Om jou kastele te sloop

Liewe vriende
Jeanne Goosen het 'n uitdrukking gehad: "Om oor die klavier te kots." Dit gebeur soms met kinders wat klavieruitvoerings moet gee.

Die skryfbedryf in ons land is klein en onder beleg. Ek vind dit nie 'n troebel modderpoel soos sommige mense beweer nie. Meestal nie. Die skrywers wat ek ken is selfironiserend, beskeie, briljant en ruimhartig.
Die Hertzogprys is die goue graal van ons lettere. 'n Mens wil graag glo die paneel, wat bestaan uit lede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, is onkreukbaar. Die prys is geloofwaardig en besit gravitas. As jou naam op enige van die kortlyste beland, is dit 'n enorme eer.
Onlangs het een van ons digters, Jaco Barnard-Naudé – self 'n akademikus – sy naam onttrek van die kortlys waarvoor hy benoem is; die Eugène Marais-prys vir debuut en vroeë werk. Die rede het geblyk te wees die insluiting van Joan Hambidge op die kortlys vir die Hertzogprys en die weglating van Danie Marais.
Oor die weglating van Marais is ek ook jammer. Oor Hambidge se nominasie is ek verheug. Maar my mening is nie ter sprake nie. Ook nie Barnard-Naudé s'n nie.
Ek het van sy bundel gehou. Maar nadat hy ontplof het soos 'n gasbottel in 'n karavaan ('n skrywersvriendin se woorde) lê die woonwapark besaai met wrakstukke.
Soms voel 'n mens in die middel van die nag hewig ontsteld, verneder en persoonlik te na gekom. Gereed om beelde te bestorm en pilare om te stoot. Om brûe te verbrand en jou kastele te sloop tot ruïnes in die landskap.

Slaap daaroor. Môre lyk alles minder katastrofaal. Jy wil nie wakker word en onthou jy het jou mond en jou gemoed uitgespoel op sosiale media en merk dit het reeds soos 'n veldbrand versprei nie. Jy kan die plasing uitwis, maar die skade is berokken.
La Hambidge swyg soos dit iemand van haar statuur betaam. So ook Marais. Die adellike wegdraai van die gesig.
Vriende, ek het ook al klappe uitgedeel. Maar twee dinge glo ek: Moenie reageer op 'n negatiewe resensie nie en moenie 'n paneel se beslissing bevraagteken nie. Dit gaan jou nie baat nie. Die strontstorm wat jy ontketen, gaan meestal in jou eie gesig ontplof. Jou motiewe is onder verdenking.
Soos Paul McCartney se oorlede moeder Mary in 'n droom vir hom gesê het: "Laat dit gaan, laat dit gaan." Die gety sal daaroor spoel en môre lyk die strand anders.
En as jy die pilare van die tempel omstoot, gaan jy self verstik in die rommel en begrawe word in die puin.
Dis niks nuuts nie. In 1964 het Jean-Paul Sartre die Nobelprys vir Letterkunde van die hand gewys omdat hy, volgens hom, 'n skrywer wou bly en nie 'n instelling wou word nie.
Breyten Breytenbach het in 1984 die Hertzogprys van die hand gewys. As hewige kritikus van die destydse apartheidsregering het hy die Akademie beskou as deel van die establishment. Hy het dit wel in 1999 en 2008 aanvaar.
Intussen het Barnard-Naudé ons op sosiale media meegedeel dat hy, ter wille van versoening, sy onttrekking teruggetrek het, maar dat die Akademie laat weet het hulle volstaan met hul bevestiging van die onttrekking van sy nominasie.
Nou hoor ons elke dag nuwe redes vir die gebaar. Jean Oosthuizen verduidelik op LitNet: 'Hy sê hy kan hom nie eties en polities vereenselwig met die demografiese verskille tussen die nominasies vir hierdie prys en dié vir die Hertzogprys nie. Volgens hom word “bruin” en “queer” digters “wat die Eugène Marais se nominasies domineer” dikwels implisiet in ’n sekere rol geplaas, terwyl die Hertzogprys steeds oorwegend deur wit, heteroseksuele stemme oorheers word.'
Snaaks genoeg is Hambidge, die grootste doring in Barnard-Naudé se vlees, nié heteroseksueel nie en Marais, wat hy op die kortlys wou sien, nie bruin of queer nie. Verwarrend.
Op 'n ligter, mooier noot die volgende: Ek het pas geleer die Japannese term vir seeperdjie is Tatsu no Otoshigo, wat beteken: "draak se buite-egtelike kind".

Vriende, bly kalm en haal diep asem. Drink 'n glas warm melk, eet 'n paar Hertzoggies en omhels jou kussingsloop.
Wie gaan die klavier skoonmaak?
Liefde
Deborah

Welkom in my kasteel
Welkom in my kasteel. Jy lyk verbaas;
die mure brei uit, trek hulself weer in.
Jy raak aan klip, tas aan die begin
en einde van tyd wat déúr my vensters blaas.
Wat bly oor? Jy kyk terug.
Slegs die eggo van die eggo van 'n sug.
Trek die gordyne van jou oë oop
en sien my landgoed se grense in die lug.
Water ruis onder en deur my valbrug
na seë wat alle vastelande sloop.
Wat bly oor? Ek kyk terug.
Slegs die eggo van die eggo van 'n sug.
Jy voel vreemd; kom nader, kyk rond.
Uit jou drome ken jy reeds dié prent,
en waarop my kasteel se fondament
ook al gebou is, dit bly steeds grond.
Wat bly oor? Ons kyk terug.
Slegs die eggo van die eggo van 'n sug.
H.J. Pieterse