Jagters en prooi

Jagters en prooi
Foto deur Steve Busch / UnsplashJ
ANGELA TUCK

Jagspinnekop deur Erla Diedericks

Hierdie roman met sy mooi noir-voorblad sal jou in 'n web vasspin. Diedericks het haar al bewys as bobaas-storieverteller en wewer van spanning. Vir my was dit verfrissend dat die protagoniste in hierdie boek nie beeldskone jong mense is nie, maar ouer vroue.

Die hoofkarakter, Suzette Fourie, is beskadigde goedere. Sy is in haar studentedae aangeval deur twee mans met messe. Hulle het die ietwat sinistêre liedjie "Itsy bitsy spider" gesing en haar vir dood agtergelaat. Hoe kan sy weer vertrou? Hoe kom sy oor haar afkeer van spinnekoppe?

Sy is 'n profileerder en vang wel weer die oog van 'n nuwe kollega, 'n aantreklike kêrel met 'n kaalgeskeerde kop. Hy loop oor van selfvertroue en kennis en daar is 'n vonk tussen hulle, maar Suzette is versigtig.

In hierdie krimi-noir is die aandadige van die begin af teenwoordig en nie iemand wat ter elfder ure uit die buiteveld verskyn nie. Meer sal ek nie sê nie, behalwe dat daar ten minste drie gruwelike, afskuwelike mans was wat ek van die moorde verdink het. Daar is min of meer net een man wat die moeite werd is, en dis Suzette se vennoot Gary, 'n gay kluisenaar.

Daar is 'n reeksmoordenaar aan die afmaai in die Kaap. Hy teiken blonde, middeljarige vroue wat op soek is na ware liefde. Hulle lyke word in verlate veldjies gevind.

Marinda is al vir dekades getroud met die grillerige Petrus, en hunker na liefde en aandag. Sy rook skelm en fantaseer en bedroom metodes om haar man te vermoor. Hy is boepens en bles, hy drink en poep en knou haar af. Haar vriendin Annmari het 'n man deur die webwerf Smooch ontmoet. Miskien nie haar droomman nie, maar goed genoeg. Of is hy?

Marinda skep ook 'n profiel op Smooch. Sy wil net erotiese geselsies aanknoop, maar haar virtuele vryer plaas heelwat druk op haar om hom in lewende lywe te ontmoet. Ongelukkig het sy gejok oor haar profielfoto, soos mense maar doen.

Intussen is daar aspekte aan die moorde wat vir Suzette toenemend en onheilspellend bekend lyk. 'n Borsspeld van 'n jagspinnekop word op die tonge van die vermoorde vroue geplaas. Jagspinnekoppe spin nie webbe nie, hulle jag aktief in die nag. Dit kan nie haar twee aanvallers wees nie; een is dood en die ander in die tronk. Tog sluk sy al hoe meer kalmeerpille.

Wie kan sy vertrou? Waarom voel dit konstant asof sy dopgehou word?

Jy sal bibber, sidder, gru en sweet. Dis uitstekende misdaadfiksie wat 'n wrang oog gooi op die patriargie en wys hoe weerloos die ewige soeke na koesterende liefde vroue maak. Die leser bly tot aan die einde wonder en daar is 'n bevredigende, bloeddorstige kinkel in die stert. Hierdie skrywer raak met elke roman meer bedrewe en ek hou van haar houtoog en wrang humor.

Jagspinnekop deur Erla Diedericks is deur Lapa uitgegee en kos R272 by Graffiti.

Hide and Seek deur Chris Carter

Aanvanklik klink die storielyn vir die leser bekend. Dis die ou nagmerriesituasie: 'n Vrou verlaat haar man wat haar verniel en sy weet dat hy haar nooit sal laat gaan nie. Sy dagvaar hom vir aanranding en wanneer 'n ander vrou ook na vore tree en hom van dieselfde gedrag beskuldig, stuur die jurie hom tronk toe en oorhandig min of meer al sy geld aan haar. Sam, die vrou, besluit om haar identiteit te verander en in 'n ander staat 'n nuwe lewe te begin. Sy is nou skatryk, maar met 'n teiken op haar kop. Hy het wraak gesweer.

Nou is sy Mary Smith. Sy gaan woon in Nashville en 'n aantreklike, talentvolle musikant lê by haar aan, maar iets laat haar skrik en sy vlug verder. Sy vestig haar in San Francisco en ontmoet weer 'n biljoenêr, soos haar gewese man. Hierdie een is ook dodelik aantreklik en oneindig bedagsaam en romanties. Mary is natuurlik skatryk in eie reg en die aantrekkingskrag tussen hulle kan nie ontken word nie. Hulle begin 'n stomende verhouding. Die sekstonele is grafies en alles is min of meer te goed om waar te wees. Die leser begin wonder of daar iets is wat Mary se nuwe kêrel met die koddige naam Quaddra wegsteek?

Dan soek Mary (of Sam) se jeugvriendin, Denise, haar op en allerhande geheime tuimel uit die kas.

Meer kan ek nie weggee sonder om die storielyn te verklap nie. Die leser weet later nie meer wie slagoffer en wie teisteraar is nie. Moet niemand vertrou nie. Die vroue in hierdie roman is geensins hulpeloos nie, hulle is listig en beskadig.

Die roman het my aandag behou, maar sal my nie bybly nie. Dis lig en verteerbaar, met aantreklike mense en heelwat rowwe seks, grinterige misdaad en verskeie kinkels in die kabel.

Hide and Seek deur Chris Carter is deur Simon & Schuster uitgegee en kos R312 by Graffiti.

Laaste lewe

onverwags een aand
slenter sy deur my venster
en vly haar teen my aan:
grande dame van die nag
in haar gehawende jas
met die reuk van muskus,
roet en vis, haar snoet
'n naakslak teen my hals,
snorbaard yl, stert halfmas,
dowwe oë en gehapte ore
voel ek (wat ook grou
van vag en katterig raak)
my skoon uitverkore
om haar wat my nooit
wou hë vir net 'n nag lank
teen my te laat lê

Gerda Taljaard

Uit: Onthou is die dag wat breek
'n Digterlike huldigingsbundel ter ere van Lina Spies


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe