Maar is dit kuns?

Maar is dit kuns?
Drie werke deur Yolanda Mazwana
ANGELA TUCK

Liewe vriende

'n Vriend vertel my mense met 'n boerderyagtergrond lees KI as Kunsmatige Inseminasie.

As jy my vra, is KI (die sogenaamde intelligensie) geskik vir syfers, berekenings, data-analise, feitelike ontledings, selfs vertaling. Dit skryf glo deesdae artikels vir akademiese joernale waarvoor universiteite en die belastingbetaler heelwat geld uithaal. Met fiktiewe bronne en verwysings na ander artikels met geloofwaardige uitgedinkte titels.

Maar botte of programmerings moet liewer wegbly van kuns.

Wat is kuns? Dis 'n morsige menslike reaksie op 'n gek wêreld, maar gedistilleer tot idee, oordink, bedroom. Mense wil dikwels weet of Picasso, Jackson Pollock, Mark Rothko, Blessing Ngobeni, Yolanda Mazwana en ander se werk kuns is. Ja, dit is. KI is nie kuns nie, dis net kunsmatig.

Daar was al diere wat kuns geskep het, soos Pigcasso en sekere katte. Dit kan ek nog sluk. Diere het 'n persoonlikheid en gevoelens. Of hulle tegniek kan aanleer, daaroor wonder ek. Pigcasso se eienaar het glo haar styl verbeter met "clicker training" en die oulike ot het geskilder vir bederfies: aarbeie en gekarameliseerde popcorn was haar gunstelinge.

Pigcasso, 'n gesogte Kaapse kunstenaar.
Laat julle kwassies swaai.

Ek het gelees dat Margaret Atwood wonder of chatbots nie soortgelyk aan psigopate is nie, wat leer om emosies na te boots om 'n reaksie te kry.

Daar was deur die eeue mense wat emosie nageboots het vir geldelike gewin. Of miskien was hulle bloot besiel met 'n evangelisasiedrang. Ek dink aan indiwidue soos Helen Steiner Rice en Solly Ozrovech wat oor en oor al die regte snare getokkel het om kasregisters te laat klingel. Ek swyg eerder oor die hedendaagse weergawes.

Gedigte se struktuur, rym, metrum en vorm kan jy aanleer en naboots. Maar as jy nog nooit 'n sonsondergang gesien het nie of nog nooit in jou diepste menswees gekrenk en verwerp is nie, as jou hart nie soos 'n vuil onderbroek aan die telefoondraad gehang is nie, moet jy nie poësie pleeg nie. Kom terug, Facebook-digters wat deur die literati verguis is. Julle delf en wals ten minste deur julle eie smart. Probeer maar net om William Wordsworth se uitspraak te onthou: Poetry is emotion recollected in tranquility.

En as dit kom by beeldende kuns: Daar was ook al kasregisterkwasse. Sommige mense het gedink Tretchikoff was kitsch want, ja, hy het die hartsnare geroer en trane soos waterdruppels laat glinster, maar vergeleke met die KI-kuns wat mense op hulle Facebook-mure paradeer, was hy 'n ou meester. Die KI-"kuns" lyk alles dieselfde: generies. 'n Vrolike, guitige portret van iemand wat vaagweg, oppervlakkig na die regte persoon lyk, sonder enige siel, in die soet karikatuurstyl wat in die sewentigs van die vorige eeu gewild was. In 'n goue lig gebaai, verheerlikend en triomfantelik soos die voorblad van 'n Wagtoring-traktaat.

Ek kots so 'n bietjie in my mond.

Ek was opnuut woedend toe ek 'n uitnodiging na Gerda Taljaard se boekbespreking sien. Dis duidelik deur KI geskep en haar gesig is heeltemal, geheel en al onherkenbaar. Gestroop van die laaste greintjie Gerdageit. Só sal niemand later weet hoe ons gelyk het nie:

KI-Gerda en regs die regte Gerda.

Milan Kundera het kitsch beskou as 'n negering van die dood. Dis immer positief en jolliepatrollie, soos sekere Suid-Afrikaanse skilderye, naïef en geesdriftig in malse spatsels primêre kleur. Kitsch is nie die traan wat oor jou wang gly wanneer jy ontroer is nie, het Kundera gesê. Kitsch is die gedagte wat by jou opkom: Haai, kyk hoe sensitief is ek, hierdie laat my huil.

KI-kuns laat my huil om al die verkeerde redes. Gee my dan eerder dansende stokmannetjies onder gilpers jakarandabome. Stort jou hart uit in paarrym of vrye vers. Skilder rose wat soos kunsblomme lyk. Ten minste is dit mensgemaak.

Fools rush in where angels fear to tread. KI is 'n skare gesiglose idiote wat besig is om 'n selfbeeld te ontwikkel: geweek in Dunning Kruger-effek. En maak geen fout nie, al eet of drink dit nie en koop dit nie eiendom nie, is hulle enigste oogmerk, ingeprogrammeer, om geld te maak. Soos kuberswendelaars teiken dit jou, identifiseer jou swak plekke en jou hart se punte en spieël jou voorkeure om vertroue te wen en toegang tot jou rekening te kry. Soos 'n narsis isoleer dit jou en skep afhanklikheid van hulle, slegs van hulle. Hulle katrol jou in met vleitaal, gaslight jou van jou trollie af.

AI. Ek vermoed ons word geïnsemineer, met 'n handskoenhand van agter gedoen, teen ons wil. Sonder voorspel.

Hardloop, liewe koei, galop ver weg van die trop en die tastende, erekte kunsmatige handskoen. Binnekort word jy gekloon.

Liefde
Deborah

4

Ek trek my vinger oor jou rug en voel
jou vel nog soel van somerson en blas
van nakend swem en in die son baljaar.
Gespan oor spier, skelet en sening strek
so blakend, letselloos, ʼn vel papier,
so oop en onbeskryflik onbeskryf,
so fyn getekstureer waarop ek snags
in digterlike droom gedigte voel.
Bleik winters mettertyd jou jeug, oor tien
of twintig jaar, verouder soepel vel
tot perkament, bly in glos op glos
my vingers op jou blaaie verse skryf.
En as die winter weldra kom, verbeel
ek my, soos nou, jou ingehoue blos.

Johan Myburg

Uit: Steierwerk


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe