Illusies

Illusies
Foto deur Kiarash Mansouri / Unsplash
ANGELA TUCK

Op 'n nuwe kusdorp is daar vele afleidings, al is dit doodstil. Die natuur lok en wink en laat hom geld. Ons het nie 'n klimaat nie, ons het weer. Soos die see en die rivier is die weer geen twee dae dieselfde nie. En om 'n huis vierkantig te bewoon en jou eie te maak, verg eindelose projekte en take, alles fassinerend en tydrowend. Ek lees minder as ooit, maar sal weer my ritme vind. My lewe het in 'n droom verander - ek doen waarvoor ek lief is en is omring deur skoonheid.

Ek het, behalwe resensieboeke, John Grisham se jongste boek in klein porsies verslind. Grisham het 37 opeenvolgende nommer een-topverkopers geskryf en daar het wêreldwyd reeds 300 miljoen kopieë van sy boeke verkoop. Hy skryf een boek per jaar.

The French Illusion deur John Grisham

Toe ek jonk was, was ek gek oor Grisham se hofdramas. Slim advokate wat mekaar uitoorlê. Interns wat dag en nag werk, koffie as brandstof gebruik, rondhardloop en in yellow legal pads aantekeninge maak. Getuies wat nie opdaag nie. Getuies wat die staat of die verdediging op nommer nege-en-negentig onverwags tevoorskyn bring soos 'n haas uit 'n hoed. Die onderstromings in die jurie. 'n Grimmige regter met vooroordele en griewe.

Hierdie is nie 'n hofdrama nie. Ek was teleurgesteld. 'n Mens begin 'n sekere ding verwag van 'n skrywer en byt moeilik daaraan as hy 'n nuwe rigting inslaan. 'n Uitsondering was Deon Meyer se Koors. Ek het misdaad in Kaapstad van hom verwag maar was meegevoer deur 'n post-apokaliptiese drama met uitstekende karakterisering. Hierdie Grisham het my nie soortgelyk uitgeknikker nie.

Dis soos 'n Lee Child of Michael Connely - dit speel af in die skurwe onderbuik van misdaad, die rolspelers is rampokkers in die onderwêreld met internasionale tentakels. Dit begin egter soos 'n idilliese liefdesverhaal.

Paul en Chelsea Tanner is Amerikaanse jong mense wat 'n sprokiestroue gehad het en nou in Parys wittebrood hou. Hulle is aantreklik en bevoorreg. Chelsea plaas alles wat hulle doen (wel, amper alles) op Instagram, ook hulle reisplan en program. So vang hulle die oog van 'n skurkesindikaat wat Amerikaners ontvoer. Hulle word in hokke aangehou en uitgehonger. Uiteindelik ontvang Chelsea se rasende ouers 'n eis: Twee miljoen dollar en sy word terugbesorg. Hulle is vermoënd en kry gou die geld bymekaar. Sy word sowaar vrygelaat.

Paul se ouers hoor eers veel later van die boosdoeners. Hy is intussen verswak en voos geslaan. Hulle eis vir hom ook twee miljoen dollar. Sy ouers is minder vermoënd. Hulle verkoop hul huis en leen geld by Chelsea se ouers vir die losprys. Tog word hy nie terugbesorg nie.

Dit kom aan die lig dat Paul en Chelsea die derde paartjie is wat onlangs ontvoer is. Die ander twee mans het ook, soos Paul, bande met die Departement van Justisie gehad. Telkens is die vroue vrygelaat, maar die mans word in 'n soort militêre strafkamp gemartel. Die meesterbrein agter die misdaad het duidelik 'n persoonlike agenda. Dit word duidelik dat Amerika ná 9/11 dikwels agter elke bos 'n Moslem uitgeskop, gearresteer, gemartel en ondervra het, selfs dié wat geen bande met terrorisme gehad het nie.

Blykbaar word daar jaarliks heelwat Amerikaners en ander toeriste in die stad van liefde ontvoer. Parys hou dit natuurlik stil en Amerika wil ook nie graag erken dat hulle redelik magteloos is om hulle burgers te beskerm nie.

Die FBI, CIA en Franse Intelligensie begin saamwerk om die mans huis toe te bring. Hulle maak nie juis hond haaraf nie. Dan leer die leser geheime agent Rae Claire ken. Sy bedink 'n plan om die ontvoerders uit te lok en aan die kaak te stel: Sy stel voor sy trou met 'n jong advokaat wat by die Departement van Justisie gewerk het en topfiks is - Stuart Nash. Hulle stel hulself dan beskikbaar as lokaas vir die ontvoerders.

Claire Rae is no-nonsense en hoewel die troue wettig is, maak sy dit duidelik dat dit nie gekonsummeer sal word nie. Hulle gaan hou "wittebrood" in Parys en sy plaas gedurig foto's op Instagram. Verder moet jy maar self lees.

Dit word nogal haas ondraaglik spannend en die dinamiek tussen twee mense wat dag en nag in 'n romantiese omgewing saamgegooi word vir werk is interessant. En die mentaliteit van die beskadigde meesterbrein. Daar is heelwat kinkels en verrassings.

Ek dink nie ek gaan dit lank onthou nie, maar in die oomblik bied dit ontspanning en ontsnapping. Ek hoop Grisham skryf volgende keer weer 'n hofdrama.

The French Illusion deur John Grisham is deur Hodder & Stoughton uitgegee en kos R356 by Graffiti.

Paris

Behind the arch of glory sets the day;
The river lies in curves of silver light,
The Fields Elysian glitter in a spray
Of golden dust; the gilded dome is bright,
The towers of Notre Dame cut clean and gray
The evening sky, and pale from left to right
A hundred bridges leap from either quay.
Pillared with pride, the city of delight
Sits like an empress by her silver Seine,
Heavy with jewels, all her splendid dower
Flashing upon her, won from shore and main
By shock of combat, sacked from town and tower.
Wherever men have builded hall or fane
Red war hath gleaned for her and men have slain
To deck her loveliness. I feel again
That joy which brings her art to faultless flower,
That passion of her kings, who, reign on reign,
Arrayed her star by star with pride and power.

Willa Cather 


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe