Mis-daad

Mis-daad
Foto deur Annie Spratt / Unsplash

Tussen stapels kartondose en stof deur het ek 'n paar misdaadrillers gelees.

Bloedbande deur Eleanor Baker

Sekere skrywers se stem weerklink in jou kop soos 'n ou vriend s'n. Vir my is dit waar van Eleanor Baker, nou saliger. Ek lees haar van jongs af, en veral Weerkaatsings, 'n sprokie bly my by. Sy het ook misdaadfiksie geskryf, soos hierdie roman, wat in 2001 gepubliseer is onder die skuilnaam Alex Muller en nou weer deur Human & Rousseau uitgegee is. Dit het nie gedateer nie.

Dis eintlik 'n reeks, waarvan ek die voriges ook gelees het. Oor Adriaan Kruger, 'n speurder. Sy vrou is oorlede en hy is 'n tweede keer getroud met Karien, die jongste van vyf eksentrieke susters wat met 'n ysterhand deur hulle ouer suster regeer is en 'n vreemde, afgesonderde lewe gelei het, tot die ousus vermoor is. Karien was 'n verdagte, maar Adriaan het die saak opgelos en daarna by haar begin kuier. Hulle is baie gelukkig saam met hulle kat, Kat, en verwag nou 'n tweeling. Hulle het die grootstad verruil vir 'n dorpie in die Overberg en hy word bevorder tot kaptein.

Maar soos lesers reeds weet, gebeur gruwelike misdaad ook in die kleinste, slaperigste dorpies. 'n Jong meisie word aangeval en 'n gruwelike gesinsmoord word gepleeg. Soos lesers van misdaad ook reeds weet, is daar gewoonlik 'n verband tussen die misdade. Niks is onnodig of toevallig nie.

Adriaan is 'n lekker speurder, sonder drankafhanklikheid of sielkundige probleme. 'n Goeie mens wat agter die kap van byle kom. Natuurlik word sy taak vergemoeilik deur dorpenaars wat op hul eie mishoop koning kraai en die narratief wil bepaal. Alles is natuurlik ook nie soos dit voorkom nie en slagoffers is nie altyd weerloos of onskuldig nie.

Adriaan is 'n man wat immer positief bly en sy intuïsie vertrou: "Weet jy hoekom diere se hare regop staan as hulle gevaar ruik?" het Adriaan gevra. "Omdat hulle intuïsie baie sterk ontwikkel is. Mense is ook so, ons het net vertroue verloor in ons intuïsie. Ons kyk nou na meer tasbare goed en dis 'n fout. Jou intuïsie sal altyd vir jou waarsku as iets nie pluis is nie en ons moet leer om daarop ag te slaan. Het jy nie al mense ontmoet wat sonder rede maak dat jy kriewelrig voel nie?"

Dis lekker ligte, spannende leeservarings: Eleanor Baker se Adriaan Kruger-speurverhale. Ek beveel dit aan.

Bloedbande deur Eleanor Baker is deur Human & Rousseau uitgegee en kos R252 by Graffiti.

We Know What You Did deur Kirsty Lockwood

Hierdie merkwaardige debuutroman het my enduit geboei. Die voorplat skree reeds huishoudelike noir, met sy donker, onheilspellende huis met verligte vensters teen 'n dreigende naghemel. In die vensters is silhoëtte van twee mense in verskillende kamers. Trek hierdie mense nooit gordyne toe nie?

Dit speel in Skotland af. Aan die begin van die roman word 'n jong meisie in 'n kinderagtige rokkie vol bloedspatsels in hegtenis geneem vir 'n moord wat in 'n live feed die wêreld ingestuur is. Sy weier om 'n woord te sê.

Odette is 19 en haar ma is onlangs oorlede. Nou het sy niemand op aarde oor nie. Haar ma was nie juis die naam "ma" werd nie. Sy was beskadig, woedend en misdadig met afhanklikheidsprobleme. Ma en dogter het aanhou trek om skuldeisers, die gereg en gewelddadige kêrels te ontduik. Odette het geen vastigheid of koestering geken nie.

Nou wil sy iets van haarself maak, maar dis nie maklik nie. Die regering reël vir haar tydelike verblyf tussen kokkerotte en fungi en kort-kort moet sy oppak. Sy doen voortdurend aansoek vir werk maar niks realiseer nie. Haar enigste amper-vriendin is Toni, 'n maatskaplike werker wat haar help om werk te soek. Sy gaan sien haar een maal per week.

Dan ontmoet sy 'n waardige heer van 80 in die museum, waar sy graag ronddwaal. Hy het spierwit hare en trek mooi aan. Hulle begin gesels. Later besoek sy hom in sy herehuis. Hulle word vriende en toe die munisipaliteit weer laat weet sy moet nuwe akkommodasie soek, nooi hy haar om by hom te kom bly. Sy huis is ruim.

Dit klink soos 'n sprokie, maar gou begin daar krake wys. Amos Michaels, gewese gevierde sielkundige, is 'n beheervraat. Hy koop vir haar klere; dogtertjie-agtige rokkies wat 'n paar nommers te klein is en hy hou nie daarvan as sy dorp toe gaan om werk te soek nie. Hy koop ook vir haar die nuutste iPhone en Odette, wat 'n kop op haar skouers het, begin 'n TikTok-kanaal wat gou derduisende volgers trek. Sy deel kort videotjies van haar en Amos in sy skouspelagtige huis. Kykers is gefassineer deur die weelde en sy ouwêreldse sjarme en noem hom Grandfather of the nation.

Odette besef egter gou dat sy gelukkiger was op haar eie, in vervalle woonstelle, werkloos, arm en onseker. Want Amos wil haar kop kolonialiseer. Hy manipuleer en verneder haar. Sy is toenemend vasgekeer en hulpeloos. Sy beraam planne om weg te kom.

In die hede doen 'n speurder, Roger, navorsing oor Amos se verlede en geraamtes val uit die kas. Wat moet hy doen om die swygsame Odette van haarself te red? Die hele Skotland het haar reeds skuldig bevind. Daar is immers beeldmateriaal.

Die res moet jy self lees. Ek beveel dit hoog aan; dit behoort jou 'n nag lank wakker te hou.

We Know What You Did deur Kirsty Lockwood is deur Orion uitgegee en kos R493 by Exclusive Books.


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe