put. Daar is genoeg kuikens wat huis toe gekom het om nes te skrop. Die perde het horings gekry en skilpad het vere. Alles is moontlik en daar is niks wat nie verwoord kan word nie. Ek wil dit nog alles sê.
Volgende week praat ek verder, vanuit my nuwe studeerkamer.
Skep, vriende, en nie soos korrupte munisipaliteite en kunsmatige intelligensie nie. Skep uit jou eie put, en die universele bewussynstroom wat nie 'n Wi-Fi-sein benodig nie. Krap kop.
Liefde
Deborah

Skim
’n Skim, vasgehaak in peerboomtakke
se wit fees van bloeisels, sukkel hom dood
om hom los te maak en op te styg
tot doer in die knoopwerk van melkweë.
Want die wetenskap sit kring oor die wêreld
en die ryk van die onverstaanbare krimp.
Vlug, skim, haas jou na die andersheid
voordat rekenaarratse vingers jou liefderik wreed
tot formule vonnis, fop hulle, speel kolporteur
van die heilige onsin in jou dwalinge.
Die bloeiselblare sif heerlik dwaas
deur en om ’n verligte verloste skim.
Wilma Stockenström