Die kruks van klim

Read the article in English here.
Crux deur Gabriel Tallent
In bergklim beteken "kruks" die moeilikste deel van die klim. Die kruks van die saak. Dis die uiters talentvolle Gabriel Tallent se tweede roman. Die eerste, My Absolute Darling, het heelwat aandag getrek.
Ek het nie gedink dat ek 'n roman oor tieners wat bergklim sou geniet nie. Ek was nie van plan om heeltemal halsoorkop verlief te raak op die roman nie. Dis nie 'n jeugverhaal nie. Dis boordensvol elke menslike en aardse kompleksiteit. Dit slaan jou teen die kant van die kop en steel jou hart.
Die karakters is onvergeetlik. Daar is Tamma (vernoem na Tamarisk, 'n struik wat langs die pad groei.) Sy is sewentien en lyk agt: klein, tingerig en onaansienlik, met wilde hare, bak ore, aknee en twee linkervoete. Sy praat te hard en te veel, is slim en vol opinies. Sy woon in 'n karavaan saam met haar eens beeldskone ma en dié se loser-boyfriend. Sy het net een vriend, Dan. Dan is aantreklik en cool en sy ouers woon in 'n regte huis. Maar sy ma, 'n skrywer, het in 'n jarelange depressie verval. Sy kan meestal nie uit die bed opstaan nie.
Daar is heelwat liefde en rowwe kameraderie tussen Dan en Tamma, maar Tamma is gay. Hulle deel 'n passie: rotsklim. Hulle woon langs die Joshua Tree Nasionale Park en wanneer hulle ook al kans kry, klim hulle 'n haas onmoontlike rots uit, Fingerbang Princess. Hulle het nie geld vir toue en beskermingstoerusting nie. Hulle het ou, uitgetrapte skoene en heelwat vernuf. Dan dink by homself dat Tamma op aarde die lompste meisie is wat hy ken, maar tussen die kranse is sy 'n ballerina. Hulle val gereeld, vang mekaar of breek mekaar se val.
Die kinders se gesprekke het my aanvanklik effens dronkgeslaan. Hulle is albei briljant en eksentriek en gebruik uitdrukkings wat ek nie ken nie: "You dickhole! You can't go ker-splatting yourself. All we gotta do is make it through this year. It's one school year that stands between us and a life of freedom and sendage and seeing Alex Pucchio at the crag and asking for her number and getting shut down, but gloriously shut down. So don't joke about that: because you don't get to die. I won't let you."
Dis moeilik om te beskryf hoe 'n uitmuntende skrywer soos Tallent kranse en pieke kan laat leef. Die leser hou asem op:
She began drawing her right foot up to the hold, hooking her leg around the back of her arm, aiming to share space with her fingertips in a hand-foot match. She was trembling all over, canting her hips, engaging every muscle. Then her left foot greased out from beneath her and she came cheesegrating down the slab, and at the last moment her foot snagged an edge and she flipped over backward. Dan reached up to catch her and she came on toward him headfirst, her hands extended in a backward somersault. She put her thumb into his eye and he twisted away with her thumb pad catching in the socket, bringing his chin down and reaching to catch her nonetheless, and she squirted out of his grasp and took a header in the dirt.
Behalwe die kranse is die kinders se lewens vol uitdagings. Tamma se ouer suster se man raak aan die slaap met die baba, hulle derde, op sy skoot. Die baba val en beseer sy kop. Haar suster moet as verpleegster twaalf-uur skofte werk en die man het eenvoudig verdwyn - hy kon nie hanteer wat gebeur het nie. Dus moet Tamma snags die kleintjies versorg, bedags skoolgaan en na skool bergklim, al wat vir haar saakmaak.
Hulle het drome om eendag professioneel te klim en saam al die groot pieke van die wêreld aan te durf, maar hulle lewens verkrummel daagliks om hulle voete.
Dis aangrypend, snaaks en spannend. Ek het so lekker gelees.
Crux deur Gabriel Tallent is deur Penguin uitgegee en kos R420 by Exclusive Books.

The Courtship Gift deur Julie Parsons
Wat lees 'n mens na 'n treffer soos Crux? Alles lyk flou. In die strandhuis tel ek 'n stokou boek op wat iemand vir R5 by 'n tweedehandsewinkel aangeskaf het - dis in 1999 uitgegee. Daar is nie juis sprake van selfone en e-posse in die roman nie. Dis 'n goeie outydse sielkundige riller wat jou vasgryp en nie laat los nie.
Die leser leer heel eerste vir Michael ken. Dis gou duidelik dat Michael nie lekker is nie. Hy leef in sy kop en bekruip vroue. Wee die vrou wat sy oog vang. In hierdie geval is dit Anna, arme Anna. Sy is getroud met David wat veel ouer as sy is en eintlik haar tante se vriend (en geliefde) was. Sy was nog op skool toe sy sy oog vang (arme Anna word nogal raakgesien, want sy is lank, slank en mooi). David het haar oorrompel met aandag en hulle is later getroud. Hulle het in sy huis gewoon en sy het na sy pype gedans. In die huis het sy hom dood aangetref: doodgesteek deur bye - hy was allergies. Daar was ook 'n koevert met 'n dosie bye, waaronder die koningin, wat by hom afgelewer is.
Dit was natuurlik Michael, wat haar al lank dophou. Hy beskou dit as 'n hofmaakgeskenk, soos presente wat insekte vir wyfies gee as hulle wil paar. Dit word gou duidelik dat David, wat rojaal geleef het, NET skuld agtergelaat het en ook glad nie getrou aan Anna was nie. Sy moet die huis verkoop en is sonder heenkome.
Gelukkig, of eintlik ongelukkig, kom 'n nuwe kennis, Michael, tot haar redding. O wee. Wat verder gebeur, moet jy self lees, as jy die boek nog in die hande kan kry. Dis klassieke huishoudelik noir voordat dit nog 'n gonswoord geword het. Ek beveel dit aan vir 'n strandhuis of 'n herfsaand.
The Courtship Gift deur Julie Parsons is deur Simon & Schuster uitgegee en kos R211 by Amazon.


liefde in die arkade
"everything not saved will be lost"
- nintendo-uittreeskerm
nou leun jy oor die gloeiende kabinet
jou skouer rakelings teen myne
vinger talmend bo 'n knoppie
nou flits die woorde 1 coin 1 play
oor die skerm van ons albei se gesigte
anderkant die ok
anderkant die polio-meisie se veselglas
in hierdie woud van skerms
waar alles fluoresseer
is jou gesig 'n sproei van piksels
jy’s ’n prins-prinses tussen kwartskristalle
duikrollend deur ’n persiese nag
een salto voor die hashashin
dertien en onsterflik
In jou lyf die flikkervlam
dra jy die gloed van xerxes met jou saam
en jou blieps tref my verrukliker as woorde
Tom Dreyer
Uit: Brief op veertigduisend voet