Ondraaglike spanning

Read the article in English here.
Dis vakansie en ons is aan die kus. In die skadu, op die warm sand lees ek graag gitswart noirs om lekker af te steek teen die blink lug en blou see.
The Inmate deur Freida McFadden
As Freida 'n huishoudelike noir skryf, kan jy maar weet ek gaan dit lees. En sy skryf 'n paar per jaar. Ek neem dit amper per osmose in - dis so spannend dat die bladsye vanself omblaai. Hierdie vrou het 'n verbysterende aantal storielyne en karakters in haar kop.
Brooke Sullivan keer na die dood van haar ouers terug na haar tuisdorp, waar dinge nie mooi uitgewerk het vir haar toe sy sestien en swanger was nie. En toe sy teen haar skoolliefde, Shane. getuig het en hom laat opsluit het vir moord. Hulle seuntjie is nou tien jaar oud. Die enigste werk wat sy ('n opgeleide suster) kan kry is by die gevangenis. Dieselfde tronk waar Shane opgesluit is. Dit vermeld sy nie in die onderhoud nie.
Shane word verrinneweer in die tronk en sy moet vir hom steke insit. Sy is koel en professioneel, maar die steeds aantreklike en sjarmante man laat haar opeens twyfel aan die gebeure van destyds. Is hy manipulerend of onskuldig?
Sy en 'n vriendin het saam met nog 'n meisie en drie outjies partytjie gehou in Shane en sy ma se plaashuis - sy ma was uit. Die aand het bloedig geëindig, met poging tot moord op Brooke - iemand het haar van agter probeer verwurg. Sy het nooit sy gesig gesien nie, maar Shane se naskeermiddel geruik. Twee van die ander kinders is vermoor. Gelukkig was Brooke se buurseun Tim, 'n goeie kind wat van kleuterdae af verlief was op haar, daar om haar te red.
Nou begin sy weer kuier met Tim wat mooi groot en gespierd geword het en nog altyd verlief is op haar. Hy is redelik en bedagsaam en maak vriende met haar seun, wat op 'n haar na Shane lyk. Hulle begin 'n verhouding, maar in die tronk waarsku Shane haar dat Tim gevaarlik is en sy van hom moet wegbly. Wie kan sy glo?
Jy sal self moet lees wie 'n booswig is en wie betroubaar is. Daar is telkens terugflitse na daardie aand toe sy haar maagdelikheid verloor en swanger geword het en toe twee van haar klasmaats wreed vermoor is op 'n verlate plaas.
Die boek hou jou tot die laaste bladsy aan die raai.
The Inmate deur Freida McFadden is deur Poisoned Pen uitgegee en kos R295 by Graffiti.

My Husband's Wife deur Alice Feeney
Hier is ook 'n naelbyter wat jou aan die wonder hou. Eden Fox is 'n kunstenaar op die vooraand van haar eerste groot uitstalling. Sy gaan draf, oudergewoonte sonder selfoon of beursie, net met die huissleutel. Toe sy terugkom, pas haar sleutel nie in die deur nie. 'n Vreemde vrou wat nogal na haar lyk, maak die deur oop en hou vol dat sý Eden Fox is. Haar man, Harrisson, verskyn ook in die deur en herken haar glad nie. Hy raai haar aan om nie sy vrou te pla nie. Hulle bel die polisie en sy hardloop weg en skuil in die tuin van hulle mooi ou huis, Spyglass. Nagmerrie, nè?
Later loop sy, nog in haar drafklere en yskoud, verby die galery en sien die ander vrou open haar uitstalling met 'n trotse toesprakie. Sy en haar man het maar 'n paar dae gelede na die kusdorpie Hope Falls getrek en sy het nog niemand ontmoet nie, so almal aanvaar die ander Eden. Sy breek by haar huis in en al haar besittings is weg. Sy kry nie haar selfoon of beursie om haar identiteit te kan bewys nie. Wat voer haar man in die mou?
Die leser het uiteraard heelwat simpatie met die arme Eden, maar daar is nog 'n karakter wat die verbeelding aangryp: Olivia Bird of Birdy, aan wie se ouma die huis Spyglass behoort het. Sy woon in Londen en vind uit dat sy terminaal siek is. Sy is nie seker hoeveel tyd sy oorhet nie, en keer terug na Hope Falls. Waar pas sy in die prentjie?
Die leser krap kop en probeer die karakters se identiteite uitpluis. Daar is heelwat intriges en 'n einde wat jy nie sommer sal sien kom nie.
My Husband's Wife deur Alice Feeney is deur Pan MacMillan uitgegee en kos R395 by Exclusive Books.

Ek het die beste, die heel ondraaglik spannendste, vir laaste gehou:
The Last Word deur Taylor Adams
Ek dink hierdie is min of meer die spannendste boek wat ek nog ooit gelees het. Die nag het in 'n swart gat verdwyn terwyl ek freneties bly omblaai het. Ek het nie geweet dis moontlik om spanning so snaarstyf vol te hou van bladsy tot bladsy nie, regdeur die boek.
Ek dink Afrikaanse misdaadfiksie is soms oorlaai met karakters, sub-storielyne en newe-intriges, met tegniese besonderhede oor plofkoppe, kernwapens, internasionale sluikhandel en stropery. Hierdie roman is bedrieglik eenvoudig met min of meer drie karakters - die res verskyn net vlugtig. Emma pas iemand se huis op aan die kus van Washington. Dit reën gedurig en sy het net haar groot hond om haar geselskap te hou. Sedert sy 'n tragedie beleef en haar man weggeval het, lees sy soos 'n besetene. Sy verlang na hom en blameer haarself vir 'n ongeluk waarvan die leser nie die besonderhede weet tot laat in die boek nie.
Daar is nog 'n siel in die omtrek - 'n man in 'n huis oorkant hou haar met 'n teleskoop dop, en sy vir hom. Hy is ouer, 'n skrywer met 'n drankprobleem. Hulle gesels soms deur op witborde vir mekaar boodskappe te skryf en soms speel hulle hangman. Hy beveel 'n riller aan. Sy lees die boek en is so ontstoke dat sy aanlyn 'n vernietigende resensie skryf - dis die swakste boek wat sy ooit gelees het.
Die skrywer antwoord aanlyn en vra haar om die resensie te verwyder. Sy weier. Dan begin hy haar bekruip en dophou. Hy kry selfs toegang tot die huis wat sy oppas. Die ouer skrywer vertel haar wat haar bekruiper se regte naam is en sy vind uit dat hy onstabiel en gevaarlik is, geestesongesond.
Nou word dit 'n kat-en-muis-speletjie. Dit word gou duidelik dat die onstabiele skrywer se vorige gruromans glad nie fiksie was nie. Gelukkig is Emma briljant en uitgeslape en die buurman probeer haar van 'n afstand help.
Ek kan nie vir jou vertel hoe onneersitbaar hierdie boek is nie. Jy het senuwees van staal nodig. Natuurlik is daar etlike kinkels in die kabel aan die stertkant. Dis 'n briljante riller.
The Last Word deur Taylor Adams is deur Hodder & Stoughton uitgegee en kos R990 by Exclusive Books.


by die ruïnes van die walvisstasie
op die laaste strand voor antartika
maal golwe skulpgruis tot sand ek staan
in die ruïnes van 'n walvisstasie
waar noorkappers eens soos appels geskil is
hul olie getap hul vet met sense weggesny
hul vlees gekap tot 'n restant van been: kopbene
ingesout in die ewigheid van droomwit werwels
wat jy nog plek-plek in 'n duinevoet sal vind
tussen jaggeraamtes en knoetse skroot
prooi en slagter hier byeen en ewe dood
Tom Dreyer