Gierige, vet vingers

Gierige, vet vingers
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Ons het hierdie planeet van haar bates gestroop en haar soos 'n vervangbare kontantkoei gemelk. Joni Mitchell het geskryf en gesing: They paved paradise and they put up a parking lot.

Vandag wil ek huil oor die kommersialisering van alles hier. Niks word ontsien nie. Jou kop word gekaap en daar word belasting gehef op jou emosies. Gevoelens was nog altyd hoogs winsgewend, dink maar aan tranetrekkers by die loket en damn sad country songs met 'n Hawaiïse kitaar wat weeklaag.

Toe ek vir 'n uitgewer gewerk het, was dit altyd my maatstaf: nie die bes geskrewe manuskrip nie, maar die een wat 'n emosionele aanspraak maak, dié het ek gekeur. Nie goedkoop, vals emosie nie hoor; ek het 'n lang antenna daarvoor. Die soort wat jou onverhoeds betrap. Wat die hare op jou lyf laat orentstaan en onverwagse trane laat opwel.

Maar ek het 'n probleem met die uitgewersbedryf: Dit het, soos alles, net om geld begin wentel. In die ou dae, oorsee en plaaslik, is die publikasie van boeke gesien as 'n soort liefdestaak, 'n plig, om mense op te hef, om waardevolle woorde en kennis in biblioteke te vestig. Deesdae is daar net een vraag: Gaan dit verkoop?

Vroeër het enkele kassierstaatmakers soos Wilbur Smith, Dalene Matthee en Ela Spence, genoeg geld ingebring sodat uitgewers ook gewigtiger boeke kon uitgee wat van die wêreld 'n beter plek maak. Dis nie meer so nie. Daar is min erbarming oor in die bedryf. Tye is swaar, almal moet eet. En 'n tweede strandhuis of meer wingerde aanskaf. Marmelade, rosé en olyfolie verkoop boonop veel beter as boeke, ongeag die prys. As ons iets kan eet en uitskyt, is dit waardevoller as idees wat in ons kop ontkiem.

Resensies is ook nie meer belangrik nie, reken hulle. Dit verkoop glo nie boeke nie. Wat meer bemarkbaar is, is oulike jong smaakmakers wat die boek hemelhoog aanbeveel op sosiale media, in 'n stywe streep-T-hemp en 'n verflenterde bofbalkep, of met lang goue lokke en vals wimpers.

Ek weet ek klink bitter. Laat ek nie ontken dat ek 'n smartvraat is nie. Hartseer storietjies op Facebook laat my gereeld huil. Net om later te hoor dit was nooit waar nie, soos die olifant wat die veldwagter se lyk vir dae en nagte beskerm het teen roofdiere. Met foto en al. Miskien ook die merrie wat weesdiertjies gaan soek het in die woud? KI kan tendense en reaksies ontleed en weet presies op watter knoppies om te druk. Ek voel om die bos gelei, vergat. Miskien was my antenna nie so lank nie.

Ek glo briewe moet ten minste gratis wees, daarom vra ek nie geld om hierdie te skryf nie. Om gelees te word, is sy eie beloning. Iets moet 'n mens vir die wêreld gee, vir die liefde van die saak. Die saak is lees.

Nog iets wat my pla: Digkuns is, myns insiens, die klankbaan van ons werklikheid. Mense het dit nodig soos suurstof; om konsepte raak te tas wat anderkant omgangspraak lê. Om te besiel, om die hof te maak, om tot rewolusie op te sweep, selfs om slagveld toe te gaan. Tog verkoop digbundels nie en bestaan daar die persepsie dat poësie gratis moet wees, allemansgoed soos volksliedjies. Hoekom? Daar is nie 'n bedryf waar die wewers meer sweet nie.

Ons hunker ook na 'n wêreld waar parkering gratis is. Dit is nooit nie, selfs al is jy 'n verbruiker van die sentrum se winkels. Moenie kla oor karwagte nie, al is die diens wat hulle lewer bloot simbolies: Ten minste gee jy geld in die palm van 'n mens, iemand wat ander onderhou en die wolf van die deur weghou.

Daar is niks wat nie gekaap en gekommersialiseer word nie. Gekapitaliseer. Grond, ideale, vaderlandsliefde, godsdiens, liefde, seks, geselskap. Oorloë gaan net oor een ding: geld.

Geld is nie die wortel van alle kwaad nie, dit weet ons almal. Dis die liefde vir geld wat boos is. Gierigheid. Ek kan nooit verstaan hoeveel geld sekere indiwidue wil vergaar nie. Dit word seker 'n abstraksie, soos 'n speletjie. Die enigste oogmerk is om te wen. Goud en silwer het ek lief, met hul kartelrandjies.

Goud, dollars, olie: alles word 'n wapen. Dis 'n lelike wêreld.

Êrens is daar miskien nog 'n lappie ongeannekseerde, ongeproklameerde aarde waar die leeu en die lam binneboud lê. Waar die flaminke dans en die visarend roep. Of nee, wag, dis die hiernamaals. Of dis KI-gegenereer.

Wag, laat ek gaan lees.

Liefde
Deborah

Naskrif: Gelukkig het ek hierdie brief Donderdag reeds geskryf, want vandag (Vrydag) het ek verbrokkel soos 'n legkaart wat weggepak word. Donderdagnag het ons kat nie huis toe gekom nie. Ek weet, katte maak soms so, maar hy het nog nooit nie. Hy is tien jaar oud en baie huisvas. Dis nou twee nagte sonder hom. Soos Leonard Cohen gesing het: I listen all night for your step on the stair. En Ingrid Jonker: "Waar slaap my liefde, my liefde vannag?" Kom terug!

Skat, die kat van my lewe.

Hemel

My kat is geel soos 'n papawer
met oë nes botterblommetjies
en ’n voetstap ligter
as ’n sonstreep oor die water.
Die mossies in my tuin
het koppies rond soos okkerneute
en ligte lyfies soos gepunte blare.
Maar op ’n dag
skerp naels tussen fyn veertjies
en meteens die angs
gestem op die kwint van ’n klein stemmetjie.
Dis dan dat ek my voet botter smeer
om langer hier te bly
en nie byvoorbaat weg te loop na daardie land
waar die wolf by die lam gaan wei
en die mossie haar eiertjies
tussen die pootjies van die kat sal lê.

Lina Spies


SKAT IS TUIS! Hy was in 'n stormwaterdrein agter ons eenheid. Hy het elders ingeglip en kon nie uit nie. Ons het met die hulp van bure, twee tuinvurke en 'n graaf die swaar grid gelig en hom bevry. DANKIE TOG!

Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe