Die vreugde van lees

Die vreugde van lees
ANGELA TUCK

Read the article in English here.

The Calamity Club deur Kathryn Stockett

Die koerier lewer 'n boekpakkie af. Lywig. Aha, twee of drie boeke, dink ek. Dit kan skaars deur die opening tussen hek en stutpaal kom. Nee hoor, dis een boek, van 638 bladsye. My moed sak so 'n bietjie in my skoene. Ons leef nie meer in die era van die groot Russiese skrywers nie, toe lesers op wintersmiddae en -aande onverstoord voor die kaggel kon sit en lees vir ure, sonder die afleiding van TV, selfone, tablette, mikrogolwe en lugbraaiers wat pieng.

Maar op die heel eerste bladsy vang dit my vas en hoe verder ek lees, hoe blyer is ek oor die volume. Dis soos om kleintyd 'n omnibus van Keurboslaan raak te loop en te weet: Ek gaan heel naweek kan lees.

Kathryn Stockett is die skrywer van die topverkoper The Help, wat ook 'n fliek geword het. Hierdie roman speel weer in die diep suide af, in Oxford, Mississippi. Daar is twee vertellers: 'n elfjarige kind, Meg, en Birdie, 'n oujongnooi in haar vroeë twintigs – onthou, dis die diep Suide in die jaar 1933. Wat die twee vertellers gemeen het, is houding, vuur en innerlike krag. Hulle het dit nodig.

Meg se ma gaan dorp toe en kom nooit terug nie. Sy het nooit haar pa geken nie. Sy oorleef 'n week op haar eie en begin later boeke eet. Ulysses smaak nie goed nie, verklaar sy. Dan kom 'n dokter op haar af en sy word weeshuis toe gestuur: The Lafayette Country Orphan Asylum for Girls. Volgens 'n geraamde kennisgewing by die ingang is almal welkom, behalwe: "Coloreds, Indians, Jews, Mexicans, Oriental types, Twins, Anyone who has or has had Leprosy, Consumption, Missing Limbs or Harelip. No Boys. No Sick Children or anyone of a Retarded Nature. No Girls over the age of twelve. No Women in the Family Way."

Die Orphan, soos na die kinderhuis verwys word, is 'n hellegat. Dis 'n monument vir Christelike geveindsheid: Die voorportaal en stafsitkamer is deftig en kleurvol. Welgestelde sosiale vlinders is vrywillige werkers wat die babas sus. Daar is 'n tekort aan babas. Agter die vrolike fasade lyk dit oes. Die onaanneembare ouer dogters word in die solderkamer aangehou, waar die dak lek en die mure vol swamme is. Hulle mag nie met die babas en kleuters meng nie. Hulle word nie aangeraak nie en daar word gedurig vir hulle gepreek dat hulle ma's van losse sedes en gebrekkige verstand hulle versaak het, en dat hulle nie eweneens moet grootword om tien kinders van tien mans te hê nie. Hulle kos is so sleg en so min dat die enkeles wie se maandstonde al begin het, ophou menstrueer. Meg is in daardie solder, maar omdat sy 'n skets geteken het van die baba Jesus wat sy middelvinger wys, word sy verbied om skool te gaan (sy is besonder slim) en moet heeldag in 'n muwwe kamertjie sit waarvan die vensters toegeplank is.

Die hoof van die kinderhuis, Miss Garnett, laat Cruella de Vil na 'n filantroop lyk. Sy is fanaties oor die bewaring van sedes en die suiwerheid van die volk. Sy het 'n besonderse haat vir Meg, met wie sy tog ook 'n obsessie het. Haar wreedheid ken geen perke nie. Op 12 stuur sy die dogters na 'n cannery, 'n inlegfabriek waar hulle hongerloon net kos en verblyf dek. Daardie dag kom nader vir Meg.

Birdie is die oudste dogter wat na haar ma en ouma omsien. Sy is 'n boekhouer en een van die min mense wat nog werk het in hulle dorpie, Lafayette. Haar mooi jonger sussie Frances is na 'n afrondingskool in Oxford en het direk daarna ryk getrou en haar daar gevestig. Sy laat nooit van haar hoor nie. Birdie word deur haar ma en ouma, Meemaw, afgevaardig om per trein na Oxford te reis en Frances vir 'n lening te vra, want eiendomsbelasting dreig om hulle hul huis te laat verloor.

Frances woon in haar skoonma, Viktoria, se mansion saam met haar seunsagtige man, Rory, wat ruggraatloos is en nooit die huwelik voltrek het nie. Frances is ydel en lui, onnadenkend selfsugtig en gemeen met Birdie. Frances is een van die vrywilligers wat soms babas sus by die Orphan. Haar rolmodel is Miss Garnett. Birdie word ingekatrol om gratis die Orphan se boeke reg te ruk, en daar ontmoet sy vir Meg. Geesgenote.

Verder gaan ek nie vertel nie, maar ek beveel dit hemelhoog aan. Dis 'n kruis tussen Jane Eyre, The Chemistry Lesson, Cider House Rules, David Copperfield en elke lekker boek wat ek al ooit gelees het. Dis snaaks en hartroerend. Dit verveel geen oomblik nie. Ek beny diegene wat dit vir die eerste maal mag oopslaan.

The Calamity Club deur Kathryn Stockett is deur Penguin Books Ltd uitgegee en kos R405 by Exclusive Books.

What the Night Brings deur Mark Billingham

Hierdie is reeds die negentiende Tom Thorne-boek. Ek het hier en daar een van hulle gelees. Thorne is so 'n bietjie soos John Rebus: Hardgebak en eiewys met 'n kurkdroë humorsin. Hy is 'n speurder, soos Nicola Tanner, wat ook sterk in die reeks figureer. Hulle is in Londen gesetel.

Soms dink ek ek is 'n bietjie vuisvoos van polisiestories. Al die prosedure, die forensiese bewyse, die onvermydelike grusame nadoodse ondersoeke, die persoonlike probleme, die korrupsie in die diens. Maar Billingham is onderhoudend, hoor. Karaktergedrewe, wat dit die lees werd maak. En natuurlik spannend. Jy wil agter die kap van die byl kom. Of die mes, speek, rewolwer, gif.

Daar is iemand wat polisiemanne aan diens vermoor. Vier met vergiftigde donuts, iemand word doodgery, iemand doodgesteek. Die leser weet wie hy is, die eensame surfer van die donker web met sy tragiese verlede en sy wrokkige haat. Die polisie kom ook redelik gou agter wie hy is, maar hoe om hom op te spoor en skuldig te bewys? En wie werk saam met hom, hoe is dit dat hy altyd weet presies wat die polisie volgende gaan doen en waar hulle gaan wees. Daar is duidelik 'n mol, 'n lek.

Dis grinterig sowel as menslik. Omdat ek al soveel van hierdie romans gelees het, het ek begin vermoed wie die informant aan die binnekant is, die korrupte polisieman en verraaier. Verkragting is 'n sentrale tema en dit laat immer die bloed kook. Dit maak 'n emosionele aanspraak.

Billingham word gereken as een van die groot misdaadskrywers. Dis ook nogal lywig: 415 bladsye. My oë is moeg, maar ek is diep dankbaar vir die gawe van boeke.

What the Night Brings deur Mark Billingham is deur Little, Brown Group uitgegee en kos R455 by Exclusive Books.

18

Verby my vlieg ʼn vink met in sy bek
ʼn wimpelende lint, materiaal
wat hy as klein koerier karwei: gereep,
gepluk, gepluis in tuine in die buurt – 
van stringe palmvaan tot dennenaald
en sagter blaar word ingevleg, geheg
met filamentdun gare, vasgeknoop
en ingeweef tot welige tekstiel.
Beskou dit op die keper word dié flink
geel fabriseerder argitek, betrek
hy elemente van Vitruvius
se De Architectura, spesifiek
sy ratiocinatio, in nes
op nes waaraan hy akrobaties bou.

Johan Myburg

Uit: Steierwerk


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe