Gans verloooore

Liewe vriende
"Verlore" met die lang "o" in die middel klink presies soos die staat wat dit beskryf. Die Engelse "lost" klink so terloops en saaklik, niksseggend maar finaal soos 'n slot wat toeknip. In Nederlands en Duits klink dit reg: "verloren". Die Frans klink ploemps soos 'n sambreel: "perdu", hoewel die rymende frase "je suis perdu" nogal radeloos klink, met 'n desperate ondertoon. Die Spaanse en Portugese "perdido" klink half speels. In Sweeds klink "förlorad" gewigtig en verlate, koud en uit klip gekap.
Ek het 'n wederkerende nagmerrie: Ek verdwaal teen donker, te voet, in stegies tussen wolkekrabbers of in 'n voorstedelike doolhof sonder straatlig. Sonder selfoonopvangs en niemand weet waar ek is nie. Nooit in 'n woud of op die oop veld of op see nie.
As jy die Heidelbergse Kategismus glo, is ons almal verlore en benodig redding. Dit slaan 'n hartsnaar: Wie het nog nooit ontredderd, verdwaal en op pad na die verderf gevoel nie? In die Bybelse gelykenis gaan soek die goeie herder na die verlore skapie en dra hom oor sy skouers huis toe, blyer oor een verlorene wat gevind is as oor die hele kudde wat veilig op kraal staan. Die verlore seun staan op uit die varksemels en tuis word die gemeste kalf vir hom geslag. Sy voorbeeldige broer is grimmig.

Ons kat het weggeraak. "Weggeraak" is so 'n terloopse woord, soos 'n steek wat laat val is in breiwerk. Oeps.
Ons kat was verlóre vir drie dae en twee nagte. Onbeskryflik is die vrees en ontsetting wat jou teen donker beetpak as jou geliefde dier nie huis toe kom soos elke aand in sy tien lewensjare nie. Jy weet jou liefling lê dood in 'n sloot of is êrens vasgekeer en kán nie huis toe kom nie. Jou hart kan nie gaan slaap nie. Jy dink aan ouers wat kinders verloor op die aardbol. Soos 'n groot speld, is die uitdrukking. Jy besluit om nooit ooit weer jou hart aan 'n troeteldier te gee nie. Liefde is te riskant.
Jy ry stadig deur die buurt, loer alkant langs die pad, roep en fluit tevergeefs. Oor en oor. Jy plak oral plakkate op. Jy leer weer bid.
Op die derde dag het ons hom flou hoor miaau in die stormwaterdrein agter ons eenheid.
Ons kat is terug, maar die verlorenheid wil nie uit hom wyk nie. Hy vra nie meer om buite toe te gaan nie, klim nie meer oor die tuinmuur nie. Hy slaap nie meer op die bed nie, maar op die mat, soos iemand wat bang is om af te val. Ons vermoed hy het in die drein geval of is daarin gejaag. Dis asof hy sy draai verloor het, soos my ma sou sê. Hy maak ons nie meer sesuur wakker vir sy ontbyt nie. Hy is soet en voorbeeldig en trap in sy spoor. Snags maak ons hom wakker wanneer hy in die greep van 'n nagmerrie lê en piep soos 'n kuikentjie. Ons hoop om die drein uit hom te kry.

Ek het een keer weggeraak toe ek baie klein was. Ons gesin was by 'n skou, dink ek. Ek onthou 'n groot ruimte soos 'n skuur met allerlei uitstallings en malende mense. Ek het te intens op iets gefokus en toe ek opkyk, is my gesin weg. Ek het my weg deur die bene gebaan en van agter af 'n vrou se hand gevat. Haar rok het soos my ma s'n gelyk maar my ma het nie daardie dag dié rok aangehad nie. Die vrou het my hand vasgevat en ek het ook nie laat los toe ek sien sy is nie myne nie. Later het haar man my, huilend, op sy skouers getel en ons het deur die skare gesoek na my ouers. Daar gewaar ek hulle toe uiteindelik, heel geïnteresseerd in iets, salig onbewus daarvan dat ek soek was. Vir my het dit na 'n leeftyd gevoel.
Ek onthou tot vandag toe die verlammende ontsteltenis. Sê nou ek word nooit weer gevind nie? Sal hierdie vreemde mense mooi na my kyk? Sal ek iemand anders se lewe leef op 'n ander plek? Sal my mense na my verlang, ooit aan my dink, mooi van my praat? My kop was nog altyd te besig.
Iemand wat ek ken is op 'n dag by 'n piekniekplek langs die pad vergeet. Haar gesin was al kilometers weg toe iemand opmerk sy is nie in die motor nie. So iets laat 'n blywende letsel. Die aardplate voel nooit weer stabiel nie, 'n deeltjie van jou bly verlore, alleen langs die hoofpad.
Wanneer mense doodgaan, gebruik diegene wat medelye betoon, dikwels die woord "weggeval" of "ontval". Nee, so terloops is dit nie. Jy verlóór hulle. Vir altyd. Soos my pa en my broers. Ek droom soms in die nag dat ek hulle verlê het, êrens vergeet het, misplaas het soos 'n selfoon. Ek gaan terug op my spoor maar hulle bly verlore. Partykeer roep hulle na my, maar ek kan hulle nie plaas nie. Hulle omgewing is onbekend en onbegaanbaar. Uit dieptes gans verlore.

My sussie woon al dekades in Nieu-Seeland. Ons wat oorgebly het, is verstrooi.
Klou vas aan jou mense en diere. Tel jou skapies. Sluit die deur. Die wêreld is vol gapende gate en doodloop-labirinte. Onthou om jou kompas in te pak.
Liefde
Deborah

Tequila!
Ek het my hart geblaas, weggepis
op eenrigtingvroue en verlore sake verkwis
op los woorde en maanskyn
Wat anders kon ek doen?
Die baas van die plaas of 'n rugbyheld word?
Nee, ek is nie jammer nie ek
is 'n miskruier met 'n onmiskenbare sin
vir rigting 'ek' is
'n dronk woord.
Danie Marais
Uit: Ek is nie Danie