Hier's jy nou

Hier's jy nou
Foto deur Ellen Chaffin / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Daar was 'n TV-reeks in die negentigs, Life Goes On. Dis in Afrikaans oorgeklank as Môre is nog 'n dag. Dit was oor 'n doodgewone, doodgoeie voorstedelike gesin met 'n seun wat met Downsindroom saamleef, Corkie. Upper Down, dink ek is dit destyds genoem. Hy het skoolgegaan. In die oggende gaan dit dol en die ma het haar hande vol om die halstarrige kinders uit die bed en uit die huis te kry. Dan gaan klop sy aan Corkie se deur. Hy sit reeds en wag. Sy bed is opgemaak en sy hare gekam. Hy is besig om sy skoolboeke in te pak, met 'n rustige glimlag wat verklaar: Ek is gereed vir die dag. Ek het opgedaag vir die dag.

0:00
/0:08

Om op te daag, is meer as half gewin. Om op te daag is die hele liewe punt. Oor enigiets waartoe ek my verbind, het ek later berou. Waarom het ek gesê ek sal gaan? Maar as ek oor daardie een hekkie spring, wanneer ek opdaag, is dit louter vreugde en is ek bly om daar te wees. Ek en my mens is avontuurlustige huishenne. Ons wonder altyd of enige bestemming of kuier lekkerder kan wees as 'n aand op die rusbank voor die vuur met 'n boek en 'n glasie wyn. Ons is introverte: As planne gekanselleer word, is ons altyd verheug. Maar wanneer ons opdaag, verander ons in partytjiediere en geniet ons gate uit, met jazz-hande en blinkers in die hare.

Ek het al boekefeeste georganiseer en dis 'n daad van geloof. Jy huur 'n saal, huur tafels en stoele, reël beligting, klank, sprekers, uitstallers. En dan, in die donker elmboog van die nag sit jy vervaard regop en dink: Sê nou niemand daag op nie? Nooit kan jy seker wees nie, maar wat jy moet doen en al wat jy kan doen (behalwe bemarking) is om alles gereed te kry, die tafels te dek, die feëtjieligte aan te skakel en te glo: Die mense sal kom. En dit gebeur.

In die rolprent Field of Dreams was Kevin Costner 'n boer wat 'n bofbalveld in sy mielieland gebou het om bofballegendes soos Shoeless Joe Jackson en die Chicago Black Sox te lok. Hulle het opgedaag. Uit daardie fliek kom die onvergeetlike reël: "If you build it, they will come."

Ek het die soort brein wat alle flou grappies onthou wat ek nog ooit gehoor het. My knock-knocks laat my dogters moedeloos kopskud:

Knock-knock
Who's there?
Pregnancy.
Pregnancy who?
Pregnancy Deutsch?

Ewenwel, ek onthou nog 'n grappie: Om seks te hê, moet 'n man hard werk. Om seks te hê, moet 'n vrou maar net opdaag. Nie waar oor die hele spektrum nie, maar nou ja.

Ek onthou skoolkonserte en sportbyeenkomste waar ek as kind wonder of 'n ouer gaan opdaag (dit was nie 'n uitgemaakte saak in my geval nie, en beslis ook nie in my kinders se skoolloopbaan nie) en skielik gewaar ek 'n aanmoedigende gesig in die skare. Sy het opgedaag. My ma was nie altyd daar as jy haar wou hê nie, maar wanneer sy opgedaag het, het sy moeite gedoen en koppe laat draai. Ander tieners het hulle geskaam vir hul ma's; vir my ma het niemand hulle geskaam nie. She walked in beauty like the night. Sy het soos 'n lugspieëling gekaats deur die saal of pawiljoen. Met 'n koninklike aura. Soos 'n besoeker uit die stad van blinkertjies, soos 'n vorstin van ver, uitgevat van toontjie tot kroontjie.

Miskien juis omdat my ma so glamoreus en oorweldigend was, het ek vir die grootste deel van my lewe krom geloop en nie links of regs gekyk nie. Daar was niks adelliks aan my aura nie. Ek was beskimmeld en beswaard. Maar nou, in my sestigs, trek ek my skouers terug en lig my ken. Ek wil opdaag vir my lewe, elke dag. Skoongeskrop, hare gekam, met 'n bont serp, 'n juweel wat blink, 'n breë glimlag en ingepakte boeksak, reg vir elke gebeurtenis.

Ek praat in hierdie nuusbrief met mense wat ek nog nooit gesien het nie, en ja, ek spreek ook bekendes aan. Ek maak Pandora se kis oop en hoop dié slag is dit 'n swerm vlinders wat ek in die lug loslaat. Laat hulle land waar hulle wil.

Trek 'n kam deur jou kuif, wend lipstif aan of waks jou snor, klim op jou groen fiets en val in die pad. Hulle wag vir jou.

Dankie dat jy opgedaag het.

Liefde
Deborah

N.S. In die nanag staan daar skielik voor my deur 'n woord wat ek liefhet. Ek leen dit vir jou. Dis ritmies en kan 'n mantra wees vir stap, draf, fietsry of swem: SLÁPKOEJAWEL.

My eerste Bybel

Openbaring 5
Wie is waardig om dié boek oop te maak?
Die verse versigtig geasterisk,
God se beloftes dat Hy oor jou waak
netjies met pen onderstreep, aangestip.
Wie mag die sewe seëls breek?
Die briewe van jou skoolvriend lees?
Boekmerk by 'n vergete preek:
Die Here sou jou herder wees.
Wie kan na die foto’s kyk
van jou dooie troetelhond
of weet hoe het jou ma gelyk
voor sy bril gedra het?
Ek is die een met sewe oë
die sywurmkruis 'n swaard in my mond.
Slaan die boek óóp; slag my lyf.
Pa het voorin my naam geskryf.

Fourie Botha


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe