Aan die einde van die wêreld

Read the review in English here.
Hierdie week het ek die toekoms besoek, en dit lyk donker. Soos Leonard Cohen gesê het: "I have seen the future. It is murder." Ek het altyd gedink ek hou nie juis van distopiese fiksie nie. Dis so onherbergsaam en vyandig aan die einde van die wêreld, wanneer die uurglas leeggeloop het vir die mensdom. Wanneer die aarde wat deur soveel millennia misbruik en verkrag is deur die mensdom, hulle opeens afskud soos lastige vlieë. Hier is 'n fururistiese roman wat my soos 'n nagmerrie bloots gery het en wat ek nie kon neersit nie. Ek sal enigiets lees solank die karakters deel van my senustelsel word en die skryfstyl skoon en begogelend is. Dan gee ek my oor aan tekstase en verken horisonne waarvan ek nie bewus was nie. Hoor en sien vergaan.
The Two of Us at the End of the World deur C.A. Fletcher
Charlie Fletcher is 'n Britse draaiboekskrywer en outeur, die skrywer van onder andere die Stoneheart-trilogie (jeugromans). Hierdie roman was my eerste kennismaking met sy skryfwerk.
Daar is twee storielyne, twee stelle karakters, ongeveer 200 jaar uitmekaar en aan die einde ontmoet hulle soort van. Soos dikwels met twee storielyne verkies ek die een, raak verdiep daarin en is vies as ek skielik weer in 'n ander scenario en tyd moet inklouter. Maar algaande het my minder gunsteling storielyn my ook begin fassineer, weens die karakters.
Dit begin in Year Zero, met G-Day op die Hebridiese eilande van Skotland. 'n Seun en 'n meisie is op die strand toe die aankondiging van die Wêreldgesondheidsorganisasie kom: Dit het duidelik geword dat mense eenvoudig, brutaal, opgehou het om kinders te kan kry. Nou begin die aftel na die einde: Ongeveer negentig jaar vir die laaste generasie natuurlik-gebore kinders om oud te word en te sterf.
Die meisie sê vir die seun dat die dinousourusse ten minste nie die einde gesien kom het nie.
Dan ontmoet die leser vir Mouse, die karakter wat my die heel meeste aangegryp het. Dis die jaar 201 nG, (ná G-Day). Sommige mense, 'n handjie vol, kon wel nog voortplant. Die aarde is yl bevolk en verwoes. Mouse is 'n tiener. Sy only-other is Cat. Sy was ses en hy 'n baba toe sy hom opgetel en deur die nag met hom gevlug het. Sy ma, wat sterwend was aan die Groot Hoes, het haar gevra om na hom te kyk.
Nou is hulle groot en het 'n heilige vrees vir die see, want dit was waarvandaan die vreemdelinge gekom het wat die dodelike hoes na hulle klein groepie mense gebring het. Cat en Mouse woon in 'n versaakte bunker met 'n versteekte deur en al wat hulle het is mekaar. En boeke. Cat het hom leer lees.
Hulle band is sterk. Mouse is 'n saggeaarde dromer en Cat kwaai, uiters prakties, hiperaktief en vreesloos. Hulle kom op 'n vreemdeling af, die eerste ander mens wat Mouse ooit gesien het. Hy is hulle nie goedgesind nie en het boeie aan sy gordel. Toe hy vir Cat deur die gesig klap, skiet Mouse hom sonder om te dink met sy pyl en boog. Die man is morsdood en Mouse is verslae. Hulle sleep hom weg en begrawe hom in 'n vlak gat waar 'n reuseboom gestaan en geval het.
Dan kom hulle op 'n hond af, wat hulle dringend lei na 'n kwarriegat waar twee meisies weerskante van 'n elektriese koord oor die afgrond hang, verbind deur hulle boeie. Cat en Mouse voer 'n doodsveragtende reddingspoging uit. Die meisies, jonger as Mouse, is verskrik en ontsenu. Dit lyk asof hulle na iemand soek. Mouse neem aan die man wat hy vermoor het, is hulle pa. Hy gaan wys hulle die lyk en wil om verskoning vra, maar hulle spoeg op die lyk en haal die sleutel van hul boeie uit sy sak. Hulle, die hond en hul drie perde kom woon in die bunker. Die sussies, Freya en Storm, praat min. Storm is net so kortgebaker soos Cat en Freya is gebroke, eenvoudig verpletter. Hulle is 'n tweeling en die dooie man, 'n Rus, het hulle ma doodgemaak en hulle weggevoer. Hy het Freya misbruik en verkrag.
Mouse raak baie lief vir die hond, Digger, maar sukkel om vat te kry aan die gekompliseerde, beskadigde susters. Dan word dit duidelik dat Freya swanger is. Sy verval in 'n selfs dieper depressie.
Jy moet self lees, as dit jou soort boek is en miskien selfs as dit nie is nie, hoe Mouse en Cat die tweelingbabas grootmaak en met hulle vlug nadat die sussies die hasepad gekies het. Al die lewensgevare wat hulle op die lyf loop in die onherbergsame landskap.
Intussen, in die ander storielyn, het die Meisie 'n foto van die Seun en sy hond geneem op die laaste perfek gelukkige dag van sy lewe. Die foto duik eeue later weer op. Die Meisie is swanger. Sy is 'n uitsondering, so skaars soos hoendertande en sy word teen haar sin aangehou in 'n navorsingsentrum. Sal sy op hulle boot, Hope, kan vlug na die eiland? Sal sy en die Seun ooit herenig word?
As jy soos ek is, sal jy deurnag naels kou. Elke nou en dan is daar 'n beeld wat jou voete onder jou uitslaan, soos die volgende:
And either way we'd have just been gone as if we'd never been in the first place, a pointless flash of lightning in the greater darkness, a momentary stutter on the road to oblivion. And no one would ever have known and no one would have thought that it was sad. Gone faster and more pointlessly than a mayfly. Because even if it does only live for a day, a mayfly leaves the next generation of mayflies to each live their precious one day when their time comes. And who knows how mayflies see time anyway? Maybe their day stretches ahead of them and seems impossibly long and full of possibilities, the end of that one day so distant from their now they can't imagine it until they hit middle age at noon or begin to feel old at dusk.
Dis 'n individuasieroman in uiterste, brutale omstandighede. Cat en Mouse het geen rolmodelle gehad nie en moes die lewe soos wat dit eens was en waarvan niks oorgebly het nie, uitpluis uit boeke. Hulle leer by mekaar:
Cat grinned, I remember, and said that's what growing up is, most likely. Just carrying the load of who you are and what you've done, and trying not to let the burden of all that drag you down as it mounts up.
Dis droewig, dapper en lieflik. Dis al boek wat ek dié besige week gelees het, maar dis 'n lywige roman van 388 bladsye in 'n klein font. Ek beveel dit hoog aan.
The Two of Us at the End of the World deur C.A. Fletcher is deur Orbit uitgegee en kos R324.41 by Amazon.


The End of the World
“We're going,” they said, “to the end of the world.”
So they stopped the car where the river curled,
And we scrambled down beneath the bridge
On the gravel track of a narrow ridge.
We tramped for miles on a wooded walk
Where dog-hobble grew on its twisted stalk.
Then we stopped to rest on the pine-needle floor
While two ospreys watched from an oak by the shore.
We came to a bend, where the river grew wide
And green mountains rose on the opposite side.
My guides moved back. I stood alone,
As the current streaked over smooth flat stone.
Shelf by stone shelf the river fell.
The white water goosetailed with eddying swell.
Faster and louder the current dropped
Till it reached a cliff, and the trail stopped.
I stood at the edge where the mist ascended,
My journey done where the world ended.
I looked downstream. There was nothing but sky,
The sound of the water, and the water’s reply.
Dana Gioia