Gebrokenes en katte

Gebrokenes en katte
Photo by Steve Busch / Unsplash
ANGELA TUCK

The Broken Ones deur Ren Richards

Daar is noir en noir. Dikwels is boeke in hierdie genre heel boeiend maar resepmatig en daarop uit om die leser om die bos te lei. Oorgeprakseer. Dan is daar romans soos hierdie, wat tegelyk menslike drama en sielkundige riller is. Dit hou jou aan die raai, maar werp ook lig op gebroke karakters. Die storielyn span styf, maar dis die karakters wat jou aan die lees hou.

Soos Nell. Sy is 'n suksesvolle skrywer van waremisdaadboeke, niefiksie. Sy doen navorsing en werp altyd nuwe lig op 'n saak wat die media al holrug gery het. Sy is pas klaar met 'n boek oor 'n ma wat haar agt kinders in die bad verdrink het en nou is haar visier op 'n vrou wat haar tweelingsuster vermoor het. Die susters is Russies en in Amerika aangeneem. Hulle was Siamees, aan die arms en heupe verbind, maar is in Amerika geskei. Easter is menssku en agorafobies. Autumn was uitgaande en avontuurlustig. Easter het Autumn na bewering vermoor en vir 'n jaar haar identiteit aangeneem. Nou sit sy in die tronk en Nell vermoed die storie het meer om die lyf.

Nell het haar eie hartseer geskiedenis. Haar ma is in die tronk nadat sy haar man, Nell se pa, geskiet het. Hy het dit oorleef en aan die drink gegaan. Nell en haar sussie Lindsay het in die sisteem beland, van een pleegsorg na die ander. Op 14 het sy swanger geraak by 'n 17-jarige seun. Sy wou die kind hou. Haar dogtertjie, Raine, was van geboorte af skynbaar psigopaties en 'n uiterse probleemkind. Nell, toe nog Penelope, het by die seun en sy welgestelde ouers gewoon met die baba. Toe Raine vier was, het sy uit 'n winkelsentrum verdwyn en is nooit weer gevind nie. Penelope is onskuldig bevind deur 'n jurie en het na 'n ander staat verhuis en haar naam en van verander.

Nou is sy Nell en in 'n gelukkige verhouding met Sebastian, wat niks weet van haar geskiedenis nie. Sy is steeds na aan haar suster, wat ook verhuis het. Maar sedert sy die Russiese tweeling se saak begin ondersoek het, gebeur gruwelike en lewensbedreigende dinge met haar en haar suster. Iemand weet van haar verlede en dreig om haar identiteit te onthul.

Soos die Russiese tweeling is die susters Nell en Lindsay ook gebroke, soos die titel suggereer. Dis 'n studie in gebrokenheid en moed. Die leser begin vermoed daar skuil ook veel meer agter Raine se verdwyning as wat Nell ooit verklap het.

Die boek is al ses jaar oud, maar het nou eers my oog gevang op Bargain Books se uitverkopingrak.

Hoofstukke is afwisselend in die hede en die verlede soos al twee verhale ontplooi. Dis 'n deur-die-nag-lees. Die leser belê heelwat in die karakters. Dis donker, atmosferies en aangrypend, met 'n einde wat bybly. Ek beveel dit hoog aan.

The Broken Ones deur Ren Richards is deur Viper uitgegee en kos R295 by Takealot.

Messenger Cat Café deur Nagi Shimeno

Hierdie boek is uit Japannees vertaal deur M. Jean. Dis 'n internasionale blitsverkoper en ek is nie heeltemal seker waarom nie. Enigiets wat met diere te doen het en te knus is, laat my ongemaklik, al is ek gek oor diere. Soos Remarkably Bright Creatures, waaroor almal swymel.

Die roman is so netjies en eenvoudig soos 'n Zen-tuintjie. Fuuta is 'n gemmerkat wat 'n lang en gelukkige lewe by 'n liefdevolle huisgesin gehad het. Nou is hy oor die reënboogbrug, soos mense op Facebook sê. In die hiernamaals kan katte steeds na die vorige dimensie terugkeer om hulle mense te sien, maar eers ná maande en heelwat opdragte wat suksesvol uitgevoer is.

Fuuta beland by die Messenger Café, waar katte slegs na-ure mag ingaan. Die eienaar, Njiko, reël 'ontmoetings' tussen haar klante en hulle afgestorwe geliefdes. Hiervoor gebruik sy boodskapperkatte, wat maklik tussen dimensies kan glip. Die katte kan die gestorwe geliefde nie terugbring nie, maar kan boodskappe van hulle oordra. Hulle moet fyn ingestel en intuïtief wees en moet iets van die afgestorwene se essensie met hulle saamneem, sodat die lewende kan weet dis werklik 'n boodskap van die oorledene. Die katte stoor die essensie in hulle sterte en dra dit oor deur hul stert teen iemand te skuur, wat die boodskap dan oordra. Die lewende ervaar vrede en berusting.

Fuuta is tipies kat: nie lief vir instruksies gehoorsaam nie, met sy eie agenda. Maar hy wil weer sy mense sien. Met die goeie selfbeeld eie aan 'n kat besef hy dat hy goed is in hierdie werk. Sy eerste paar ontmoetings verloop seepglad. Maar alle opdragte is nie ewe eenvoudig nie en êrens gaan hy teëspoed optel.

Fuuta bly darem 'n kat, al kan hy praat:

It wasn't because I'd taken a personal interest in people's happiness, exactly. It wasn't even because I enjoyed the gratitude I received for helping others come together. It was simply because the treats Njiko gave to me, and having a warm fireplace near which to sleep, gave me bliss.
That was all there was to it.

Hier is niks van die kompleksiteit van my gunsteling Japannese skrywer, Haruki Murakami nie. Alles is duidelik en netjies. Dit het my nie aangegryp soos Paul Gallico se Thomasina of Jennie nie. Dis oulik en herinner my aan 'n kinderboek en ek is nie seker waarom ek emosioneel daarin moet belê nie. Maar dis net ek.

Messenger Cat Café deur Nagi Shimeno is deur Penguin Random House UK uitgegee en kos R356 by Graffiti.

The Naming of Cats

The Naming of Cats is a difficult matter,
     It isn’t just one of your holiday games;
You may think at first I’m as mad as a hatter
When I tell you, a cat must have THREE DIFFERENT NAMES.
First of all, there’s the name that the family use daily,
     Such as Peter, Augustus, Alonzo, or James,
Such as Victor or Jonathan, George or Bill Bailey—
     All of them sensible everyday names.
There are fancier names if you think they sound sweeter,
     Some for the gentlemen, some for the dames:
Such as Plato, Admetus, Electra, Demeter—
     But all of them sensible everyday names,
But I tell you, a cat needs a name that’s particular,
     A name that’s peculiar, and more dignified,
Else how can he keep up his tail perpendicular,
     Or spread out his whiskers, or cherish his pride?
Of names of this kind, I can give you a quorum,
     Such as Munkustrap, Quaxo, or Coricopat,
Such as Bombalurina, or else Jellylorum—
     Names that never belong to more than one cat.
But above and beyond there’s still one name left over,
     And that is the name that you never will guess;
The name that no human research can discover—
     But THE CAT HIMSELF KNOWS, and will never confess.
When you notice a cat in profound meditation,
     The reason, I tell you, is always the same:
His mind is engaged in a rapt contemplation
     Of the thought, of the thought, of the thought of his name:
          His ineffable effable
          Effanineffable
Deep and inscrutable singular name.

T. S. Eliot


Subscribe to DeborahWoorde

Don’t miss out on the latest issues. Sign up now to get access to the library of members-only issues.
jamie@example.com
Subscribe