Mal-le-me-u-le

Mal-le-me-u-le
Foto deur Kristaps Ungurs / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Tyd vlieg. Die universum het vlerke. Ek het dit vir die eerste keer besef toe ek as kind in 'n speelpark op my rug gelê het op die rondomtalie. Die bome en lug was 'n smeersel, 'n wasigheid in die verbygaan en ek het besef alles is konstant in beweging. Die aarde draai op sy as en elke dag van die week en elke seisoen kom weer verby. Alles beweeg in 'n sirkel, soos die wysers van 'n horlosie en soms versnel dit en tol buite beheer.

Ek is weer daaraan herinner toe ek die internasionale blitsverkoper Lázár deur Nelio Biedermann lees. Dit speel in Hongarye af en is 'n sage wat swiep oor drie generasies, twee wêreldoorloë, rewolusies en regimes. Hoe onbeduidend in die groot verhaal is 'n mens se lewe, selfs een wat nie vroeg op die slagveld kortgeknip word nie. Tagtig-plus jaar verstryk in 'n oogwink, 'n sug.

Die grinterige chansonnier Jacques Brel het daaroor gesing in "La Valse à Mille Temps", in Engels vertaal as "Carousel".

We're on a carousel
A crazy carousel
And now we go around
So high above the ground
We feel we've got to yell
We're on a carousel
A crazy carousel

0:00
/0:22

Béjart Ballet - Valse à 1000 temps - Brel.

Daar is 'n lied waarvan die woorde my telkens met verwondering vervul: "Windmills of your mind". Een van die verse eindig so:

Pictures hanging in a hallway or the fragment of a song
Half remembered names and faces, but to whom do they belong?
When you knew that it was over, you were suddenly aware
That the autumn leaves were turning to the colour of her hair.

Linette Retief het dit in klinkende Afrikaans vertaal en die hunkering behou.

Toe my oudste kind klein was, het ek van die huis af gewerk en namiddae het ek en sy Days of Our Lives gekyk. Elke dag het MacDonald Carey se dramatiese voordrag aan die begin van die episode my aan die hart gegryp: "Like sands through the hourglass, so are the days of our lives." Daardie dae is vervloë, my kind is nou 36 en ons kyk nie meer sepies nie.

Ek, die ham in die toebroodjie, onthou 'n dag lank gelede toe ons almal op die grasperk gesit het. My ma sug dat sy 35 jaar oud is, waarop my ouma antwoord: "Dis bloedjonk."

My dogters is bakens in 'n veranderende landskap: As ek wonder watter jaar het dié en daai gebeur, herinner ek my aan hoe groot die kinders was. Nou nog is hulle snags in my drome klein. Die droomalmanak blaai stadiger om as die ware een.

My ma word nou 90 en verslind nog al die boeke wat ek aandra.

Terwyl ek nou rondrol in nostalgie en hunkering, herinner ek my aan nog 'n lied wat my ma gesing het: "Sunrise, sunset" uit Fiddler on the Roof:

Is this the little girl I carried
Is this the little boy at play?
I don't remember growing older
When did they?

En natuurlik "Katrina's theme": "As sad as the darkness with each break of day / as sad as the sunlight, for it too can't stay ..."

My ma se fleur het lank gehou. Sy het lang, donker hare gehad en die sielvolle oë van iemand wat haarself opreg liefhet, wyd uitmekaar soos Jackie Onassis s'n. Sy het kitaar gespeel en folk songs gesing. "Cu cu ru cu cu, paloma", "Mull of Kintyre", "Little Boxes", "First of May", "Starry, starry night", "Annie's Song", ensovoorts. Sy sing nie meer nie.

Hier waar ek strompel en huppel in Herinneringslaan sien ek opeens weer my broers, 'n identiese tweeling en die mooiste seuntjies ooit, wat met blinkbruin hare en donker oë soos lukwartpitte op die Kinderkranskonsert "This Old Man" sing. Hulle het om die een of ander rede Japannese strooihoede op en tussen die woorde deur snik hulle, van vernedering, skaamte en opstandigheid.

My broers het valskermsoldate geword en min of meer twee jaar in Angola deurgebring, alhoewel P.W. Botha ons verseker het ons het NIE troepe in daardie land nie. Hulle het nooit gepraat oor hulle weermagdae nie, net al hoe meer gedrink en baie dagga gerook. Hulle het nooit weer ambisie gehad nie. Hulle het nie oud geword nie. With a knick-knack paddywhack, give the dog a bone, this old man came rolling home. Snik.

Ek sien my sussie wat nie begin loop het nie, maar hardloop. Sy het gedurig haar groottone gestamp en later het hulle in 'n V-vorm weggestaan van haar voete, soos die va-Doma, die sogenaamde volstruismense van Zimbabwe wat so flink boomklim. Ek sien haar gaan slaap met haar brilletjie op, want hoe anders moet sy sien in haar drome? Nou woon sy op 'n ander kontinent, soos baie van ons se familielede.

Ek sien my pa in sy ateljee staan, kwas in die hand met die ander hand agter die rug soos 'n swaardvegter, in gedagtes versonke.

Dan, net voordat ek insluimer, begin alles tol, vinniger en vinniger. Die jare en die gesigte word 'n blur. Selfs hierdie oomblik en die volgende is reeds verby.

Pluk die dag, kamerade. Die rondomtalie tel spoed op en versnel by die oomblik.
We feel we've got to yell
We're on a carousel
A crazy carouselllll.

Liefde
Deborah

Met een asem

Dis nie 'n liefdesverklaring of 'n love poem dié nie maar verlange
wat gejaagde asem is wat banger is om verkeerd te lewe as vir die dood
wat jou bokkie ook wil hê-hê-hê soos 'n dobbelsteen in 'n dronk hand
hunker na sy nommer in roulette so honger soos 'n pyl uit 'n boog
gereed soos 'n vuurhoutjie brand soos longe vol petrolpsalms vir jou
al is die maan 'n misverstand en altyd net 'n asem lank

Danie Marais


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe