Storiestraat

Liewe vriende
In ons nuwe dorp is daar 'n Storiestraat. Ek het gewens ek woon daar. Maar as 'n mens naderstap, sien jy dis eintlik Pastoriestraat. Iemand het die PA doodgeverf. 'n Blink ingewing en 'n onmeetbare verbetering, as jy my vra. Courier Guy mag dalk verward wees. Ons woon in Perdekuillaan, wat ook betowerend is. My oupa en ouma se plaas in Swaziland was Paardekraal. Yes, we had a farm in Africa. Nou het ons net skuldgevoelens.

Soms lig selfs die skuldlas van 'n mens se skouers, want die dag is so mooi. Dis 'n bewolkte oggend hier met 'n misbank oor die see, 'n eggo van bewolkte oggende in my kinderdae, toe dit dikwels in September koud en reënerig was. Ek onthou pers knieë in 'n skoolrok wat te kort word. Dis 'n dag vir staar en vraagstukke uitpluis. Soms benodig 'n mens 'n handleiding. Ek lees Jack Kerouac se vereistes vir prosa:
Aanvaar verlies vir altyd.
Wees onderdanig aan alles, oop, luisterend.
Geen vrees of skaamte oor die waardigheid van jou ervaring, taal en kennis nie.
Wees verlief op jou lewe.

Kerouac het geglo ons moenie skaam wees oor ons ervaringe, taal of kennis nie. Of lywe, wil ek byvoeg. Ek lees dat Nederlandse woordeboeke nou 'n alternatief bied vir die verkleinerende woord "schaamlippen". Skaamlippe is ook op die klippe in Afrikaans. Nederlanders het besluit vroue moet raakgesien voel en stel die alternatief "vulvalippen" voor. Huh.
Ek is onderdanig aan alles, oop, luisterend en tot oor my ore verlief op my lewe. Ek ontdek nuwe aanlegte. Ek sal nie sover gaan om dit talente te noem nie, maar daar is nuwe dinge wat ek leer om te doen, waarin ek redelik slaag. Ek is nie te onhandig met 'n boor en 'n verfkwas nie. Daarom lees ek op die oomblik min – ek woeker aan die huis. Handwerk, die handdeel, is heerlik, maar verg fyn beplanning en voorbereiding. Ek het 'n leermeester: My persoon se broer, Willem, kom kuier met sy porseleinboor, waterpas, maatband en maskeerband. En 'n toestel om te toets waar 'n mens mag boor, waar daar nie waterpype of elektriese bedrading is nie. Wanneer al die voorbereiding in plek is en 'n mens onbevrees kan verf, boor of hamer, is dit soos mediteer. Suiwer vreugde.
Dit laat my nadink oor geslypte vaardighede. Die skoonheid en grasie van iemand wat hulle kuns bemeester het, hulle vaardigheid onder die knie het, wat asof moeiteloos 'n streep trek, 'n bal slaan, deur die water klief; lieflik om te aanskou. Nog iets wat vir my mooi is, is om te sien hoe 'n mens skeppend dink. As jy met iets besig was en sukkel om dit reg te kry, sou my pa jou dophou, nadink, 'n paar sketse maak en siedaar, vir jou 'n werktuig prakseer wat jou taak oneindig vergemaklik. Ek wil ook so wees. Ek wil nie vir KI vra hoe om 'n probleem op te los nie. Ek wil dinkfiks wees. My brein moet nuwe paadjies bou, sinapse moet spring en vonk en blink planne bedink. Ek wil dit maklik laat lyk.
In hierdie rustige fase van my lewe is ek toenemend aangetrokke tot maklik. Nie lui of afgeskeep nie maar daardie oënskynlike maklik wat na 10 000 uur se oefening opdaag. Ek ontdek 'n diva op die internet, die koningin van slaapkamerpop, folk en R&B. Wat my aantrek, is die rustigheid in haar stem en interpretasie:
November Ultra begelei haarself op die klavier en dis asof sy vir haarself sing, ingedagte, haar kyk ver soos in die greep van 'n droom. Sy sing soos iemand wat pas wakkergeword het en droomverlore by haarself neurie sonder om te weet dat iemand vir haar luister. Soms skreef sy haar regteroog asof in die aangesig van 'n klein, skerp hoofpyntjie of 'n grap wat sy met haarself deel. Dis melancholies, nostalgies, amper terloops. Sy laat dit maklik lyk.
Steeds in die gees van moeiteloos lees ek oor Tai Chi-stap. Dis nie verbete kragloop nie, dit het 'n gemaklike pas soos 'n Sondagmiddagwandeling. Dis hoe Oosterse vroue fiks en viets bly. Elke tree is 'n stadige verskuiwing van die gewig van hak tot toon. Dit aktiveer die diep kern- en beenspiere sonder om gewrigte te belas. Asemhaling is ook belangrik: asem vir 'n paar treë in en asem vir dieselfde aantal treë uit. Dit hou die liggaam kalm sonder die stres wat met strawwe oefening gepaard gaan. Konsekwentheid is belangriker as intensiteit. Sweet tap jou nie af nie. Dis belangrik dat jy elke dag opdaag en dat jou lyf begin uitsien na die stappery.
Dan vang stoel-Pilates en -joga ook my oog. Dis nie waar dat van sit en staan niks gedaan kom nie. Sit-sit so kan jy sterk en fiks word.

Liewe vriende, staar na die wolke of pak 'n vuur aan, volg 'n gedagtetrein al die pad deur die tonnel tot in die stasie, laat 'n gloeilampie bo jou kop aanskakel, los 'n probleem op jou eie op of bedroom 'n slim plan. Roer jou litte rustig en laat dit maklik lyk. Woeker stadig in Storiestraat. Hier kom reën.
Liefde
Deborah

nagswem
Malangane, Mosambiek
op een en twintig
wou ons nag lank swem
na die hemel daarbo
die aarde hieronder
en einders van die see
op ‘n mensvry strand
was ons meerminne
met wiere in slierthare
‘n skare planete
uit die niet gepluk
en min of meer
sewe seesterre
in die uitspansel
se regterhand
rangskik
saam het ons gesnorkel
oor kartel-alg en purperslak
steekmossel se vlerk
daar was kapers op die kus
en gerugte van roofvis
as ‘n skip ter haaie gaan
maar ons bloublasieharte
het nakend gebons
sluiervlies wat spelend plons
oor die maagdwit glimlag
van ‘n maan
Carina Stander
Uit: woud van nege en negentig vlerke