Annie en Ma

Annie en Ma
Foto deur The Metropolitan Museum of Art / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Annie Dillard is dood. Sy was 81.

'n Hele biblioteek sterf saam met haar, maar haar woorde laat sy na, en haar gekantelde gedagtes. Soos hierdie:

There is no shortage of good days. It is good lives that are hard to come by. A life of good days lived in the senses is not enough. The life of sensation is the life of greed; it requires more and more. The life of the spirit requires less and less; time is ample and its passage sweet. Who would call a day spent reading a good day? But a life spent reading – that is a good life.

Ek dink haar lewe was goed. Sy het berge boeke gelees en haarself as kind geleer om in die hede te leef, aandagtig. Boeke het dit vir haar moontlik gemaak om tegelyk die oomblik aan te gryp en te ontsnap. Geheel en al aandagtig. Met gespitste ore, met sintuie op aandag.

Ek dink ek is gereed om aandag te skenk. In die middae op ons nuwe dorp lê ek op my rug op die grasperk en kyk hoe die wolke verbyskuif en merk weer, soos toe ek 'n kind was, dat die wêreld inderdaad rond is en alles, altyd, in beweging. Ek en Skat, ons kat, hou dit dop.

Dis ál waar my besige kop nog ooit kon mediteer: in die natuur. Om te sit en kyk na die see, of met die soom van die branders langs te stap met die horison in die hoek van jou oog en die gedawer van golwe in jou ore wat die stotterende klankbaan in jou kop stilmaak.

Dan onthou ek wat ek gelees het oor Ma, 'n Japannese woord: "Ma" (間) is 'n tradisionele Japannese estetiese konsep wat verwys na negatiewe ruimtes, 'n pouse of 'n betekenisvolle afstand tussen voorwerpe of oomblikke.

Ek is liminaal en wil in die Ma leef. In die stiltes tussen woorde, wanneer mense begin kriewelrig raak en die onderwerp verander. Maar nee, die stilte is nie 'n vakuum wat volgestop moet word nie, die niks is 'n aktiewe teenwoordigheid wat vorm en betekenis gee aan alles wat dit omring. Die afwesigheid is 'n poort, 'n opening na iets.

My ma was my poort na die verblindende lig, die lawaai, morsigheid en verrukking van menswees. Het ek haar ooit genoeg bedank? Sy word aanstons negentig.

Ek is verlief op daardie skare skrywers wat 'n oomblik op aarde kan verwoord, en die stiltes tussen dinge. Die lugleegtes en gapende deuropeninge na êrens. Virginia Woolf was een van die voorstes en dit het haar oorweldig; die afgrond was te aantreklik. Êrens het Dillard geskryf 'n mens moet by afgronde afspring en glo dat jy gaan vlerke groei. Emily Dickinson kon ook woorde vind vir die ruimtes tussen voorwerpe, tussen sinne en begeertes. Sy het geskryf:

“Hope” is the thing with feathers –
That perches in the soul –
And sings the tune without the words –
And never stops – at all –

T.S. Eliot, die bankier met ritme in sy litte, het gesê:

Between the idea 
And the reality 
Between the motion 
And the act 
Falls the Shadow

Karel Schoeman se romans het, volgens die digter Tom Gouws, die tekstuur van stilte gehad. Hy kon die lug vol helder wolke waarneem.

Ek wil skadu's omhels, en stiltes. 'n Leë bladsy of 'n leë doek is 'n storie of skildery wat wag om te gebeur. Die stilte voor die storm. Die oog van die naald, die lip van die vulkaan. Die swanger oomblik voordat 'n brander breek. In die ruimtes tussen mense kan vyandigheid of vertroue nesskop. Alles is suiwer potensiaal as dit nog nie gebeur het nie. Op die punt van jou tong huiwer die mooiste woorde. Moenie die stilte wegbabbel nie. Luister daarna. Demp al die toestelle en toepassings, sit af die ligte en steek 'n kers op.

Liewe leser, goeie dae opeengestapel word 'n goeie lewe. As jy my en Annie vra, is goeie dae dié waarin 'n mens lees. 'n Lewe bestee aan lees is 'n goeie lewe.

Ek hou hierdie brief kort, want ek hoop tussen die punt en die hoofletter, tussen die ellips en die aandagstreep, in die wit skerm tussen paragrawe is daar leeftye opgesluit.

Ek sê Ma net.

Liefde
Deborah

Moenie in die stilte

moenie in die stilte
vrae vra nie

moenie met vrae
die stilte stil maak nie

moenie die niet
vernietig nie

vernietig dan liewer
die vrae
met stilte

Fransi Phillips


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe