Drome in bokse

Drome in bokse
Foto deur Jan Folwarczny / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Wanneer 'n mens jou hele lewe in kartondose oppak, ruk vele herinneringe los en wapper in die wind. Jou kop en verbeelding gaan op loop. O my siel, daar's ryke stof.

Illustrasie deur Gielie Hoffmann

Ou foto's fladder in die bries en gesigte wat jy in dekades nie herroep het nie, doem weer op. Ek onthou skielik vir Seun. Ek het hom net skrams geken, een naweek lank. Ek was bevriend met sy jonger broer, 'n aantreklike kêrel en boonop saggeaard en sensitief. Ek was die naweek saam met hom huis toe, plaas toe. Ek het nie regtig in hom belanggestel nie, maar was nog altyd gretig om ander mense se huise en lewens van nader te beskou.

Op pad soontoe het boetie (ek het sy naam vergeet, kom ons noem hom Dawie) my vertel van sy ouboet. Die ouboet se naam was Seun, asof hy die enigste seun ooit was. Sien, sý naam het ek onthou. Dit was duidelik dat Seun Dawie se held was. Dat Seun 'n alfaman was wat nie kak van kabouters vat nie. "As Seun 'n werker klap, bloei hy uit sy neus en ore." Jammer, vriende, dit was lelike dae en Dawie het boonop nie die woord "werker" gebruik nie. Ek was skielik spyt oor my besluit om die naweek saam te gaan.

Die plaas was in die destydse Wes-Transvaal, daar waar die Skepper se konsentrasie en inspirasie vir 'n oomblik getaan het. Hulle was in die wurggreep van 'n droogte en Seun en Dawie se ouers het vir my oud gelyk. Ek onthou tot vandag toe een ding wat die pa vir my gesê het: "Die mielie is koning. As jy 'n aartappel smaaklik wil kry, moet jy botter, sout en peper opsit. Mielies kan jy net so eet."

Seun was 'n kolos, 'n groot Boerboelklong. Hy het nie gaan leer nie, maar saam met sy pa geboer. Hulle het koppe gestamp. Ek onthou 'n paar benoude oomblikke die nag toe Dawie my kom opsoek het in die donker spaarkamer. Ons het bietjie gevry, soos mens doen as jy saam met 'n seun huis toe gaan. Hy het beginne vroetel en toe ek sê nee, ek wil nie, het hy hom bedwing, maar wrang laat val: "Séún sou nie nou opgehou het nie."

Ons het nie vriende gebly nie. Nou wonder ek so tussendeur die gepak: Waar is Seun vandag? Vader van vele of haarkapper op die dorp, vol bling, tatoes en blinkleer? Dié ou lewe, 'n mens kan nooit weet nie. Ek is jammer, Dawie, ek was nie reg vir jou nie.

Nou dwaal my gedagtes ook na ander plase waar ek gaan kuier het. Nog 'n seun van wie ek die naam vergeet het, was sensitief (ek het duidelik 'n tipe gehad) en nerveus, hy het gehakkel. Aan die etenstafel het sy pa, wat duidelik al van vroeg af brannas en Coke wegslaan, sy manier van praat sleeptong begin tart: "BAsies. Alles is básiesj. Wat op deesj aarde beteken dit?" Die seun het bloedrooi gebloos. Ek het ook daar nie weer gaan kuier nie.

Dan was daar nog 'n Wes-Transvaalse plaas (ek het duidelik ook 'n ding oor plase gehad) waar ek nogal van die seun gehou het, tot ek op dag twee hooikoors kry van al die gestroopte mielies en stof en my neus onophoudelik soos 'n kraan loop. Dit het ook op niks uitgeloop nie.

Ek het nog altyd 'n broertjie dood aan veralgemenings. Iemand het gesê veralgemenings is oor die algemeen waar. Dit is so, maar uiterstes en stereotipes stoot my af: macho vleispaleise soos Seun, vol testosteroon en aggressie. Barbiepoppe met lang gel-naels en vals wimpers soos duisendpote. Dis asof hulle 'n parodie van hulself is. Ek hou van ambivalensie, ek hou van androginiteit. 'n Man wat kan huil, 'n vrou wat 'n slag kan slaan.

Tussendeur wonder ek oor woorde, soos altyd. In die badkamer lees ek sonder my leesbril op 'n houer: Roaming hand wash. Dit slaan my vir 'n oomblik dronk. Later dink ek, dit sou sin maak. Roaming hands, hande wat nie tuis gehou word nie, word vuiler as kuise hande en moet deeglik gewas word.

Ek lees op Facebook 'n skool se leuse: Hoërskool Monument. "Liewer slyt as roes." Ek moet 'n oomblik nadink voordat dit sin maak. Beide klink gehawend, soos mot en roes. Dan seker maar eerder verweer deur gebruik en oorbruik en nie bloot deur tyd en die elemente nie. My (een) laerskool se leuse was: "Volhard en bloei." Natuulik het dit in die kindermond "val hard en bloei" geword. 'n Vriendin was kleuterskoolonderwyseres by Swaan en flamink. Natuurlik het dit "slaan en vermink" geword. Hoekom klink leuses altyd na bitter harde werk, rugbreek en tande kners? Strewe, bewe, kreun en steun. Staan in die modder en reik na die sterre.

Laat ek verder gaan pak. Dis haas onmoontlik om herinneringe te laat gaan, om foto's weg te gooi en studentikose skryfsels op te frommel. Op die ou end pak ek dit maar in en verseël die boks. Stoor dit in die motorhuis. Ons dra dit saam. Soos iemand 'n Jacques Brel-liedjie vertaal het: You don't forget the past, you don't forget a thing. You live with it, that's all. Want die lêers in jou kop kan jy nie uitgooi nie.

Liefde
Deborah

Wes-Transvaal


'n Skruwe huisie uit ysterklip gekerf;
'n slap draadheining; op die stoep lê rond
'n vark, vier hoenders en 'n k*****hond;
'n stowwerige kind kruip oor die werf.
 
Die baas leun lusteloos teen die skewe hek,
sy kin gestut op hande ru soos grond,
sy oë sag en glansloos, stroef sy mond.
Hy sug, om dan met dieper asemtrek
 
weer oor die naakte vlaktes heen te skou ...
Hoe staar hy so geduldiglik?  Hoe het
die hemel hier 'n witter, wyer blou?
 
God het geen berge of bosse oorgehad
toe Hy dié land moes maak, en kon toe net
die vrede van voleindiging hier laat.

Elisabeth Eybers


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe