Handewerk

Liewe vriende
Op ons kusdorpie is 'n nutsman sonder weerga, meneer Granville Daries. Sy hande staan vir niks verkeerd nie. Geen taak is te groot of te klein nie. Hy praat ook 'n krom tafelpoot reguit met woorde so gevleueld soos dié van 'n besielde lekeprediker. Só vertel hy: "Ek was nie slim op skool nie, maar ek is intelligent." Ek weet presies wat hy bedoel.
Granville laat dinge gebeur, hy vergestalt, hy maak mooi wat lelik of stukkend was, hy laat iets uit niks opstaan. Ek bewonder en beny hom.

Die meeste werke is so herhalend en abstrak. Niks tasbaar verskyn onder jou hand nie. Jy moet jou uitset meet aan ure en syfers. Jy wonder dikwels of jy hoegenaamd 'n verskil maak, maar kos moet op die tafel kom en die aftrekorders gedek word, in die sweet van jou aangesig.
Hoe wonderbaarlik moet dit wees om jou handewerk te sien verrys voor jou oë. Waar gister niks was nie, is nou iets mooi en funksioneel. Ek wil graag glo skryf is handewerk, maar ek is nie so seker nie. Miskien toe mense nog met die hand geskryf het. Nou huppel my vingers oor die toetsbord en die boeke wat al daaruit ontstaan het, is verpulp en van die rak af. Kwalik 'n nalatenskap. Tog sit die kreatiwiteit in my vingers, voel dit vir my; as ek nie kan slaap nie, tik my rustelose vingers my gedagtes in die lug, soos 'n hond wat droom.
Gister in die bank het 'n konsultant, Magriet dink ek is haar naam, my probleem op 'n kreatiewe manier opgelos terwyl haar vingers oor die toetse dans. Dit was mooi om te sien.
My gunstelingniggie, Susan, woon reeds meer as twee dekades hier. Om haar gereeld te sien, is om iets van ons kinderdae te herwin. Sorgvry was dit nie, maar ons was so oop en idealisties. Ons begin weer so voel, versigtig. Sy en haar twee volwasse kinders werk elke dag gesellig sy aan sy agter in haar winkel, besig om juwele te maak. Baie daarvan word deesdae op die rekenaar ontwerp en met 'n 3D-drukker vervaardig, maar daar is nog steeds veel kreatiwiteit wat in ontwerp en afronding gaan. Handewerk. En aan die einde daarvan het jy juweliersware: skoon, elegant, lieflik.

Ons vriendin Mareli speel klavier en ek raak nooit moeg om haar hande dop te hou wanneer sy praat nie, die vingers so intelligent en soepel. Ekspressief.
Huisskoonmaak is sielsvernietigend, want die resultaat is van korte duur en dit moet daagliks herhaal word. Sleurwerk. Kook en tuinwerk is meer kreatief, al is die vrug van jou arbeid vervlietend soos die skoonheidsduur van A.G. Visser se roos. Kos verdwyn in mae en jy sit met hope skottelgoed. Tog gaan die aanbied en eet daarvan met liefde en geselligheid gepaard. Dit skep welwillendheid en maak die lewe sagter, al is dit net die rondings van jou heupe.
Mense wil resultate sien, ons instelling is uitkomsgebaseerd. Benewens die vreugde in die arbeid (soms) moet die landskap verander waar ons woeker en stoei. Daarom het die ANC se meerderheid gekrimp: Ideale, leë beloftes en korrupsie maak nie mae vol nie. Mense begeer basiese dienslewering.
Ek laat my woorde opstapel, ek stuur hulle die eter in soos brood op die water en hoop dat ek dit na verloop van baie dae sal vind. Ek persoonlik het "in lengte van dae" verkies, soos alles in die ou vertaling. Soos 'n hert in dorre streke hunker ek na die argaïese woorde. Ek verstaan nie waarom die taal van testamente en evangelies opgedateer moet word nie. Ek wil dit steeds in my ouma se stem hoor.
Liewe vriend, as jy heeldag voor 'n rekenaar sit en met abstraksies stoei, is dit goed om handwerk op te neem. Om vir 'n uur of wat die dinkwerk aan jou vingers oor te laat. Om iets te sien ontstaan. Om jou hande vuil te maak en eelte te kry. Stof af jou toolboks en pak uit jou kwasse en verf.
Ek los vir jou 'n briefie in 'n bottel. Stuur asseblief 'n teken terug oor die golwe. Hoewel daardie romantiese konsep ook uitgedien is. Niemand wil meer bottels in die oseaan hê nie. En as ek dink aan Jim Croce se trefferliedjie: As jy tyd in 'n bottel bewaar, sal dit verslaan en wanneer jy dit ontkurk, sal daar net 'n suurerige reukie hang. Ek wil tyd in woorde bewaar. Ek soek op die bladsye van boeke na ander mense se herinneringe.
Ek was slim op skool, maar dit het my lank gevat om intelligent te word.
Liefde
Deborah

die digters se manifes van meelewing
ons is die digters / ons gun mekaar die vryheid van denke
en verbeelding / ons kyk die een na die ander
se woordeworstelinge soos kleuters wat Noag se arkeologie
met modelleerklei boetseer / en ons
is bly elkeen oor die vrug van die ander
se hande / ons is die digters / ons het gróót
medeklinkende harte wat belangeloos
opgaan in die liefde / ons is nie jaloers
of nydig nie / ons voel nooit afgeskeep nie /
ons oordeel en veroordeel nie / ons
probeer mekaar nie bewimpel met ekkerigsotiese
kontsepte van die Empaaier nie / nóg
sal ons 'n ander ooit vergiftig met wierook
of in die kánondonder stuur /
ons is die digters / geringskattend
as woord is te tongbeduiwelend om ooit
vars en viets in 'n vers lê gemaak te word
en ons ken nie van liemaak of vermakerigheid nie /
ons baklei immers nie vir krummels
van die baas se tafel nie / kyk, ons loer nooit af
en aap nooit na nie / ons is die digters / ons koer
wedersydse bewondering soos vredesduiwe /
buitendien: ons weet al ons lettergrype is torinkies
van as en sandkasteeltjies in die land / en óns
brandkerse in die wind van geskiedenis / daarom
is ons monde welluidend van meelewing /
want ons is die digters / broers en susters /
so waarom sou ons mekaar ook ooit
in die oond wil steek?
Breyten Breytenbach