Swerfjoernaal

Swerfjoernaal
Foto deur Pete Walls / Unsplash
ANGELA TUCK

Liewe vriende

Ek is met vakansie en vandeesweek skryf ek 'n regte werfjoernaal oor my ervarings ver van bed en studeerkamer. Moenie soek na samehang nie, dis los indrukke en flenters van gesprekke wat in my net beland het.

In die Suid-Kaap was dit droog, maar vandag reën dit. Nat, gekneusde fynbos en sout oseaan. Ons maak 'n groot kaggel in die familiestrandhuis. Ons was vir drie dae KKNK toe en soos altyd het dit soos die hiernamaals gevoel, waar 'n mens geesgenote raakloop wat jy dekades laas gesien het. Almal lyk nog presies dieselfde, of moontlik het my sig versleg en versag alles om my.

Elke vertoning wat ons bygewoon het was stampvol. Ja, dis meestal ouer mense. Ek wil nie hier resenseer nie, net indrukke deel. Ek was weer diep onder die indruk van Amanda Strydom se enorme, wêreldklas-talent. Sy het 'n nuwe kabaret geskryf, "Tillie/Mathilda", oor 'n jong en 'n ou prostituut. Miss Mandy is die ou prostituut vol deernis en houding, met 'n fyn humorsin en 'n guitige bek. Haar bene in visnetkouse spring nog steeds oor elke dimensie en haar stem en vertolking is eindeloos roerend. Sy is bygestaan deur 'n trae, beskimmelde jong hoerleerling, gespeel deur Je-Ani Swiegelaar, wat Marelize se ma gespeel het in My fok, Marelize en wat ook in Binnelanders was. Hulle het betowering geskep.

Ek het met 'n digter gesels, een van Afrikaans se talentvolste. Nee, nie op 'n verhoog nie, 'n privaatgesprek om 'n groot ronde tafel langs die burgersentrum. Hilda Smits lyk soos 'n langer, skraler Amelie of ten minste iemand uit 'n kunsfilm. Sy woon in Amerika, naby Philadelphia. Haar woorde val stamelend oor mekaar soos haar versreëls en ek het op die plek lus geword om iets te skryf, 'n boek of 'n ding, iets lank en dromerig.

Uiteindelik het ek "Ek is nie Danie" gesien, die stuk wat met soveel bekronings weggestap het. In hierdie verstommende verhooggebeurtenis wals die gehoor deur die stadia van Danie Marais se lewensreis en die nuanses van sy wit middelklas pyn. En twostep en rock. Die verstommend welsprekende Danie, wat deur sy eerste Duitse vrou teatraal, melodramaties, 'n drama queen en pateet genoem is, is 'n wroeger. En hoe oneindig lieflik wroeg hy nie. Hy spreek mense soos hy aan.
Sentimentele roofdiere, met onfotogeniese pyn wat hulle wit bevoorregting nie op ebay kan verkoop nie. Wat veilig voel in die suburbs met tuinmeubels wat blink in die maanlig en wat maar net wil klou waaraan almal klou.

Albert Pretorius en Schalk Joubert.

Albert Pretorius en Schalk Joubert lanseer Danie se teks en gedigte, waarvan ek 'n aanhanger is, na 'n volgende dimensie. Hulle is nie alleen nie. Aanwesig in hul afwesigheid is die digter, (hy is nie da’ nie) en die geïnspireerde regisseur, Nico Scheepers. Hulle weef voor ons oë goud uit wit skuld. Joubert beweeg hoeka soos 'n hiperaktiewe alchemis tussen basviool, baskitaar, mengbord en mikrofoon; verstel hier, kielie en kierang daar. Die twee akteurs verleen skop en ritme aan Marais se poësie wat hulle roerend visueel vergestalt, met Pretorius wat met sy lyf en die volle inset van sy wit middeljarige weerloosheid woeker. Hulle (en die regisseur) wissel die stemming voortdurend af en skep teaterbetowering deur middel van beligting en subtiele, veerligte klankmomente.

Ons het "Atropa, die wraak van vrede" gesien - Tom Lanoye se drama. Dit gaan oor die Trojaanse oorlog, oor koning Agamemnon en koningin Clytemnestra en die skone Helena. Dis 'n aanklag teen oorlog, die patriargie en die mag van die staat. Vroue en kinders is die slagoffers. Die rolverdeling is asemrowend: Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe, Tinarie van Wyk Loots, Rolanda Marais en die talentvolle jong Carla Smith, met Geon Nel as die magsjagse koning. Die spel is voortreflik, maar die akteurs dra nie mikrofone nie en van die woorde gaan verlore.

Met die teks het ek 'n probleem: As jou teks soveel woorde bevat, moet dit dawerende, vars en klinkende woorde wees wat die hoorder se wind uitslaan, soos Shakespeare en N.P. van Wyk Louw se woorde. Ek volg Tom Lanoye al sedert Kartonnen Dosen en het groot agting vir die slagterseun met die brilletjie. Ek het sy vorige dramas gesien: Niemand minder nie as Antjie Krog het "Mamma Medea" en "Koningin Lear" vertaal in gespierde, wiegende Afrikaans wat die sinne bekoor. Twee uur het soos 'n oogwink gevoel. Saartjie Botha het "Bloed en Rose" ook in lieflike, vibrante Afrikaans vertaal.

Om die een of ander rede het Lanoye besluit om "Atropa" self uit Vlaams na Afrikaans te vertaal. Ek weet hy is Afrikaans magtig, maar hoor my lied: Om na 'n taal te vertaal, moet daardie taal jou asem en lewensbloed wees, nie iets wat jy min of meer bemeester het nie. Die ritme was hipnoties, maar hy het woorde gebruik wat vals vriende is - wat nie in Afrikaans dieselfde betekenis of gevoelswaarde het as in Vlaams nie. Het jy al gehoor van "verbeusel''? Dit beteken sekerlik verkleineer, want 'n beuselagtigheid ken ons, maar dis nie Afrikaans nie. En vir een karakter om voor 'n ander te gaan staan en uit te roep: "Maai my af!" val ook vreemd en vals op die oor. Dan was die stuk ook hopeloos te lank. Die beleefde gehoor het geskuifel en gevroetel en meestal bly sit. Ja, die tema is sekerlik aktueel en relevant vir ons tyd en om soveel talent dop te hou is fassinerend, maar, eina, gaap.

Ons het ook Marion Holm se "Gryp elke grasHolm" gesien. Die vrou is altyd 'n verrukking wat ons laat lag en nadink. Altyd 'n positiewe noot in die donker psalm van die wêreldverhoog.

Oulap in die nag.

'n Hoogtepunt was 'n oulaas besoek aan Oulap, die klipkasteel wat oorlede Jans Rautenbach se vrou Almeri op 'n heuwel in die Swartberg gebou het. Ek het hulle 20 jaar gelede bevriend en Almeri is een van die slim, sterk vroue wat my gevorm het. Die woning is vol kuns, boeke en kleur, maar haar some rafel effens uit ná amper sestig jaar. Almeri is nog vol lewe, nuuskierigheid en ondeundheid. Oulap is so te sê verkoop.

Almeri Rautenbach.

Dit was my week vol verwondering. En nou gaan ek in die vuur sit en tuur met 'n glas rooiwyn in die vuis.

Liefde
Deborah

Ontbloot

Ek is in Maart gebore
'n vis
koponderstebo
uit my diepte
hang ek
bewegingloos
net onder die oppervlak
van die see
ontbloot
tussen die seewiere en koraalriwwe
van hierdie wêreld.

Marthe McLoud


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe